Tshwane mag beslag lê op Madibeng-bankrekening

skuld

Argieffoto ter illustrasie.

Die Tshwane-metro se versoek om beslag te lê op die Madibeng- plaaslike munisipaliteit se bankrekening om uitstaande skuld te delg, is deur die Noord-Gautengse hooggeregshof toegestaan. Dié Noordwes-munisipaliteit skuld die metro R258 miljoen.

Randall Williams, burgemeester van Tshwane, het die hof se besluit verwelkom. Die beslissing volg nadat die metro ʼn hofaansoek gebring het om beslag te lê op die munisipaliteit se bankrekening nadat die munisipaliteit versuim het om betaalvoorwaardes na te kom vir sy multimiljoenrandse massawatertoevoerskuld. Madibeng het nie die metro se aansoek teengestaan nie.

Dit sal die Tshwane-metro in staat stel om skuld in te vorder wat die metro weer sal help om sy krediteure – soos Rand Water – te betaal. Die metro kry sy massawatertoevoer van Rand Water.

Ingevolge ʼn betalingsooreenkoms wat Madibeng en Tshwane in Augustus verlede jaar aangegaan het, moes Madibeng sy skuld in paaiemente oor ʼn bepaalde tydperk terugbetaal. In dié stadium het die munisipaliteit die Tshwane-metro R243 miljoen geskuld. Die munisipaliteit het egter nie die betalingsonderneming eerbiedig nie.

Die metro was gevolglik genoop om die munisipaliteit se watertoevoer met 50% te beperk.

“Die Stad se hofaansoek was daarop gemik om die Madibeng- plaaslike munisipaliteit te dwing om sy skuld te vereffen deur beslag op hul bankrekening te lê,” het Williams in ʼn verklaring gesê.

“Die munisipaliteit het herhaaldelik versuim om sy betalingsverpligtinge na te kom en die Stad het ʼn geen-verdraagsaamheidsbenadering teenoor uitstaande skuld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mariana ·

Vraag is nou wat word gedoen met die persone wat verantwoordelik is vir die rekening betalings, bly hulle nou net aan in hul poste. Behoort afgedank te word saam met munisipale bestuur. Hopelik is daar fondse in die bankrekening.

SjN ·

Hoekom is die amptenare nog in die poste, dank hulle af, ander mense moet dus die onbevoegdes se werk doen.

Francois ·

Wat van die inwoners van die munisipaliteit wat so getrou hul rekenings op datum hou?

marius ·

En waarom word daar nie op die amptenarre se bates beslag gele nie ?

Pierre ·

was so mooi dorpie gewees, so ruk terug daar deer die meeste paaie is klaar, robotte is vervang met stop strate ens….

Yvonne ·

Ek kan net my kop skud so is die verval in munisipaliteite wat deur ANC betuur word…hulle gee nie n flenter om nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.