Tshwane-betaalmetersaak: ‘Uitspraak oorwinning vir belastingbetalers’

hof-hamer

Argieffoto

Die vyf jaar lange hofstryd om die Tshwane Metroraad se omstrede voorafbetaalde kragmeterkontrak ter syde gestel te kry, het Dinsdag op ʼn hofoorwinning én ʼn kostebevel in die guns van Sakeliga (voorheen AfriSake) in die Noord-Gautengse hoë hof uitgeloop.

Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by Sakeliga, het gesê ʼn volbank regters van dié hof het op 13 Oktober verlede jaar beslis dat die kontrak tussen die Stad Tshwane en PEU Capital Partners (PEU) onreëlmatig en ongrondwetlik is en dat die gevolge daarvan nietig is.

“Deur hierdie uitspraak kon Sakeliga daarin slaag om ʼn betaling van die stad ten bedrae van meer as R950 miljoen aan PEU te verhoed. Die bevel is egter opgeskort hangende ʼn proses om ʼn billike remedie te vind ten einde die kontrak en meters wat reeds geïnstalleer is uitgefaseer te kry,” het Greyling gesê.

Die stad het vier maande om sy eie meters te installeer en kan ook self kies wanneer dié vier maande moet afskop.

Greyling meen tot dusver het die aangeleentheid gesloer en die partye kon nie op ʼn informele basis ʼn oplossing vind om die kontrak te beëindig nie.

“Hoewel die Tshwane Metroraad ná die oorname van die DA-geleide koalisie Sakeliga se aansoek ondersteun het, sukkel die metroraad skynbaar om die beëindiging van die kontrak ʼn realiteit te maak.”

ʼn Skikkingsooreenkoms is tydens vandag se verrigtinge ʼn bevel van die hof gemaak en ʼn kostebevel is aan Sakeliga toegeken.

“Die beginsels wat uit hierdie saak spruit, is dat sakelui geregtig is op billike prosesse wanneer tenders oorweeg word. Wanneer tenderprosesse vir transaksies met plaaslike regeringsinstellings omseil word ten koste van sakelui wat eerbaar om tenders wil meeding, verhoog dit die koste van die dienste wat die plaaslike regering moet lewer. In hierdie geval het die veroordeelde kontrak die Tshwane Metroraad se belastingbetalers nagenoeg R5 miljoen per dag gekos,” het Greyling gesê.

Intussen het Samkelo Mgobozi, woordvoerder van Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, in ʼn verklaring gesê Dinsdag se uitspraak is ’n oorwinning vir belastingbetalers en die Msimanga-administrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johanna Botha ·

Nog n anc gemors waarmee hulle die DA agtergelaat het …nou kan die DA die strate begin vee en takke voor padtekens begin wegsny en omgeryde tekens begin vervang en regop sit ….die algehele verval is oral te sien!

Posduif ·

Johanna, ek sal nie my eiers in die DA mandjie gooi as ek jy is nie. Maar dit is net my opinion.

Hannetjie ·

Die vraag is net..wanneer gaan daar nou begin word om dan die meters te verwyder sodat die Stad Tswane sy eie meters kan installeer.dit kan jarre vat

riaan ·

Jy is baie optimities Johanna!

Nie te lank gelede het msimange bebrag hoeveel oorskot Tshwane het, maar die geld word nie aangewend vie die goed wat jy noem nie (om nie te praat van slaggate, sinkgate, ens, ens,). Hoekom nie? Want msimanga wne die geld in oorwegend swart gebiede aan om stemme te koop!!

Die da in tshwane is pateties!

Niel Mare ·

Ons is verheug en baie dankbaar . Sal graag wil weet hoe die verandering skole gaan raak . Fedsas poog al lank om kostes vir skole meer bekostigbaar te maak .

Allan ·

En wanneer gaan die geld terugbetaal word en die skuldiges aangekla word?
Laat ek raai?

JoeV ·

Die dag wat die ANC verandwoordelik gehou word vir hulle verkwisting, daardie dag sal geregtigheid geskied, Al wat hulle nou doen is van WEER belasting betalers se geld om die gemors reg te stel!!!

Oorstelp ·

Wie is die oorwinnaars in die saak?
DA of Afrisake. Klink vir my asof die DA niks te doen het met die hofsaak nie. Afrisake het dit gedryf. Tipies DA nou vat hulle die erkenning.

Brett ·

Die DA is so skelm soos die houtjie van die galg! In Johannesburg is die 27 jaar oue Kent watermeters besig om amok te maak – hulle word gewaarborg vir ‘n jaar deur die vervaardiger, en die lewensverwagting is veronderstel om 10 jaar te wees.

Volgens artikel 95 van die Wet op Munisipale Stelsels is die Raad verplig om redelike stappe te neem om te verseker dat meters akkuraat en verifieerbaar is as hulle van meters gebruik maak vir die betaal van dienste. Wie op dees aarde dink die gebruik van 27-jaar-oue watermeters wat gemaak is om 10 jaar te hou is redelik? Hoe is dit dat ek dit weet, maar die DA se Raadslede nie?
Donderdag loop ek ‘n ou tannie raak in Discovery – sy vertel my hulle het in September ‘n rekening vir R80 000 se water verbruik gekry! Verlede jaar het haar suster my ‘n soortgelyke storie vertel, en haar suster het ‘n boorgat.
My niggie vertel my Saterdag hulle het ‘n rekening vir meer as R30 000 gekry.

Skande, DA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.