‘Tshwane kort meer beleggers’ – VF Plus

Tshwane-stadsraad (Foto: Selby Bokaba/Twitter)

Die Vryheidsfront Plus het tydens ʼn raadsvergadering van die Tshwane-metro versoek dat meer gedoen moet word om beleggers na die metro te lok ten einde werkskepping en die ekonomie te bevorder.

Die party sê hy is uiters bekommerd oor die huidige prestasiedoelwitte van die Tshwane Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap (Teda) aangesien daar ʼn beduidende afname aan beleggers in die Tshwane-metro is.

Peter Meijer, VF Plus-raadslid en voorsitter van die ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanningskomitee in dié metro, meen Teda speel ʼn belangrike rol in die bevordering van ekonomiese groei en volhoubare ontwikkeling met die spesifieke doel om beleggers te lok.

“ʼn Verhouding word met hulle [die beleggers] gevestig, die metro word bemark vir sy beleggingsmoontlikhede en bystand word verleen in die verkryging van grondgebruiksregte vir ontwikkelingsprojekte. Ongelukkig het Teda tot op hede weinig impak gemaak om nuwe beleggings te lok.

“Daar is duidelike tekortkominge in die proses om met beleggers te skakel, die stad te bemark en die nodige ondersteuning te bied.”

Meijer versoek dat daar opnuut gefokus word op die ontwikkeling van doeltreffende strategieë om nuwe beleggers te lok en dit vir bestaande beleggers lonend te maak om hul werksaamhede uit te brei.

“Indien die metro doelgerig bemark word as ʼn unieke beleggingsbestemming, sal dit ʼn broodnodige ekonomiese hupstoot beteken met gepaardgaande werkskepping.

“Teda het die potensiaal om ʼn positiewe impak in dié verband te maak en die VF Plus is bereid om met die agentskap saam te werk ten einde sy doelwitte te bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Al wat Teda reg kry is oom te skree TADA!!!!!! Dis nou na die korrupte amptenare se sakke volgestop is.

Vriendelike Frikkie ·

Hulle moet net eers hulle oggend en aand praatjies agtermekaar kry.

Vriendelike Frikkie ·

@Kokerboom – Die GPF het omtrent al Metro se funksies oorgeneem by ongeluks tonele, oorstromings en ander situasies. Hoe maak jy jou bydrae?

Jan Jacobs ·

Onglukig is Tshwane seuitvoerende raad ook maar bee en daar le die probleem

agnes ·

Wie Sal wil belê in n stad wat so vuil en so onversorg lyk? Maak skoon maak skoon! Oral lê gemors langs die paai na die stad toe en die middestad is vieslik vuil. Belê in vuilnisdromme en leer op die laerskool al wat kinders met afval moet doen soos dit in Nederland die geval was jare gelede. N mens is skaam om vir besoekers ons stad te wys. Maak asb n plan met die vuilgoed , veral in die buitewee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.