Tshwane-inwoners hoes omdat ‘metro nie meters lees’

Talle inwoners het hulle tot die Openbare Beskermer gewend weens probleme met hemelhoë munisipale rekeninge. (Foto: Twitter)

Die Openbare Beskermer (OB) het in haar ondersoek na buitensporig hoë nutsrekeninge van die Tshwane-metroraad bevind die bewering word “gedeeltelik gehandhaaf” weens die metro se versuim om gereelde meterlesings te doen.

Tientalle mense het hulle tot die OB gewend nadat hulle hemelhoë rekeninge ontvang het. Verbruikers het boonop gekla dat hul navrae oor die rekeninge dikwels onbeantwoord gebly het en probleme nie behoorlik opgelos is nie.

Luidens adv. Busisiwe Mkhwebane se verslag het een inwoner ʼn rekening van meer as R1,6 miljoen gekry weens die foutiewe bywerking van nuwe meters op die stad se stelsel. Nadat die stad die meter reggestel en die korrekte lesing geneem het, is die rekening tot R360 000 verlaag. Dit het gelei tot ʼn krediet van R1,2 miljoen vir die inwoner.

In nog ʼn geval het die Tshwane-metroraad ʼn rekening van meer as R143 000 aan ʼn inwoner gestuur vir watergebruik tussen 29 Junie 2018 en 2 April 2019. Werklike meterlesings is in dié geval gebruik.

Die ou meter was egter stukkend en is in Julie 2019 met ʼn nuwe meter vervang. Die gemiddelde berekening op die nuwe meter is gebruik om die vorige gemiddeld te bepaal, wat die inwoner se rekening eindelik op net meer as R4 000 te staan gebring het. Dit het tot ʼn krediet van meer as R130 000 gelei.

Gebrek aan geld die sondaar

Die OB het in haar ondersoek op drie kwessies gefokus, naamlik of verbruikers verkeerde rekeninge van die metro ontvang omdat hy versuim om meterlesings te doen, of die stad se bestaande klagteresolusieproses voldoende is om probleme op te los, en of die stad onregmatige netwerktoegangstariewe hef.

“Wat betref die eerste kwessie het ons bevind dit is gedeeltelik waar dat die stad foutiewe rekeninge vir water en krag aan verbruikers stuur, gegrond op geskatte verbruik weens sy versuim om gereelde watermeterlesings te neem,” lui die verslag.

Die OB het bevind die stad neem sy eie meterlesers in diens en maak ook gebruik van private diensverskaffers om meters te lees. Weens ʼn gebrek aan geld is die gebruik van private kontrakteurs egter nie goedgekeur nie.

Ingevolge munisipale verordeninge mag die stad ʼn geskatte berekening gebruik, maar meters moet minstens een keer elke drie maande gelees word.

“Bewyse wat ingesamel is en wat ook deur die stad bevestig is, dui daarop dat meterlesings in sommige gevalle ʼn tydperk van drie maande oorskry.”

Mkhwebane sê die stad erken hierdie uitdagings en het reeds verskeie maatreëls ingestel om die probleem te pak. Die stad is onder meer besig om 70 000 konvensionele meters teen Junie volgende jaar met ʼn voorafbetaalde meterstelsel te vervang.

Klagtes bly onopgelos

Wat betref verbruikers se bewerings dat hul klagtes by die Tshwane-metro op dowe ore val, het die OB bevind die stad se bestaande klagteoplossingsmeganismes is ondoeltreffend.

“Die ondersoek het gewys – en die stad het bevestig – dat die twee grootste uitdagings vir die inwerkingstelling van die stelsel verband hou met sy mensehulpbronkapasiteit in die kliëntediensafdeling wat ʼn uitwerking het op die spoed waarteen klagtes opgelos word, asook die feit dat verbruikers vertroue in die stad se vermoë verloor om hul probleme op te los.”

Volgens die verslag is ʼn proses reeds van stapel gestuur om ʼn ombudskantoor op die been te bring om ongelukkige inwoners met hul klagtes te help.

Oor bewerings dat die metro onregmatig netwerktoegangstariewe hef op verbruikers se munisipale rekeninge, het die OB bevind dit kan nie gestaaf word nie.

Die OB het die stad se munisipale bestuurder onder meer opdrag gegee om te verseker dat stappe gedoen word om foute met die rekeningstelsel uit te stryk, verslag te doen aan die OB oor vordering met die installering van voorafbetaalde meters en ʼn verslag by haar in te dien om te verseker die begroting sluit meterlesings in.

“Ons loof die stad dat hy sy tekortkominge geredelik aanvaar het, asook vir die gesindheid waarin hy die verslag ontvang het, en sy onderneming om probleme reg te stel. Ons sal die inwerkingstelling van die regstellende stappe fyn dophou en indien nodig die stad deur die proses bystaan.”

Mkhwebane sê hoewel die ondersoek na probleme by die Tshwane-metroraad gehandel het, is die werklikheid dat mense van oraloor sukkel met soortgelyke rekeningprobleme.

