Tshwane- en Jhb-koalisies: Onmin begin broei

(Foto: Reint Dykema)

ActionSA, die VF Plus, die ACDP en die UDM het met teleurstelling gereageer nadat die DA bekend gemaak het dat hy nie ActionSA se burgemeesterskandidaat in die Johannesburgse metro sal ondersteun nie.

John Steenhuisen, DA-leier, het Saterdag gesê sy party kan nie Herman Mashaba van ActionSA as burgemeester ondersteun nie aangesien dit ’n herhaling sal wees van die gebeure na die 2016‑ plaaslike verkiesing waar die EFF te veel insae kry.

Die ander partye het in ’n gesamentlike verklaring gesê hulle is ongelukkig oor die feit dat Steenhuisen die uitlatings gemaak het sonder om hulle eers daarin te ken.

“Die DA het sy weiering oorgedra om ’n minderheidskoalisieregering in Johannesburg te oorweeg voordat hy voortgegaan het om te bevestig dat hy van plan is om ’n burgemeesterskandidaat voor te stel. Sodoende het die DA die versoek van die veelpartygroep geweier om ’n ActionSA-burgemeesterskap in Johannesburg te ondersteun.

“Die veelpartygroep het geen begrip van die DA se bedoelings van hierdie punt af vorentoe nie. Dit wil voorkom asof die DA volgende week na raadsvergaderings sal gaan sonder formele ooreenkomste met koalisievennote. Die veelpartygroep doen ’n beroep op die DA om sy verbintenis na te kom om die ANC uit hierdie munisipaliteite te hou deur in goeder trou met potensiële koalisievennote te skakel.”

Volgens Steenhuisen is die realiteit van koalisievorming in die Tshwane- en Johannesburg-metro’s veel meer kompleks as wat voorgehou word. “Die DA is, met ’n aansienlike marge, die grootste opposisieparty in albei hierdie metro’s. Maar afgesien hiervan, verskil die verkiesingsuitslag in hierdie twee stede wesenlik.

“In Tshwane is dit moontlik vir opposisiepartye om saam te kom om ’n meerderheidskoalisieregering te vorm wat meer as 50% van die setels in die raad het. Dit beteken opposisiepartye kan ’n stabiele koalisie vorm, begrotings goedkeur en besluite neem, sonder om op die EFF staat te maak.”

Dit is nie die geval in Johannesburg nie, sê Steenhuisen.

“Die IVP en die Patriotic Alliance, wat ’n aansienlike aantal setels in Johannesburg het (maar nie in Tshwane nie), het reeds verklaar dat hulle saam met die ANC sal stem. Sonder die 15 setels van dié twee partye is dit onmoontlik vir die ander opposisiepartye om sonder die steun van die EFF ’n meerderheidskoalisie te vorm.”

Al word ’n minderheidskoalisieregering dus in Johannesburg saamgestel, sal die EFF saam met dié partye moet stem om hulle in staat te stel om besluite te neem, begrotings deur te voer en stabiele regering te bring. “Die koalisie sal dus aan die grille en eise van die EFF onderhewig wees.”

Herman Mashaba, president van ActionSA (Foto: Action SA)

Volgens Steenhuisen het die EFF reeds aangedui dat hulle nie deel sal vorm van die koalisie nie en net saam met die minderheidskoalisieregering sal stem indien dit oor sake is waarmee hy saamstem.

“Dit is dus onvermydelik dat die EFF die stert van die koalisiehond in Johannesburg sal swaai. Sommige mense argumenteer dat dit die moeite werd is om hierdie risiko te neem. Hulle sê dat ons ’n dapper nuwe skuif in die politiek nodig het om die ANC uit te hou.

“Daar is egter niks nuuts of gewaagd aan hierdie voorstel nie. Ons het presies dit probeer ná die 2016-verkiesing. Ons het die risiko geneem om in minderheidskoalisies te wees wat deur die EFF ondersteun word en wat skouspelagtig misluk het.”

Daar is na die 2016-verkiesing opposisiekoalisies in Johannesburg en Tshwane saamgestel. Die EFF het nie by die koalisies aangesluit nie, maar het hul steun van geval tot geval aangebied. “In albei hierdie stede moes ons minderheidskoalisies op die EFF staatmaak om die meerderheid te kry wat ons nodig gehad het om te regeer.

“Dit het gelei tot chaotiese, onstabiele regerings waarin kleiner partye van kant gewissel het en mag bly hande verwissel het.”

Uitslae van 2021-verkiesing hierom anders

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Volgens Steenhuisen is daar egter een wesenlike verskil tussen die verkiesingsuitslae van 2021 en dié van 2016.

“In Tshwane kan ons nou vir die eerste keer ’n opposisiekoalisieregering saamstel wat ’n duidelike meerderheid setels sal hê. Ons sal nie op die EFF hoef staat te maak om ’n meerderheid te verseker en in die amp te bly nie.

“Ongelukkig kan dieselfde nie van Johannesburg gesê word nie. In wese is dit wat ons in Johannesburg gevra word om te doen wat ons voorheen gedoen het: Ons word gevra om ActionSA aan die hoof te plaas van ’n minderheidsregering wat van die EFF afhanklik is om 50% plus een van die stemme te kry.

