Tshwane kry hofbevel teen stakende metrowerkers

Stakende werkers van die Tshwane-metroraad het verlede week tydens die onwettige betoging onder meer brandkrane beskadig. (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

Die voortgesette arbeidsdispuut tussen werkers van die vakbond Samwu en die Tshwane-metroraad het ʼn verwoestende uitwerking op dienslewering in die stad.

Die Tshwane-metroraad sê die verskaffing van water en sanitasiegeriewe, krag en die teer van paaie word onder meer geraak. Ander dienste wat deur die staking ontwrig word, sluit in die opskort van busdienste, die sluiting van sommige kliëntedienssentrums en ʼn kliniek.

Betogende munisipale werkers het Donderdag die Pretoriase middestad ingevaar tydens ʼn betoging waartydens voertuie aan die brand gesteek en rommel in die strate uitgegooi is. Groot skade is ook aan Tshwane House, die plaaslike owerheid se hoofkantoor, aangerig.

Volgens die metroraad is werkers wat wel vir diens aangemeld het, gedreig en hul kantore deur stakende werkers gesluit.

Die metroraad het reeds ingestem tot ʼn loonverhoging van 6,25% wat hy wel gaan betaal ondanks die geldelike probleme wat uit die Covid-19-pandemie spruit. Die pandemie en gepaardgaande staat van landwye afsondering het beteken dat miljoene mense reeds hul inkomste kwyt is en nie hul munisipale rekeninge kan betaal nie.

Die metroraad het gesê sy geldsake lyk beroerd en dat hy in hierdie stadium nie kan bekostig om die gesamentlike normeringsooreenkoms in werking te stel nie.

Die arbeidshof het Vrydag ʼn dringende hofbevel teen stakers bekom wat werkers verhoed om verkeer in die middestad te ontwrig tensy hulle toestemming vir ʼn betoging het. Hulle mag ook geen skade aan eiendom van die metroraad, inwoners of sakeondernemings aanrig nie en word verbied om enige werker of kontrakteur van die Tshwane-metroraad te dreig, aan te rand of hardhandig te hanteer.

Mpho Nawa, Tshwane se administrateur, het die stakende werkers gevra om by die bepalings van die hofbevel te hou en na die onderhandelingstafel terug te keer.

“Ons het sedert verlede week die verwoesting van eiendom in die middestad gesien. Dit het nou omgeskakel in dreigemente en die intimidering van werkers wat nie staak nie. Sommige stakende werkers het selfs so ver gegaan om die ligte by een van die stad se klinieke, wat ʼn belangrike funksie gedurende die Covid-19-pandemie verrig, af te skakel.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar. Werkers het ʼn onvervreembare reg om vreedsaam te betoog en nie te dreig, te intimideer of eiendom te vernietig nie. Ons hoop dat werkers aan die hofbevel gaan gehoor gee en terugkeer werk toe om broodnodige dienste aan gemeenskappe te hervat,” het Nawa gesê.

Nawa het gesê die stad se finansies is benard en as die geld vir die normeringsooreenkoms wel betaal word, gaan dit die munisipaliteit op sy knieë dwing en sal hy geen ander keuse hê as om werkers af te lê nie.

“Ons het agteroor gebuig om werkers te midde van kwaai begrotingsbeperkings die jaarlikse salarisverhoging te betaal.

“Ons vra inwoners nederig om verskoning vir die ongerief wat hulle weens die staking moes verduur,” het Nawa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rentia ·

Kan nie staking en veral die verwoesting goedkeur nie, maar wie se skuld is dit die “geldsake lyk beroerd.”

Jack ·

Dit het hoog tyd geword dat stakrs vasgevat en gestraf word vir al die skade wat hulle tydens hulle betogings aanrig.

Ongelukkig is die stakers ook die ANC se stemvee en is die ANC nie by magte om die stakers in die bek te ruk nie. Die enigste alternatief wat dan vir die ANC oorbly is om maar te kapituleer en die koste van hulle oorgawe op die belasting betalers af te wentel.

Ek is lankal gatvol vir die slap houding wat die Always No Consequences het teenoor die destruktiewe gedrag van hulle eie ondersteuners. Netna 08h00 vanoggend was daar ‘n praatjie op RSG or vedraagsaam heid en het een van die kommentators , die linkse dame, dit betreur dat blankes nog steeds stereotipes van alle nie-blankes het, Die ANC en sy optredes hernuwe en versterk hierdie stereotipes elke dag by my, dis nou al so sterk dat ek twyfel of hulle dit ooit sal kan afbreek. En wat is dit nogal: Totale onbevoegdheid, bitter min integriteit, sterk geneig tot korrupsie, geen morele waardestelsel nie, ens

Joggie ·

Dank alle stakers af! Seker daar is genoeg mense wat graag wil werk vir laer salarisse as wat nou betaal word!

Leon ·

Daar is massas blankes wat die swart stakers se plek sal inneem.

Riette ·

Het belastingbetalers enige regte, of het misdadige stakers meer regte? Waarom word hierdie mense nie aangekla en toegesluit vir hul misdade nie? Is die boodskap dat as jy iets onder die vaandel van staking doen, mag jy doen wat jy wil? Dan moet daar dalk ‘n betaling staking oorweeg word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.