Tshwane-metro geroskam oor kragtariefvoorlegging

het Nomfundo Maseti, waarnemende raadslid by Nersa. (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het die Stad Tshwane terug na die beplanningstafel gestuur om ʼn behoorlike voorstel vir ʼn elektrisiteitsverhoging saam te stel.

Die energiereguleerder het gesê die stad se huidige tariefverhogingvoorlegging is onvolledig en verskaf nie behoorlike redes hoekom die stad sy inwoners meer vir elektrisiteit wil laat betaal nie.

“Wat nou hier voor ons is, is nie wat die beleid van julle vereis nie. Daar is geen verduideliking oor wat tot die herstrukturering gelei het en wat die rede vir die verhoging is nie. Ons gee julle ʼn geleentheid om skriftelik na ons toe terug te kom,” het Nomfundo Maseti, waarnemende raadslid by Nersa, gesê.

Nersa het Donderdag sy openbare verhore oor die munisipaliteit se aansoek vir ʼn elektrisiteittariefverhoging van 13,07% en vir herstrukturering van sy kragtariewe in Pretoria gehou. Die verhore het gekom nadat AfriForum die munisipaliteit hof toe gesleep het oor die verhoogde kragtariewe wat ingestel is sonder Nersa se goedkeuring.

Die hofsaak is onbepaald uitgestel nadat AfriForum en die Stad Tshwane ooreengekom het om in gesprek te tree oor die verhogings.

Verteenwoordigers van die munisipaliteit het Donderdag aangevoer Nersa het gesloer om riglyne aan hulle te verskaf nadat hulle hul aansoek ingedien het.

Maseti het hierop geantwoord dat Nersa dalk stadig gereageer het, maar die munisipaliteit se aansoek bevat steeds nie die relevante inligting in die uiteensetting van die elektrisiteitstarief nie.

“Die beleid is baie duidelik dat indien jy aansienlike veranderinge aan die tariefstrukture gaan maak, dit belangrik is dat die veranderinge wat jy voorstel gepaard moet gaan met die koste van die voorsiening. Ons moet ʼn begrip hê van watter koste die munisipaliteit aangegaan het wat hom noop om hierdie wesenlike veranderinge aan sy tariefstrukture aan te bring,” het Maseti gesê.

Die munisipaliteit het sy tariefverhoging eers tot 15 Julie uitgestel nadat AfriForum die hof genader het. Maseti sê egter dié sperdatum sal nie in ag geneem word nie, aangesien die munisipaliteit versuim het om die vereiste dokumente aan Nersa te verskaf.

“Dit was hulle sperdatum, maar van ons kant af, moet ons ʼn behoorlike analise doen en dan ʼn besluit neem wanneer ons al die inligting voor ons het.”

Nersa het Donderdag sy openbare verhore oor die munisipaliteit se aansoek vir ʼn elektrisiteittariefverhoging en herstrukturering van sy kragtariewe in Pretoria gehou. (Foto: AfriForum)

Intussen sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, die organisasie het vandag voorstelle aan Nersa gedoen oor hoe die huidige elektrisiteitsdebakel opgelos kan word. Volgens Mostert het die organisasie voorgestel dat die Tshwane-metro die nuwe verhoogde tarief moet laat vaar en die vorige, goedgekeurde tarief van die 2018/’19-termyn moet implementeer met ’n verhoging wat Nersa moet oorweeg.

“Hierdie voorstel is vir AfriForum die enigste oplossing wat die Tshwane-metro op die oomblik kan implementeer wat wettig, billik en deursigtig is. Verbruikers sal presies weet waarvoor hulle betaal en dit is ’n struktuur waarmee hulle bekend is. Armer mense sal ook nie so erg deur die verhoging geraak word soos met die huidige geïmplementeerde tarief nie. Dit sal ook aan die metro die geleentheid gee om steeds hul gelde in te win,” het hy verduidelik.

“Volgens AfriForum en ander belanghebbendes se berekeninge kom die totale verhoging van elektrisiteit neer op ’n persentasie ver bo die voorgestelde riglyn [van 13,8%]. Dit is deel van die redes waarom AfriForum die saak so sterk teenstaan.”

Mostert sê AfriForum sal steeds voortgaan om die saak fyn dop te hou om te verseker dat geregtigheid geskied en ’n billike tarief, wat nie die inwoners van Pretoria benadeel nie, geïmplementeer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
CC

En die boere betaal hoeveel per paal voordat hulle ‘n eenheid gebruik??

Philippus

Dit is gerusstellend dat daar ‘n organisasie is wat vir behoeftiges opstaan.
Al word Afriforum uitgekryt as ‘n organisasie wat net ‘n sekere bevolkingsgroep probeer beskerm, bewys hulle dat hulle vir elkeen staan wat bedreig word deur die magtige elemente!

Wynand

Dan wil die DA beweer hulle kan die land regeer. Gaan kyk na die bdrog by lisensie kantore. As sjy kla word daar gese jy moet dit maar net aanvaar. Die DA i erger asw die ANC, hoe ondenkbaar dit mag klink

Mellivora

Ons woon op’n klein plasie binne Tshwane se munisipale gebied. In teenstelling met die stadsbewoners wat op’n glyskaal vir hulle kragverbruik betaal betaal ons van die eerste eenheid af die maksimum tarief per eenheid. As rede vir hierdie “diskriminasie” is aangevoer dat dit duurder kos om krag te versprei na die landelike gebiede. Nou sien ek dat die aanvangsheffing (voor enige krag verbruik word) vir ons ook groter gaan wees as vir die stadsbewoners en vir dieselfde rede. Dit kan mos nie so werk nie. As ons aanvanklike heffing hoër is behoort ons op dieselfde glyskaal vir ons krag te… Lees meer »

Drikus Kotze

Ek het reeds R56 op my voorafbetaalde krag moes betaal. Hoeveel ander moes al die ekstra kostes betaal? Hoe gaan Tshwane dit regstel? Of verloor die verbruikers maar net weereens?