“Dit herhaal in wese wat ons ná die 2016-verkiesing gedoen het en wat sleg misluk het.”

Die DA se Federale Raad het bevestig dat hy nie in minderheidskoalisies sal gaan wat op die EFF staatmaak om die mag te hou nie.

“Ons sal eerder ’n beginselvaste, sterk opposisie wees as om ten alle koste in die regering te wees, veral wanneer ons weet ons sal nie kan regeer nie tensy ons op die maat van ons aartsteenstanders dans.

“Ons respekteer die kiesers se wil, en waar ons opposisiekoalisies betree wat ’n kans het om te slaag, sal ons ’n verteenwoordiger van die grootste party ondersteun as die burgemeesterskandidaat.”

Die party sal Maandag sy burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Mpho Phalatse, vir verkiesing by die eerste raadsvergadering voorstel en Dinsdag vir Randall Williams as Tshwane-burgemeesterskandidaat tydens dié metro se eerste raadsvergadering.

“Die DA sal altyd die deur oophou vir voortgesette samesprekings om eendersdenkende opposisiepartye in staat te stel om mekaar te vind en ’n sterk alternatief te bou teen die ANC sowel as die EFF.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Chris dupreez ·

Mnr Steenhuisen, jy laat my dink aan n stout kind wat n tantrum gooi as hy nie sy sin kry nie.

Jeepie ·

Ag shame. Nou kry Steenhuisen nie wat hy wil he nie en gooi ‘n tantrum. Duidelik gaan dit vir die DA oor om mag poste te kry en nie om die mense te dien nie. Die regte besluit sou wees om vir Herman te ondersteun. Al wat die DA nou doen is om te bewys hoekom hulle, soos die ANC, nie meer relevant is nie. Die DA gaan nog meer stemme verloor in die algemene verkiesing. Steenhuisen steek jou eie belang in jou sak en dien die mense. DA, kry ‘n ander leier of wo d deel van ActionSA of FF+. Maar Steenhuisen Sal seker soos die oh NP se kortbroek oorstap na die ANC.

casper ·

Die mense het gestruggle om vir die EFF en ANC te stem so hulle verdien absoluut om verder te struggle — Kry vir julle !!!

Neels ·

Ek begin wonder of dit ‘n goeie ding was om DA te stem. As die DA hulle uitvee sit hulle sonder Tshwane en het die ANC nie Tshwane maar ook Johannesburg.
Die DA moet ophou met partypolitiek en begin dink aan wat die kiesers wil hê en wat die beste vir die land is.
Die DA moet wakker skrik

Jeepie ·

Verander jou stem. Die DA is besig om te sterf saam met die ANC. Tyd dat nuwe leiers en partye saam werk vir die land.

Harry ·

So julle wil he hulle moet dan saam die eff werk….. dink weer, daai eff wil net hulle ding doen!!

Jeepie ·

ActionSA gaan die DA grond toe vat. Groot fout van Steenhuisen.

Eugene ·

Ek sou ook nie op die EFF staatgemaak het nie. Die mense in jhb het besluit om d ie anc te ondersteun so laat hulle maar suffer

Sarel ·

Mos al daarop gewyd dst die DA nie ss Koalisievenoot
Vertrou kan word nie

Nationalist ·

Swak!! John Steenhuisen, swak! Die toekoms van SA regering is dmv koalisies en nou doen jy dit? DA is nie ernstig oor SA nie.

Francios ·

Die dae van Steenhuisen se huisie wat omgeblaas gaan word is naby. Em vermoed ook Zille en haar grille gaan ook afteejoppie iewers soek.
Selfs die Dying Alliance se eie lede is besig om hulle slagordes op te stel vir daai tweetjies.

Jannie van Niekerk ·

Swak verskoning mnr Steenhuisen. Dit gaan nie regtigwaar oor die EFF nie maar eerder oor mnr Mashaba wat julle tussen die bene geskop het. Die EFF sal glad nie in enige raad saamstem met enige iets nie. Ons weet mos hule is kleuters wat hulle speelgoed uyit die kot uitgooi as hulle nie hul sin kry nie. Word wakker mnr Steenhuisen ,voordat die DA dieslefde pad loop as die oor;lede NP van Kortbroek van Schalkwyk

melaney ·

Zille is way past her sell-by date. She seems to be holding on to her position for dear life. She must bow out gracefully. Steenhuizen is too childish to be the leader. My two cents.

melaney ·

Nou is ek eers bly ek het vir ActionSA gestem. Zille moet uit en vinnig ook. John jan gerus die leisels aan iemand anders besorg.

Dries ·

Ek is nie n DA nie maar dit maak absoluut sin om nie te reggeer waar die EFF die stert gaan wees wat die hond swaai nie. Dit is werklik n eerbare besluit van die DA. Mashaba se liefde vir die EFF voorheen bly n vreeslike risiko

Dries ·

Mashaba se verwerping van die ANC het hom baie ondersteuning gegee. As hy nog met die EFF gaan saamwerk gaan hy sy ondersteuning kwyt wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.