Tshwane lê klag oor ‘verdoemende’ klankopname

Sheila Senkubuge, burgemeesterkomiteelid oor paaie en vervoer, en Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane. (Foto: Christel Cornelissen)

Die Tshwane-metro het aanklagte van afpersing aanhangig gemaak in verband met ʼn klankopname wat op sosiale media versprei word en glo verdoemende inhoud bevat rakende eerste burger Stevens Mokgalapa.

Daar word beweer die klankopname is van ’n gesprek tussen Mokgalapa en Sheila Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, kort voor hulle glo intiem verkeer het. In die klankopname kan glo ook gehoor word hoe verskeie topamptenare bespreek word.

Volgens die metro beskou Mokgalapa en Senkubuge die klankopname in ʼn baie ernstige lig. “Dit is nie net onwettig om dit ingevolge die strafproseswet te bekom nie, maar dit word ook gebruik om die Tshwane-metro af te pers en onbehoorlike gunste te probeer bekom.”

Mokgalapa het gesê hulle is al ʼn paar dae lank bewus van die klankopname en dat dreigemente om dit vry te stel deur ʼn tussenganger aan hul gekommunikeer is. Volgens die burgemeester is daar sekere onwettige eise gemaak, insluitend die onmiddellike heraanstelling van vier amptenare wat tans geskors is.

“Ons het albei geweier om toe te gee aan die eise van hierdie individue wat verwag dat ons die wet moet oortree, sodat hulle maklik weer toegang tot die munisipaliteit kan kry. Dit is ondanks die ernstige aard van die aantygings wat hulle in die gesig staar. Ons sal nie die eed van ons ampte opoffer en die vertroue wat die mense van Tshwane in ons geplaas het, verraai nie,” het Mokgalapa gesê.

Die Tshwane-metro het intussen klagte van afpersing by die Brooklyn-polisiestasie aanhangig gemaak. Die metro het gesê hy verwag dat wetstoepassingsagentskappe agter die kap van die byl sal kom rakende hierdie pogings om die munisipaliteit te verander in ’n bastion van onwettige aktiwiteite waar van leiers verwag word om ander pad te kyk.

Stevens Mokgalapa. Foto: ANA

“Indien die amptenare wat glo hiervoor verantwoordelik is dan niks verkeerd gedoen het nie, hoekom probeer hulle verdagte maniere gebruik om terug in die munisipaliteit te kom in plaas daarvan om hulself aan die tugprosedures te onderwerp?

“As hulle inderdaad die teikens is van ’n veldtog om die munisipaliteit van sekere individue te suiwer soos wat beweer word, moet hulle die dissiplinêre proses gebruik om hul onskuld te bewys.”

John Moodey, leier van die DA in Gauteng, het gesê die party het kennis geneem van die ernstige aantygings wat teen Mokgalapa en Senkubuge gemaak word.

“Die DA se politieke leierskap sal met die burgemeester ontmoet, terwyl die party se federale regskommissie opdrag gegee is om ʼn interne ondersoek van stapel te stuur.”

Volgens Moodey sal die DA toepaslik optree wanneer sulke ernstige aantygings aan die lig kom en hierdie saak sal dus met groot omsigtigheid hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stem in die woestyn ·

Lyk my die DA stort in duie, maar hoe weet Moeroela dat hulle intiem verkeer het? Is dit ook op die video? Dan is dit DA porno.

Hennie ·

Wow, en die polisiemanne by Brooklyn weet wat afpersing is? Nee kyk, hulle is ver voor hulle tyd!

CFS ·

@stem in die woestyn.Daar is ń bul van ń verskil tussen klank en video opname.

koos ·

So die klankopname is eg? Nie een van die twee ontken dit nie?
Ek sou meer bekommerd wees oor hoe dit gemaak is en hoe dit versprei was?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.