Tshwane-beamptes aangeval wat onwettige waterverbindings afsny

Beamptes van die Tshwane-metro is aangeval toe hulle onwettige waterverbindings by die Mabopane-reservoir afgesny het. (Foto: Verskaf / Tshwane-metro)

Beamptes van die Tshwane-metro se water- en sanitasiedepartement is Donderdag aangeval toe hulle onwettige waterverbindings by die Mabopane-reservoir noord van die stad afgesny het.

Selby Bokaba, woordvoerder van die metro, sê die amptenare is geruime tyd as gyselaars gehou en met geweld gedreig. Woedende inwoners met onwettige verbindings by dié reservoir het die ingang van die reservoir met klippe versper sodat amptenare wat verbindings afgesny het, nie kon uitkom nie.

“Die amptenare, wat deur ’n span van die Tshwane-metropolisie vergesel is, het ongedeerd van die toneel gevlug nadat hulp van die polisie ingeroep is.”

Bokaba sê die afsny van onwettige verbindings by die Mabopane-reservoir gisteroggend vorm deel van die stad se pogings om dié verskynsel te pak.

Beamptes van die Tshwane-metro is aangeval toe hulle onwettige waterverbindings by die Mabopane-reservoir afgesny het. (Foto: Verskaf / Tshwane-metro)

“Hierdie onwettige verbindings het ’n beduidende invloed op watertoevoeronderbrekings in hoogliggende gebiede in Mabopane.

“Betalende inwoners moes onderbrekings in watertoevoer verduur weens die onwettige en misdadige optrede van nie-betalende inwoners wat in die omgewing van die reservoir woon.

Beamptes van die Tshwane-metro is aangeval toe hulle onwettige waterverbindings by die Mabopane-reservoir afgesny het. (Foto: Verskaf / Tshwane-metro)

“Hierdie aksies belemmer nie net die integriteit van die watertoevoerstelsel nie, maar ontneem ook wettige en lojale klante van hul regmatige toegang tot water.

“Waterdiefstal en onwettige verbindings bedreig die volhoubaarheid van die watervoorsieninginfrastruktuur. Die metro doen ’n beroep op alle inwoners om hulle van dié misdrywe te weerhou,” sê Bokaba.

Die metro sê voorts hy bly daartoe verbind om water ononderbroke aan inwoners te voorsien.

“Pogings word deurlopend aangewend om die waterinfrastruktuur te versterk, terwyl moniteringstelsels verbeter word om toekomstige voorvalle van waterdiefstal en onwettige verbindings te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.