Tshwane hof toe gesleep oor water

(Foto: Maroela Media)

Twee inwoners van onderskeidelik Vastfontein en Hammanskraal het hulle Vrydag tot die hooggeregshof in Pretoria gewend nadat die Tshwane-metro dae lank versuim het om drinkwater aan inwoners te lewer.

Die hof het ʼn dringende tussentydse bevel aan die applikante toegestaan en die metro beveel om drinkwater aan die inwoners te verskaf. Die metro het tot 8 Maart om die aansoek teen te staan, maar moet intussen drinkwater aan die geraakte gebiede voorsien.

Drinkwater word al langer as tien jaar aan gemeenskappe in die omgewing van die Apiesrivier afgelewer aangesien die Rooiwal-rioolaanleg al jare lank nie in stand gehou word nie. Dit beteken riool beland in die Apiesrivier en besoedel kraan- en boorgatwater in verskeie gebiede. Drinkwater word sedertdien met watertenks aan dié gebiede voorsien en word ook gebruik vir vee in die gebied.

Theuns Vogel, ʼn boer van Vastfontein en een van die applikante, het Maandag aan Maroela Media bevestig dat die stad wel sedert Saterdagmiddag watertenks na die gebied gestuur het nadat aflewering op 1 Maart onverklaarbaar opgeskort is.

Dit skep ʼn reuseprobleem vir inwoners asook boere wat hul vee moet water gee.

Vogel is nie seker waarom die metro sy afleweringsdienste gestaak het nie, maar volgens sy inligting het dit glo met ʼn geskil tussen Tshwane en die kontrakteurs wat die water moet lewer te make.

“Toe begin ons nou baklei. Ek het 180 beeste wat moet water kry,” het Vogel gesê.

Hy het ongeveer 10 000 liter water per dag vir sy beeste nodig.

“Hier is tussen 64 en 69 kleinhoewes en plase in die omgewing, so dit is ʼn groot probleem. Ons kan [sonder water] niks doen nie.”

Vogel verduidelik dat inwoners selfs voor 2010 ernstige probleme met die Rooiwal-rioolbehandelingsaanleg ondervind het. Die Apiesrivier is gevolglik in 2011 tot ʼn rampgebied verklaar weens besoedeling as gevolg van die groot hoeveel riool wat in dié rivier beland.

“Ons ondergrondse water was so besoedel dat ons dit nie eens kon drink nie. Dit was heeltemal ongeskik vir menslike en dierlike gebruik.”

Vogel sê die voortslepende waterprobleme skend nie net inwoners se menseregte nie, maar veroorsaak ook dat hulle finansiële skade ly aangesien hulle ook nie hul boorgatwater kan verkoop nie.

Waterprobleme ‘verreikend’

Benewens die jongste hofaansoek het Vogel die hof oor die jare al twee keer tevore genader om die stad te dwing om onderhoud en herstelwerk aan die rioolaanleg te doen. Een van die hofaansoeke is in samewerking met AfriForum ingedien.

Die rioolaanleg is egter, ten spyte van regstappe en ʼn ondersoek in 2021 deur die Menseregtekommissie na rioolaanlegte in die stad, steeds nie funksioneel nie.

“Ek het toe gehoor die mense in Hammanskraal het ook nie drinkwater nie weens die probleme by Rooiwal, en het een van hul gemeenskapslede by die hofaansoek betrek. Daar is ʼn klein suiweringsaanleg daar, maar dit kan nie die rou riool suiwer vir drinkwater nie.”

Vogel sê as hy nie die hof genader het nie, sou die metro dalk steeds nie water afgelewer het nie.

Dit blyk dat waterafleweringsdienste in Hammanskraal egter nog nie volkome hervat is nie.

Tumelo Koitheng, voorsitter van die inwonersvereniging in Hammanskraal en tweede applikant in die hofaansoek, sê hy het Sondag een watertenk gesien, maar dat die meerderheid mense in die gebied nog steeds nie drinkwater het nie.

Volgens hom het aflewering oor die afgelope maande stelselmatig afgeneem, en sit ses van die nege wyke in Hammanskraal sedert einde verlede maand sonder drinkwater. Dit kom op meer as 60 000 inwoners neer. Kraanwater in die omgewing is so besoedel dat inwoners dit nie kan drink of kan gebruik om kos mee te maak nie.

Koitheng sê verskeie inwoners drink of gebruik dit egter noodgedwonge omdat hulle nie geld het om gebottelde water te koop nie. Boonop kry inwoners glo min tot geen kommunikasie van die metro oor die stand van sake.

Indien die stad nie gou gehoor aan die hofbevel gee om wateraflewering ten volle te hervat nie, sal verdere regstappe gedoen word.

Volgens Hendrik van Staden, Vogel en Koitheng se regsverteenwoordiger, kan die stadsklerk strafregtelik verantwoordelik gehou word vir die verontagsaming van ʼn hofbevel indien skoon drinkwater nie voorsien word nie.

“Wat nou moet gebeur is dat die stad water aan al die geraakte gebiede moet voorsien soos dit in die aansoek genoem word. Dit sluit die boere [in die Apiesrivier-omgewing en] Hammanskraal in. As hulle versuim om dit te doen en ons kry verdere klagtes, dan kan ons die stadsklerk aanspreeklik hou, want hy is die beampte wat verantwoordelik is om seker te maak dat die munisipaliteit funskioneer en voldoen aan hofuitsprake,” het Van Staden gesê.

“Hierdie is ʼn tussentydse bevel. Die metro het tot 8 Maart om die aansoek teen te staan, maar ek twyfel of hulle dit wel sal teenstaan want dit ʼn verpligting wat die metro teenoor inwoners het. Jy kan nie net mense sonder drinkwater laat gaan nie.”

Munisipale amptenare kan ook persoonlik verantwoordelik gehou word indien die bevel verontagsaam word.

Wateraflewering sou ‘tydelik’ wees

Vogel sê die lewering van skoon drinkwater aan die geraakte gebiede sou in 2011 ʼn tydelike oplossing wees tot die Rooiwal-rioolaanleg herstel is. Dit het sedertdien net meer verval.

Hy verduidelik dat die riool wat veronderstel is om by Rooiwal verwerk te word, van so ʼn aard moet wees dat die water wat in die Apiesrivier invloei, baie skoner is.

Dan kan dit ook deur die suiweringsaanleg in Hammanskraal verwerk word, sodat dié inwoners  skoon drinkwater het.

“Omdat Rooiwal nie reg bestuur en onderhou word nie, word swak gehalte water vol rioolvuil in die Apiesrivier gestort en dit het dus ondrinkbaar geword. Dit het ook die boorgate en besproeiingsdamme van die boere in die Apiesrivier-omgewing besoedel.

Van Staden sê benewens Vogel se jarelange stryd teen die metro is ʼn siviele eis ook al in dié verband teen die metro ingedien. Ander ondersoeke is ook al in verband met die rioolaanleg gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elizabeth ·

Daar is soverl onnodige personeel maar steeds word niks gedoen. Net vinnig om salarisse te betaal en dan word daar nog salarisverhogings geëis net om te kom gesig wys.

Pietertjie ·

Eet hulle! En laat die “beamptes” die onkoste uit hulle eie sakke betaal, eerder as om belastingbetalers se geld verder te mors op hierdie regsaksies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.