Tshwane: Belastingbetalers dok steeds op vir ampswoning

Die voormalige ampswoning van die Tshwane-burgemeesters wat glo steeds deur belastingbetalings finansier word. (Foto: Verskaf)

Die persoon wat die Tshwane-burgemeestersampswoning in 2017 vir R5,1 miljoen op ʼn veiling gekoop het, het skynbaar vergeet om die diensterekening na sy naam oor te dra en dit lyk asof niemand in die munisipaliteit dit agtergekom het nie.

Die stad se belastingbetalers betaal steeds die erfbelasting en water wat deur die munisipaliteit uit ʼn interdepartementele rekening betaal word asof die eiendom steeds aan die Tshwane Metro behoort.

Die totale rekening beloop maandeliks sowat R10 000 en daar is geen deposito betaal nie. Die eiendomsbelasting word steeds bereken teen ʼn vorige waardasie van R3,8 miljoen en ʼn bedrag van slegs R6,45 word maandeliks vir elektrisiteit gehef.

Die destydse DA-burgemeester, Solly Msimanga, het kort nadat die party die administrasie van Tshwane in 2016 oorgeneem het, aangekondig dat die ampswoning in Muckleneuk verkoop gaan word en dat die opbrengs vir die bou van huise vir die stad se armes gebruik gaan word.

David Mabilu. (Foto: Facebook)

Die nuwe eienaar wou anoniem bly, maar dokumente in Maroela Media se besit wys dat die herehuis by St. Patrickweg 135, in 2018 oorgedra is na DMFT Property Developers (Pty) Ltd.

DMFT Property Developers se enigste direkteur is die eiendomsmagnaat David Mabilu. Hy is waarskynlik beter bekend is vir sy uitspattige troue in Mauritius in 2011 waar die EFF-leier, Julius Malema, een van die gaste was.  Die troue het na bewering sowat R15 miljoen gekos.

Mabilu het sy miljoene gemaak deur in Limpopo grond by een regeringsdepartement te koop en dit later weer aan ʼn ander departement te verkoop. Mail & Guardian het voorheen berig dat amptenare ander pad gekyk het terwyl die belastingbetaler moes opdok. Mabilu het die bewerings as lasterlik bestempel.

Mabilu is al as Julius Malema se “sugar daddy” deur die media beskryf en een van sy vele maatskappye, Vharanani Properties, het na bewering by meer as een geleentheid groot bedrae geld in die rekening van Malema se Ratanang Family Trust inbetaal. Dit is in 2011 deur City Press ontbloot.

Die Ratanang Trust was ʼn mede-aandeelhouer in On-Point Engineering teen wie kriminele klagtes onlangs heringestel is.

Mabilu was na bewering ook betrokke by die VBS-bank en ʼn waterprojek in Limpopo wat aanvanklik R502 miljoen sou kos, maar waarvan die koste uiteindelik tot soveel as R2,7 miljard gestyg het. Die projek is nooit voltooi nie.

Een van sy maatskappye, Fundudzi Media, het velede jaar die eienaarskap van Sunday World oorgeneem.

Mare-Lise Fourie. (Foto: Tshwane.gov)

Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir finansies, Mare-Lise Fourie, het bevestig dat die oordrag van die eiendom nog nie in die databasis van die stad reflekteer nie en dat die eienaar ook tot op hede nie ʼn diensooreenkoms met die munisipaliteit gesluit het nie.

Sy het aan Maroela Media gesê die administrasie is nou besig om die nodige regstellings te doen en dat dit terugwerkend tot op die datum van oordrag sal wees.

Maroela Media het DMFT Property Developers deur middel van Malibu se maatskappye, Vharanani Properties, in Johannesburg opgespoor.

Die maatskappy se Seipati Tlaka het bevestig dat die eiendom sedert die veiling onbewoon is en dat DMFT nie van die onbetaalde dienste bewus was nie. Tlaka sê DMFT is nou met die Tshwane Metro Munisipaliteit in gesprek om die saak te ondersoek waarna die maatskappy ʼn uitgebreide verklaring sal uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Koos ·

Hoe langer dit onder die DA aangaan, hoe meer dinge kom uit.
Wie weet van enige verbetering onder die DA in vergelyking met die ANC?

