Tshwane-metro kry administrateur

Die LUR vir samewerkende regering in Gauteng, Lebogang Maile. (Foto: Twitter)

Die LUR vir samewerkende regering in Gauteng, Lebogang Maile, het aangekondig dat hy ʼn administrateur en administrasiespan vir die sukkelende Tshwane-metro het. Die DA sê egter die stappe is hopeloos voortydig in die lig van die hofsaak wat môre in die hooggeregshof begin.

Die hofsaak is deur die DA ingestel omdat die party meen Maile het nie die korrekte prosedure gevolg nie en wil die metroraad om bloot politieke redes ontbind.

Die nuwe administrateur is Mpho Nawa. Die administratiewe ondersteuningspan is Gilberto Martins, Lefadi Lucas Matibinyane, Riada Kruger, Lebogang Mahaye, Lesedi, Thulisile Njapa-Mashanda, Mmaseabata Abigail Mutlaneng, Mavela Dlamini en Shiva Makotoko.

Dlamini is die waarnemende munisipale bestuurder.

Die metroraad is reeds maande lank nie in staat om ʼn kworum te vorm nie. Boonop steun die meeste stadsraadslede se partye die ontbinding van die stadsraad. Die stad sit sonder ʼn burgemeester, sonder ʼn burgemeesterskomitee en tot dusver sonder die vermoë om sy aansuiweringsbegroting goed te keur.

Die DA se Gautengse leier, John Moodey, het aan Maroela Media gesê sy party gaan voort met die hofsaak omdat hulle oortuig is hulle het ʼn uitstekende kans op sukses.

Maile het Maandag gesê die hofoptrede is maar net omdat die DA gekneus is deur die party se interne struwelinge en onvermoë om sy regerende koalisie in stand te hou – nou hardloop hulle dus weg van ʼn verkiesing af.

Die LUR sê hy het nie politieke motiewe nie, maar tree proaktief op om Tshwane se agteruitgang stop te sit voor die stad ineenstort ná vier jaar van swak bestuur.

As voorbeeld het hy die swak bystand aan vloedslagoffers in Mamelodi en die waterprobleme in Hammanskraal gelys.

Volgens Maile is die instemming van die Onafhanklike Verkiesingskommissie verkry om binne 90 dae ʼn volledige tussenverkiesing in elke wyk in Tshwane te hou, mits die plan nie verongeluk word deur die voortgesette verspreiding van die koronavirus nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.