Tshwane House ontruim ná onderonsie tussen polisie, betogers

Tshwane House (Foto: Jacques Naude/African News Agency/ANA)

Personeel by Tshwane House, die munisipaliteit se hoofkantoor, is Woensdagmiddag gedwing om vinnig te ontruim tydens oproerigheid tussen die polisie en ʼn groep betogende voormalige kontrakwerkers. Die betogers eis permanente indiensneming deur die munisipaliteit.

Selby Bokaba, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê die 627 voormalige kontrakwerkers, wat as kapasiteitswerkers aangestel is, is op ʼn vaste 12 maande-termyn in diens geneem tussen Oktober 2019 en Oktober 2020.

“Nadat hul kontrakperiode verlede jaar verstryk het, het die munisipaliteit op 5 November 2020 ʼn beëindigingsbrief aan hulle gestuur. Hulle is versoek om met menslike hulpbronne kontak te maak om ʼn rits dokumente te voltooi, insluitend die vorm vir die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) om die beëindiging van hul kontrak te formaliseer.”

Die werkers het egter geweier om die vorms te voltooi en geëis dat hulle permanent aangestel word.

“Die kontrak het uitdruklik bepaal dat die indiensnemingsperiode slegs vir 12 maande is. Stad Tshwane het dit duidelik gestel dat hy nie van voornemens is om die persone in diens te neem nie omdat daar nie ʼn behoefte was daaraan of begroting beskikbaar was vir permanente indiensneming nie. Die voormalige werkers het egter volgehou hul kontrakte is onwettig beëindig,” het Bokaba bygevoeg.

Stad Tshwane is van mening dat die kontrakte wel wettig beëindig is aan die einde van Oktober 2020. “Die stad het reeds suksesvol sy posisie by arbitrasie verdedig en wag nou vir die finale uitslag van die dispuut by die arbeidshof in Johannesburg.”

Die werkers voer aan dat “sommige mense” by die munisipaliteit permanente indiensneming aan hulle belowe het, maar hulle kan nie enige dokumentasie verskaf om hul bewering te staaf nie.

Die ontstoke kapasiteitswerkers het sedert die begin van hierdie week by Tshwane House begin betoog. Hulle intimideer personeellede en verhoed werkers en besoekers om die gebou te betree of te verlaat. “Hulle het ook video’s met dreigemente versprei teen werkers van die munisipaliteit.”

Die spanning het Woensdagmiddag opgeloop toe polisiebeamptes met klippe bestook is. Die polisie het met rubberkoeëls teruggeskiet.

“Die munisipaliteit sal seker maak dat dienslewering nie negatief geraak word deur die gebeure van vanmiddag nie. Die munisipaliteit sal ook nie huiwer om wetstoepassers te ontbied om die veiligheid en sekuriteit van werkers te verseker nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Buck ·

Die massas sal nooit verstaan hoe n ekonomie werk nie, en die polisie sal nooit weer die massas kan beheer nie.

Pieter ·

Rubberkoeels! Wat van neem hulle in hegtenis, of nee wag, daarvoor is ons polisiediens mos te slapgat!

Kokerboom ·

Hoekom verduur ons die vermetele Afrika “demand” en bakhand politiek?!!!Dis tyd dat SAP ‘n slag ruggraat styfmaak en ophou met hul slapgat paai en sagte hand optredes! Dryf hul ‘n slag terug met hul eie medisyne(klippe). Ons is soo verdomp moeg vir die twak!!

Nie Verbaas ·

En daar eis ons geagte BEE lede alweer. Dit is mos hulle “reg”.

Misky ·

Dis nou die produk van 30% slaagsyfer en mense wat nie verstaan wat hulle lees en die inhoud daarvan en dan teken nie. Die res is sommer net blatant arrogant en gewoond aan alles ‘demand for free’.

Karina ·

Ons kan mos ook “demand” So, ek “demand” dat die ANC goewerment bedank en loop, ek “demand” dat BEEE stopgesit sal word, ek “demand” dat vorige werkers terug aangestel word by Eskom, Prasa, SABC ens ens en ek “demand” die verlaging van elektrisiteit pryse, kos pryse, vleis pryse, petrol en gas pryse, so kan ek aangaan met my “demands” maar niemand sal omgee nie, want ons mag mos niks kry nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.