“Ons doen ʼn beroep op munisipaliteite landwyd om [die verslag] te bestudeer en waar nodig te gebruik om hul eie stelsels te verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Chris dupreez ·

Ons lees ons lesings ook elke maand self in, geen probleem. Ek verstaan nie dat mense dit nog oorlaat aan n wanfunksionele stadsraad as jy dit self kan doen binne minute.

Chris dupreez ·

Hier moet ek nou sê ons kan nie die DA blameer nie, die stadsraad was onder administrasie a g v die anc en diefstal asook hofsake het die DA daarvan weerhou om n diens te kan lewer. Daar is vir n paar jaar onder anc en daarna geen stadsraad, geen diens gelewer. Ons hoop regtig dat na die verkiesing die stadsraad sal bestaan uit lede wat n diens wil lewer.

Shakespeare ·

Stop die swart smeer vd DA…….of aanvaar die EFF as opposisie party. Word wakker mense.

Misky ·

Ons is in Durban en het elke maand die water asook kraglesings deurgegee. Elke maand moes ons maar die ‘geskatte’ rekenings betaal, want hulle voer dit eenvoudig nie op hul stelsel in nie. Toe ons die dag oorgaan na voorafbetaald (prepaid) is ons in krediet en hulle skuld ons nou. Wag al meer as twee jaar en sal seker nooit kry nie. So dankbaar ons is klaar met hulle en sal nooit weer terug gaan nie.

Cherokee ·

Ons is ook in Durban, en het al meer as ‘n jaar gelede betaal vir ‘n voorafbetaalde elektrisiteitsmeter vir een van ons woonstelle, en kry dit nie. “n Waterinspekteur wat ‘n persoonlike kennis is, het nie-amptelik gesê, daar is nie voorraad nie. Hy sê hulle word aangesê om te sê “maybe next week”, maar in werklikheid is dit nie in voorraad.

Shakespeare ·

Eersterangse ervaring. Neem jou lesing en dan gaan sit jy by die onbevoegde kader en maak seker dat hy/sy dit reg doen. Dis presies wat ek noodgedwonge moes doen. Die spul is pateties, arrogant en onbevoeg verby.

Elize ·

Ons gee dit ook deur maar sommige maande “estimate” hulle dit. Hierdie maand is myne 3 x meer.

Philip ·

Die beste oplossing is soos kommentators hier voorstel . Ek lees my meter self en neem n foto daarvan en handig alles in by die munisipaliteit se rekening afdeling wat voor my vir die ontvangs teken en dit aanbring vir hulle rekening wat hulle uitstuur. Die groot probleem kom in by voorafbetaal meters of as jy nie vorige lesings het om die verbruik te monitor nie.

Misky ·

In Durban kon ons slegs deur bel (wat ‘n onmoontlike ding was en jy kom nooit deur nie) of e-pos – geen ingaan en iemand sien of deurgee nie. Nooit op stelsel aangebring nie en elke maand net geskat op rekening. Langer as 2 jaar so aangegaan.

Nie Verbaas ·

Dit is hartseer om te sien hoe alles tot niet gaan as gevolg van ongeletterdheid, arrogansie, onkunde en luiheid. Maar nog steeds, “we demand”

Moedeloos ·

Woon in die Wes Kaap in n gesonde Munisipale arae MAAR ek lees ook elke maand my eie meters en epos dit. Die rede, ons woon agter tralies agv misdaad. Die lesers kan nie by ons meters uitkom nie. Dis die norm in vandag se tyd. Almal voel onveilig en wonings/eenhede/komplekse is met hoë heinings toegemaak. Daarom is dit ook die huurder/eienaar se plig om die lesings betyds en korrek deur te gee. Honde speel ook n rol in meterlesers se pligte. Hiermee wil ek nie beweer dat alle probleme net die eienaar/huurder sin is nie maar waar jy weet dat hul nie lees nie neem eie verantwoordelikheid en stuur jou lesing deur. Ek het nog nooit probleme gehad met buitensporige rekening nie, net die gewone klagte dat krag baie duur geword het.

Cherokee ·

Julle weet natuurlik dat die salaris van meterlesers is ingesluit by die tariewe. So, al lees jy dit self, betaal jy steeds aan die salaris.

Cherokee ·

Dit is te betwyfel of daar enige ander taal is waarin mense kan sê ‘ja nee’.

Leon ·

Alhoewel die stadsraad ‘n verpligting het om meterlesings te neem, en die verpligting nie getrou nagekom word nie, het die verbruiker ook tot ‘n groot mate beheer en ‘n verantwoordelikheid. Ek neem getrou elke maand my meters af, en lees dan die syfers in op die e-tshwane stelsel. Ek weet dit is ekstra moeite maar ek kan sê dat ek nog geen probleme ondervind het nie. My lesings bly dus op datum en ek weet wat ek moet betaal.

Sarel ·

Kom DA……julle gasn Tswane weer verloor….waar is julle
Administrasie…vaarwel DA…gaan vir julle groot verlies wees

Eclectus ·

My vrou neem elke maand fotos van die lesings en stuur dit elektronies in en ons het nog nooit ‘n probleem gehad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.