Tshwane-begroting toe wel goedgekeur  

Randall Williams (Foto: DA)

Die Tshwane-metro se aansuiweringsbegroting is Maandag wel goedgekeur nadat ActionSA aanvanklik gesê het hy gaan daarteen stem.

Die DA het ʼn beroep op sy koalisievennoot in die metro gedoen om sy besluit “in die belang van dienslewering” te heroorweeg en die begroting is uiteindelik goedgekeur.

Volgens ActionSA het hy besluit om die begroting te ondersteun nadat verskeie “belangrike toegewings” op die ou einde gemaak is.

Randall Williams, burgemeester van Tshwane, het gesê die begrotingsaansuiweringsproses het die metro die geleentheid gebied om sleutelhersienings aan die goedgekeurde oorspronklike begroting te maak.

Die aanpassingsbegroting is onder meer nodig om onvoorsiene en onvermydelike uitgawes te magtig, enige tekorte op die inkomste uit diensheffings aan te pak en oorbesteding hok te slaan.

“Hierdie aansuiweringsbegroting demonstreer ons veelparty-administrasie se verbintenis om dienslewering te versnel ten spyte van die munisipaliteit se finansiële posisie.”

Volgens Williams het die aansuiweringsbegroting voorsiening gemaak vir ʼn bykomende verwagte R250 miljoen in inkomste-projeksies, hoewel dit waarskynlik aansienlik sal toeneem danksy die metro se inkomste-invorderingsaksies.

“Ons het ook bykomende besparings van R150 miljoen aangegaan deur talle kostebesnoeiingsinisiatiewe, aangesien ons besteding aan onnodige toerustingverhuring verminder het, en besnoei het op geleenthede, onnodige fooie en verskeie nie-noodsaaklike items.

“Al hierdie besparings is daarop gemik om kerndienslewering te prioritiseer sodat ons die instandhouding van kritieke water- en elektrisiteitsinfrastruktuur kan versnel, slaggate kan vul, straatligte kan herstel en omvattende stedelike bestuur kan verskaf.”

Michael Beaumont, nasionale woordvoerder van ActionSA, het gesê van die aanpassings wat gemaak is, sluit onder meer ʼn verdere R20 miljoen vir die verskaffing van water en sanitasie aan informele nedersettings in. Daar is ook aanpassings gemaak om die begroting vir die hervestiging van informele nedersettings te vergroot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Spaar geld om op ander plekke te vermors.

Die hervestiging van informele nedersettings is nou die uitdeel van huise vir die wat van oral, selfs naburige afrika lande insypel en hul sinkhuisies opslaan. Omdat die regering nie invloei beheer toepas nie sal die probleem nooit opgelos word nie en dit is weereens vir die sak van die platsak belasting betaler.

Pietertjie ·

Ek wonder wát PRESIES daardie toegewings was… Sal ons ooit weet wat agter die skerms aangaan?

Jr ·

Storie van SA. Paying ratepayers being held to ransom by non paying ratepayers met meeste van die betaalende ratepayers se geld wat na die nie betaalendes se dienste gaan.

Kokerboom ·

Mnr Williams speel ASB oop kaarte met Pretoria belastingbetalers. Geld word swaar verdien en eerlikheid is ‘n vereiste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.