Tshwane-hoë op spesiale verlof ná mediaberigte

solly-msimanga-03

Solly Msimanga, uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro tydens ‘n vorige mediakonferensie. Foto: Facebook.

Marietha Aucamp, Stad Tshwane se hoof van personeel, is op spesiale verlof geplaas ná berigte in die media dat sy nie oor die nodige kwalifikasies vir haar pos beskik nie.

Die berigte beweer verder dat Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, ʼn groot rol gespeel het in haar aanstelling.

Selby Bokaba, woordvoerder van die stad, het gesê die stad wil graag die ware feite weergee oor mediaberigte wat beweer dat Msimanga deelgeneem het, en dus indirek die beweerde oortreding van die wet goedgekeur het, deur Aucamp aan te stel.

“Aucamp het aansoek gedoen en is in Oktober 2016 op ʼn kortlys geplaas vir die pos as hoof van personeel en is as die mees gepaste kandidaat aangewys,” het Bokaba gesê.

Volgens Bokaba het Aucamp die hoogste puntetelling gehad by die onderhoudspaneel wat bestaan het uit Msimanga, Cilliers Brink, die burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste en Lindiwe Kwele, voormalige waarnemende bestuurder van die stad.

Bokaba verduidelik dat Aucamp ná die onderhoudproses in November 2016 vir ʼn assessering vir senior bestuurders gestuur is waaroor die departement van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede toesig gehou het.

“Die mediaberigte beweer dat Aucamp op die assesseringsvorm aangedui het dat sy ʼn B.Tech-graad het. Sy het nie op haar aansoekvorm of haar CV aangedui dat sy enige kwalifikasies na matriek het nie.”

Bokaba het gesê dit klink onlogies en irrasioneel dat enige applikant wat op die kortlys was en reeds ʼn onderhoud en assessering deurgemaak het, waartydens die applikant die hoogste telling van al die applikante behaal het, nou skielik nie die nodige kwalifikasies het nie.

“Hoewel dit tot die voordeel van die kandidaat sou wees om die nodige kwalifikasies te hê, verhoed dit nie enige kandidaat in die politieke kantoor om vir die posisie oorweeg te word sonder die relevante kwalifikasie nie. Wat vereis word, is ondervinding en ʼn begrip van plaaslike regering. As hoofsweep van die DA het Aucamp 16 jaar se bestuursondervinding.”

Bokaba beweer verder dat Samkelo Mgobozi, Msimanga se woordvoerder, ʼn fout begaan het in sy antwoord aan News24 oor die sage toe hy ontken het dat Msimanga betrokke was in seleksieproses van die kandidaat.

“Hy het nie al die feite gehad toe hy gereageer het nie. Die burgemeester het die stadsbestuurder versoek om ʼn dringende ondersoek na dié kwessie te loods en Aucamp is op spesiale verlof geplaas.”

News24 het berig dat Aucamp dié pos van R1,2 miljoen per jaar losgeslaan het sonder om die nodige kwalifikasies te hê. Volgens die berig het die advertensie vereis dat die kandidaat ʼn Baccalaureus-graad of ʼn gelykstaande kwalifikasie moet hê.

Aucamp was voorheen as die DA se hoofsweep in die Tshwane-metro werksaam. James Selfe, die DA se voorsitter van die party se federale dagbestuur, is een van die verwysings op haar kort CV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

So n werklike, toepaslike kwalifikasie IS van toepassing… of nie?

Of tel PEL STATUS ook as kwalifikasie? Soos in ZUMAIKIE…?

Dans dit seker ok as die DA ook die reels interpreteer soos hulle pas?

Chrisjan ·

Baie interessant. Natúúrlik is dit goed dat die hele saak ondersoek word en les bes, indien Aucamp die beste en mees geskikte kandidaat was en oor die nodige ondervinding en vermoëns beskik om die pos volkome te kan volstaan, dan is dit reg dat sy aangestel is. My kommer is egter diegene wat geensins die vermoëns en/of ondervinding het om n pos te vul en dan tog aangestel word. Soms is ervaring veel meer van waarde as suiwer kwalifikasies. Bowenal kan ek nie help om te wonder of dieselfde mense wat nou so erg stof opskop, destyds ook so gestel was op kwalifikasies toe Mnr Zuma die staatspresident geword het nie.

Alida ·

Ek wonder hoeveel van die ANC grootkoppe het enigsins matriek! Hulle krap nou waar dit nie jeuk nie. Mens kan staatspres word met std 3!!!

jaco ·

kwalifikasies of nie pla my nie. wat ek wel nie verstaan nie, is hoe die DA, wat VIR die regstellende aksie wette gestem het, ‘n WIT persoon in so ‘n lekker pos kon aanstel? Wat dan van Maimane se amper beskuldigende uitsprake dat wit mense nog steeds in ‘n staat van “wit bevoorregting” leef?

ag my ·

ag pik tog by. hoekom sal sy dit op haar cv en aansoek vorm verswyg maar wel op die asseseringsvorm skryf. wie is hier besig om viepr wie te lieg?

Oom Kalahari ·

Mev Aucamp het darem gelukkig nie kwalifikasie sertifikate aangekoop soos baie daarbuite nie. Ook is baie van hul met 20-30 persent by Universiteite, Kolleges, Werks Opleidings Sentrums ens.
gekrediteer weens agtergeblewe, maar meeste is vanaf 1994 gebore. As ek ‘n Staats President kon he wat ‘n stukkie eiendom besit het op Robben Eiland en net Std 3 (Graad5) gehad het en vadag die Eienaar van Nkandla en vele ander eiendomme besit kan ondervinding ook deel wees. Die (RPL) stelsel van “Recognition for prior learning” is mos ook van toepassing.

derick ·

ja mense,ek stem saam dat ondervinding baie beter is as kwalifikasies,mense sit met grade maak ken niks as die werk gedoen moet word nie,vra maar vir my,ek kom dit elke dag tee.sal maar vir my ook n graad moet koop dink ek dan kry ek ook n goeie werk,maar niks ondervinding nie,dis baie makliker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.