Adrian ·

Vergeet om dit te verander TWAK wie in die stadsraad is betaal om anderkant te kyk

Johann cb ·

Die oordragprokureurs moes na alle aspekte van die transaksie omsien!

Freek ·

Die prokureur hanteer die transport.
Ná registrasie stel hy die Plaaslike Owerheid in kennis van die registrasie, verreken aan die Verkoper en Koper. Tensy hy dienooreenkomstig opdrag kry om “polisieman te speel” met die oorname van verbruikersrekeninge, is die prokureur se mandaat van die Verkoper dan afgehandel, en moet hy net by ontvangs van die nuwe Transportakte dit aan die nuwe eienaar (Koper) oorhandig.

In hierdie geval was die Verkoper die Plaaslike Owerheid en is daar geen wyse waarop die oordragprokureur beskuldig kan word nie.

Mans ·

Dit is baie moeilik om te besluit wie is die swakste stadsraad. Die anc of da. Strate is Pretoria besig om baie te versleg onder die da. Vandag Montana hospitaal toe gery en jy kan nie met gewone voertuig op die pad ry so sleg is dit.

Loeloe ·

Onthou net dat die DA sekerlik nie geld druk nie, so as hul n bankrot munsipaliteit geerf het, gaan dit jare neem om te herstel.

Marius ·

Dienste word nie behoorlik gelewer nie omdat die voetsool amptenare almal ANC/EFF is. Wanneer hul moet werk sloer hulle of doen hulle dit nie om hul DA hoofde/bestuur sleg te laat lyk. Indien optrede teen hulle ingestel word spring die vakbond unies in en beskerm hulle.

Darren ·

Nee, swak verskoning. Viir die verkiesing het die DA belowe, nee formeel onderneem dat hulle ‘n “plan” het wat SAL werk, waar is die plan nou? Hulle het mos geweet waar die “voetsool” lojaliteite lê?

Koos ·

Na 3 jaar is die verskoning uit geboer. Wie het die burgermeesters raadslede en stadsbestuur aan gestel of was hulle ook al daar voor die DA? Verder is daar ‘n arbeidswet en regulasies wat kan gebruik word om dienslewering af te dwing. Nee wat dis beroerd. Gister is my asblik nie leeg gemaak nie en ek word gehef daarvoor en, o ja, ek praat nie eers van die waterlek van 3 maande voor my huis nie, ek is al moeg om dit te rapporteer!

Martin ·

Jaaaaa DA!!! Mooi so DA. Slaggate. Verkeersligte buite werking. Straatligte buite werking. Mooi so DA

Tinus ·

Ek glo daar is baie sulke rekeninge asook aan die ander kant , verbruikers wat ingeloop word met foutiewe rekeninge Tshwane se rekening stelsel is in n patetiese toestand.

Deon ·

Ek het ook dieselfde ondervinding. Werkende kragmeter is vervang sonder om huiseienaar te waarsku. ‘n Finale geskatte meterlesing word sewe maande later op die rekening vasgelê, veel meer as die ware lesing, sonder dat ‘n foto geneem is. Dertien maande later word nog addisionele energieheffings gehef vir die ou meter, sonder enige verduidelikings. Die nuwe kragmeter se geskatte lesings word wel later aangepas, maar geen krediete verskyn op die rekening nie. Niemand wil help nie. Klantediens dien niks, ook nie Dispute nie. E-pos boodskappe aan die metro word na talle mense aangestuur, maar niemand doen iets nie. Die DA polici is pateties. Daar is geen beheer oor amptenare nie. Dis beter om die stad te verlaat. Vir die wat na Pretotia wil verhuis: Bly weg!!!!

Trol ·

Hoe koop n eiendoms magnaat m huis en weet nie hy moet oordrag neem nie? Kla hom aan van bedrog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.