Tshwane-DBV in knyp ná kaping

Die bakkie van die DBV wat gekaap is. Foto: Verskaf

Die bakkie van die DBV wat gekaap is. Foto: Verskaf

Die Tshwane Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Pretoria het Dinsdag ʼn dringende beroep op die publiek gedoen om hulp te verleen nadat een van hul amptelike voertuie vroeër vandeesmaand gekaap is.

Insp. Andrew Kekana is op 2 Julie deur drie gewapende mans gekaap toe hy in die Cullinan-omgewing, oos van Pretoria, besig was om sy werk te doen.

“Die mans het hom in die aand oorval en hy is nagenoeg vier uur lank aangehou,” het Korky Levanon, woordvoerder van die DBV, Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Hulle het sy persoonlike besittings geroof, asook sy bankkaart afgeneem en die daaglikse limiet geld uit sy rekening onttrek. Hulle het tot ná middernag gewag voordat hulle weer die daaglikse limiet geld onttrek het.”

Kekana is daarna in ʼn afgeleë gebied gelos en die verdagtes het met sy amptelike voertuig met toerusting en die DBV-kentekens daarop gevlug. Die voorval is by die polisie aangemeld.

Kekana is ná die voorval vir ʼn hoofbesering behandel en is sedertdien terug by die DBV. Hy het toegang tot berading.

Die voertuig is ʼn Ford Ranger King Cab met die registrasienommer ZDS 527 GP.

“Ten spyte van ʼn uitgebreide soektog is die voertuig steeds nie opgespoor nie. Ons is nou in ʼn moeilike posisie omdat ons nie op alle klagtes van dieremishandeling kan reageer nie,” het ʼn bekommerde Levanon gesê.

Sy het gesê die gekaapte bakkie was die jongste en kragtigste in hul klein vloot van voertuie. “Dit is ons enigste voertuig wat ʼn perdewa kan trek. As ons nou dringend moet reageer om ʼn perd te gaan red, sal ons dit nie kan doen.”

Levanon het benadruk dat die DBV nie geldelike hulp van die regering ontvang nie en die afgelope drie jaar slegs R50 000 van die Tshwane-metro ontvang het. “Die DBV is totaal afhanklik van die publiek om sy werk te kan verrig.”

Sy het gesê die DBV het versekering, maar dit is nog nie bekend hoe lank dit gaan neem voordat die eis uitbetaal word nie.

Levanon het ʼn beroep op motorhandelaars gedoen om vir hulle ʼn voertuig te leen totdat die eis afgehandel is. “Of as enigiemand bereid is om intussen vir ons ʼn voertuig te borg sal dit hoog waardeer word. Enige hulp sal waardeer word om ons voorbereid te hou sodat geen diere weens dié misdaad sal ly nie,” het sy gesê.

Bel Levanon by 083 268 5613.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eliza-beth ·

Hemel tog… veragtelike spul wat juis die DBV se bakkie moes steel. En die arme werker ook nog aangehou en besteel. Hoe uiters laag.

Lappop ·

Miskien moet die regering begin betaal vir mediese onkoste, begrafnisse en verliese wat gelei word a.g.v misdaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.