Tshwane-hofuitspraak: Demokrasie in ‘ere herstel’

(Argieffoto)

Die VF Plus het die uitspraak van die appèlhof ten gunste van die herstel van die Tshwane-metroraad verwelkom.

Die LUR vir samewerkende regering in Gauteng, Lebogang Maile, het agt maande gelede die metroraad ontbind eerder as om raadslede toe te laat om ʼn nuwe burgemeester te kies nadat die vorige een, Stevens Mokgalapa van die DA, bedank het.

ʼn Administrateur is daarna vir die stad aangestel. Sedertdien steier die hoofstad oënskynlik van die een krisis na die volgende.

Die appèlhof het Dinsdag beslis die aanstelling van die administrateur is strydig met die konstitusionele demokrasie en word ter syde gestel.

Jaco Mulder, die VF Plus-leier in Gauteng, sê die uitspraak bewys dat die provinsiale ANC-regering onnodig appèl aangeteken het teen die oorspronklike hooggeregshofuitspraak wat dieselfde bevinding gemaak het.

“Die ANC het weer eens belastingbetalersgeld gemors deur die hooggeregshofuitspraak te betwis,” het Mulder gesê.

“Demokrasie is nou in ere herstel en die provinsiale ANC-regering het weer eens ʼn welverdiende loesing in die hof ontvang weens sy siniese misbruik van statutêre magte om die demokraties-verkose koalisieregering van die stad te ondermyn.”

Mulder sê die party het die ANC herhaaldelik gewaarsku dat sy regsgronde vir die ontbinding wankelrig is en dat sy politieke opportunisme ʼn desperate poging is om die mag in die metro op ʼn ondemokratiese wyse oor te neem.

“Sedert die ontbinding van die metroraad het grootskaalse wanbesteding en wanadministrasie plaasgevind tot nadeel van inwoners en belastingbetalers in die metro.”

John Steenhuisen, leier van die DA, het die uitspraak as ʼn “fantastiese oorwinning” vir die DA bestempel.

“Die debakel wys dat die ANC betrokke was in ʼn magsvergryp en die Grondwet misbruik het om dit te doen. Hy het eers die stad onregeerbaar gemaak deur deurlopend uit raadsvergaderings te stap, het die kworum verbreek en dit onmoontlik gemaak om besluite te neem,” het Steenhuisen gesê.

Hy sê nadat die ANC hierdie doel bereik het, het die party die stad weer onder ANC-administrasie geplaas.

Steenhuisen sê die uitspraak is nie net deurslaggewend vir die inwoners van die Tshwane-streek nie, maar ook vir die land se demokrasie omdat dit die ANC se pogings om demokratiese prosesse en die Grondwet te omseil, blootlê.

Katlego Mathebe, speaker van die Tshwane-metroraad, sal Woensdag verdere besonderhede bekend maak oor die voorbereidings vir ʼn raadsvergadering wat volgende week gehou gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae