Tshwane-metro hou rekeninge eers terug oor kragtarief

lig-gloeilampe-liggies

Foto: Vincent Tantardini/Unsplash.com

Die Tshwane-metro het bevestig dat die besluit om elektrisiteitstariewe in die stad te verhoog voorlopig tot Maandag 15 Julie uitgestel is.

Dit volg nadat die burgerregte-organisasie AfriForum Dinsdagoggend met die Tshwane-metro by die hooggeregshof in Pretoria vergader en besluit het om voorlopig nie die saak oor die stad se elektrisiteitsheffings verder in die hof te voer nie.

AfriForum wou ʼn dringende aansoek bring om die metro se omstrede verhoging van sy kragtariewe te stuit omdat dit sonder die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se goedkeuring op 1 Julie ingestel is.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se hoof vir plaaslikeregeringsake, het die metro nou ook vir AfriForum gevra om voorstelle aan die tarief te maak, veral oor die strukturele verandering, wat ʼn vaste heffing vir elektrisiteitpunte in die stad insluit.

Die Tshwane-metro se elektrisiteitstariewe is sedert Junie in omstredenheid gehul nadat drie verskillende vaste heffings vir elektrisiteitpunte in die stad bekendgemaak is. Die aanvanklike heffing van R200 per maand vir huiseienaars sou meebring dat verbruikers met laer elektrisiteitsgebruik ʼn verhoging van meer as 40% kon verwag.

Die Tshwane-metro het in die laaste week van Junie geskarrel om die misverstand oor die tarief vir die vaste heffing op te klaar maar Nersa het glo die wysing afgekeur en meer inligting oor die vasstelling van die tarief versoek.

Stevens Mokgalapa, die burgemeester van die Tshwane-metro, het gesê die metro sal die finale tariewe bekragtig ná Nersa se openbare sitting hieroor op Donderdag 11 Julie.

“Ek verwelkom die uitstel van die hofsaak. Die metro sal AfriForum en alle relevante belanghebbendes betrek om hierdie aangeleentheid op ʼn gemeenskaplike wyse op te los,” het Mokgalapa gesê.

Hy het verder bevestig dat die raad op 30 Junie die vaste heffing vir verbruikers op landbouhoewes van R610 na R250 verminder het en die heffing vir inwoners is van R200 na R56 verminder.

“Die R56 heffing is reeds inwerking gestel, maar omdat die metro besluit het om die verhoging terug te hou tot ná die vergadering met Nersa sal verbruikers gekrediteer as hulle bykomende koste aangaan omdat hulle meer as een keer per maand elektrisiteit aankoop.”

Mostert sê die metro het ook aan AfriForum bevestig dat ʼn regstelling gemaak sal word op enige persoon wie se rekening verkeerdelik gehef is.

“Daar is ook opdrag gegee dat gewone verbruikers nie rekeninge sal ontvang voordat die dispuut oor die elektrisiteitstarief uitgeklaar is nie.”

Mostert voeg by dat AfriForum die saak steeds as ’n prioriteit beskou en sal voortgaan om die saak te beveg indien ’n billike elektrisiteitstariefverhoging, wat aan die nodige prosesse en goedkeuring vanaf Nersa voldoen, nie op die tafel geplaas word nie.

“Ons ag hierdie saak steeds dringend en sal druk op die metro plaas om ons lede se regte te beskerm.”

Hy het verder gesê AfriForum sal die verloop van die openbare sitting by Nersa se hoofkantoor in Pretoria fyn dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koos ·

Nou wat van diegene wat reeds die R56 onwillekeurig moes betaal met voorafbetaalde kragaankope? Gaan hulle eenhede kry vir die geld? En hoe gaan dit geverifieer word?

Gert van Wierdapark ·

Dis reg AfriForum, gee hul Gas oor die Elektrisiteit!!! He-he-he

Hu ·

Doen asb iets vir ons in die Kaap wat ook onodige levies vir water en krag betaal ons is leeg gesuig deur die geld honger munisipaliteit

Koos de Meyer. ·

Het die DA nou net gewag tot na die verkiesing nou word alles verhoog. Gaan die inwoners van die informele nedersettings en al die ander plekke soos Mamelodi ook die heffing betaal.

Chris ·

Ek het alreeds R800 Voorafbetaalde bloedgeld betaal. Gaan ek n regstelling kry?

Linda ·

Ek moes ook die heffing van R 56,00 betaal. Dit is onregverdig dat daar ‘n heffing betaal moet word. Om watter redes word die heffing gehef? Is dit die DA se onvermoë om behoorlik te bestuur? Hoe gaan hierdie onwelkome heffing terugbetaal word?

aj ·

Wanneer jy magsbehep raak verloor jy diskresie!

Die BETALENDE inwoners word genadeloos GESTRAF sodat hulle vir die NIE -BETALERS se gratis elektrisiteit en water moet opdok.

Sodat die DA kan aanhou regeer in Tshwane (met die geheime steun van die ANC).

MAGSDRONK!

D B ·

Ok, dis alles goed en wel, maar is daar vir enige van “ons” gevra waarvoor hulle moet baklei?

Eerstens, GEEN vasgestelde maandelikse heffings nie.

Tweedens, slegs die minimum verhoging soos bepaal deur NERSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.