Tshwane kanselleer kontrak ná hy daagliks R5 miljoen betaal

Argieffoto

Argieffoto

Die Tshwane Metro het ʼn kontrak met die maatskappy PEU vir voorafbetaalde-elektrisiteitsmeters gekanselleer omdat dit die metro te veel geld kos en nog geen verskil gemaak het aan die munisipaliteit se vermoë om wanbetaling hok te slaan nie.

“Die summiere beëindiging van die omstrede kontrak vir voorafbetaalde-elektrisiteitsmeters tussen die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit en die maatskappy PEU is ’n bevestiging van die feit dat AfriSake heeltemal reg was oor die onwettigheid daarvan,” het Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriSake, in ʼn verklaring gesê.

Die Tshwane Metro het pas bekend gemaak dat hy sy ooreenkoms met PEU onmiddellik beëindig omdat dit die Metro te veel geld kos. Vroeëre berigte het aangedui dat die Metro PEU elke dag R5 miljoen betaal, kragtens ’n ooreenkoms tussen die Metro en PEU wat strydig is met grondwetlike voorskrifte aangaande openbare tenderprosesse.

Volgens konserwatiewe berekeninge kos die kontrak belastingbetalers in die Tshwane Metro op die oomblik meer as R1,2 miljard per jaar, terwyl dit nog geen verskil gemaak het aan die Metro se vermoë om wanbetaling vir elektrisiteit hok te slaan nie.

Spies het namens AfriSake gesê die sakeregte-waghond sal sy hersieningsaansoek teen die Metro en PEU voortsit. “Die laaste wat ons wil hê, is dat ’n korrupte kontrak vervang word met ’n korrupte kansellasie wat belastingbetalers net so duur te staan kom,” het Spies gesê.

“Ons sal onmiddellik met die Metro se regspan kommunikeer om meer besonderhede te verkry oor die basis waarop die ooreenkoms beëindig is. Volgens betroubare bronne beplan die Metro om vir PEU ná die kansellasie van die kontrak steeds sowat R3 miljoen per dag (R800 miljoen per jaar) te betaal. Dit beteken dat die kansellasie van die ooreenkoms selfs meer nadelig as die instandhouding daarvan is.”

Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake, het in sy reaksie op die kansellasie van die kontrak gesê hy is verheug dat AfriSake weereens in die gelyk gestel is deur die gebeure rondom die kontrak. “AfriSake sal voortgaan om hom te beywer vir deursigtigheid, skoon administrasie en die beskerming van eiendomsreg en die regte van belastingbetalers. As ons regsaksie in hierdie geval daartoe kon bydra is ons baie dankbaar,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Ek sien die ander naam is slimmeters. Hier toe nie so slim.
Krag wat gesteel word gaan NIE deur ‘n meter. Dit is so slim dit is. Wat ‘n dom kontrak om aan te gaan. Eish !!!

George van Centurion ·

Ek het nou die dag ‘n verslag gesien hoe Eskom beroof en besteel word. Ons munisipaliteite lewer natuurlik ook hulle bydrae. Hoe lank nog voordat alles inmekaar gaan stort?

Pieter Pan ·

Kyk wie is deel van PEU se direksie, Thuli Zuma. Pres Zuma se dogter…hoe toevallig…

Rupert Ashford ·

Ai toggie, hoe toevallig nou!!! Ek is seker dit was gladnie so beplan nie – hoe ongelukkig kan een familie nou wees dat elke “besigheid” warby hulle betrokke raak in ‘n gemors beland – dit moet Jan se skuld wees…:-)

Hein ·

Daar is natuurlik baie ander besighede wat a.g.v. van hierdie kontrak skade ly. Ons maatskappy het klaar 40 werknemers verloor omdat die projek nie voortgaan soos beplan.

Griet ·

Niemand is verbaaas hieroor nie, geskok ja, maar nie verbaas nie. Waaarom moet die oneffektiewe kontrakteur steeds betaal word???????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.