Tshwane-metro oor grondgrypvoorvalle: ‘Ons tree op’

Argieffoto van onwettige grondgrype in Olievenhoutbosch. Foto: @PairCmanenje/Twitter

Die Tshwane-metroraad voer aan dat hy ferm optree met betrekking tot grondgrypvoorvalle in die hoofstad.

Volgens Lebogang More, Tshwane-administrateur verantwoordelik vir nakoming en wetstoepassing, het die Tshwane-metropolisie (TMPD) se grondbesettingseenheid die afgelope ruk gereageer op voorvalle in Nellmapius, Rosslyn en Olievenhoutbosch.

“Die polisie word ook betrek om te keer dat indringers onwettig grond beset. Die TMPD is opdrag gegee om vinnig op te tree wanneer woonstrukture onwettig op private sowel as staatsgrond opgerig word. Enige ongemagtigde poging om grond te beset, sal deur die metropolisie in samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe gestuit word,” het More gesê.

Verskeie onwettige grondbesettings het al reg oor Pretoria plaasgevind en in sommige gevalle het dit tot die totstandkoming van informele plakkerskampe gelei.

“Geen individu het die gesag om grond onwettig aan ander mense toe te ken nie. Die publiek word derhalwe ingelig dat van die staatsgrond wat beskikbaar is, vir ’n reeds geïdentifiseerde doel aangewys is of dalk in private besit is. In sommige gevalle is oop grond nie geskik vir menslike nedersettings nie.”

More het bygevoeg dat amptenare poog om lede van die publiek te waarsku dat hulle nie die slagoffers moet word van sindikate wat erwe onwettig verkoop nie.

“Wanneer ons ingelig word van ʼn grondbesetting het ons geen ander keuse as om seker te maak dat die regstaat gehandhaaf word nie en dit beteken dat die strukture wat onwettig opgerig is, gesloop word.”

Volgens More is die TMPD ook daartoe verbind om kabeldiefstal en die vandalisering van die stad se infrastruktuur hok te slaan.

“Die onlangse toename in kabeldiefstal is steeds kommerwekkend. Die TMPD is opdrag gegee om gebiede waar dit die algemeenste voorkom te patrolleer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fedup ·

Oh morning. You don’t really do anything about these land grabs. As i understand it, metro police is just too tired to actually do their jobs.
I don’t get how you jump from land grabs to cable theft.
Anyhoo, the red ants do a much better job than you.

koos10 ·

9/10 keer is julle eie of nasionale amptenare betrokke met die verkoop van grond.

Anel ·

Nou wat is die verskil tusse onwettige grond gryp en grond onteining sonder vergoeding!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.