Tshwane-burgemeester reik hand uit

Cilliers Brink (Foto: Tshwane-metro)

Die nuwe burgemeester van die Tshwane-metro het sy hand uitgereik na individue, gemeenskappe en organisasies wat die metro wil bystaan om dit te kan doen sonder teenstand.

Cilliers Brink sê dit is slegs wanneer daar as een saamgewerk word dat die kollektiewe doelwitte om geleenthede vir al Pretoria se inwoners te skep, bereik kan word.

Volgens Brink het die metro oor die afgelope paar jaar sterk verhoudings met ʼn verskeidenheid van instellings en organisasies opgebou wat ʼn groot bydrae tot die stad lewer.

“Dit is hoekom dit belangrik is dat ons ʼn omgewing skep waar individue en organisasies wat saam wil bou, dit kan doen sonder onnodige burokrasie of hindernisse.”

Brink het sy ontsteltenis uitgespreek oor ʼn voorval die afgelope week waar lede van die burgerregteorganisasie AfriForum beboet is omdat hulle gehelp het om ʼn dreineringstelsel wat verstop was, oop te maak ten einde oorstromings te verhoed.

“Dit was ʼn totaal onnodige optrede van die metro se kant af en ek sal toesien dat dit reggestel word. Hierdie tipe gemeenskapaksies moet verwelkom word en nie gestraf word nie.”

Die metro se beleide en munisipale verordeninge sal nagegaan word om te kyk hoe dié tipe ondersteuning beter gekanaliseer kan word.

“Ek sal verder ook aktief daarvan werk maak om memorandums van verstandhouding in plek te kry met enige organisasies wat die metro wil ondersteun.”

AfriForum het Brink se aankondiging verwelkom.

“Dit is ’n positiewe aankondiging dat AfriForum se takke en ander gemeenskapsrolspelers sonder inmenging van ’n paar moedswillige metropolisielede kan voortgaan om gemeenskappe te verbeter,” het Kallie Kriel, hoof van AfriForum, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.