Tshwane-metro steeds leierloos

Die Tshwane-metroraad is steeds leierloos. (Argieffoto: Riaan Cronje)

Die Tshwane-metroraad is steeds sonder burgemeester.

ʼn Burgemeester kon nie Dinsdag tydens ʼn raadsvergadering verkies word nie, aangesien die meeste komiteelede glo nie die vergadering kon bywoon nie. Uit die metroraad se 214 raadslede het net 93 opgedaag vir die vergadering. Die vergadering sou kon voortgaan as 108 raadslede – genoeg vir ʼn kworum – opgedaag het.

“Die DA-leiers moet hul koppe in skaamte laat sak oor dié misbruik van openbare hulpbronne vir ʼn swak georganiseerde raadsvergadering wat bedoel is om die Gautengse uitvoerende gesag se besluit om die munisipaliteit onder administrasie te plaas, te ondermyn,” het Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering in Gauteng, gesê.

Die Gautengse premier, David Makhura, het die metroraad verlede week onder administrasie geplaas.

Die DA is sedert 2016 aan die stuur van die Tshwane-metroraad in ʼn alliansie met ander partye wat toenemend wankelrig geword het.

Maile het vandag gesê die jongste verwikkeling “dui op die ooglopend powere stand van sake by dié strategiese munisipaliteit wat ook die administratiewe tuiste van ons demokratiese staat is”.

Tshwane se voormalige burgemeester, Stevens Mokgalapa, het verlede maand bedank en die raadsvergadering is geskeduleer sodat ʼn nuwe burgemeester verkies kon word.

“Dit is duidelik dat die politieke partye en leiers in Tshwane nie die inwoners se beste belange op die hart dra nie. Almal kan sien regering en dienslewering het ineengestort en dit het ʼn negatiewe uitwerking op inwoners.

“Die oplossing vir die voortgesette dooiepunt is vir die inwoners van Tshwane om hul stemme te gebruik as die enigste oplossing om die stad uit dié leierskapsgat te kry,” het Maile gesê.

Gauteng wag nog vir die goedkeuring van die nasionale departement van samewerkende regering, die nasionale raad van provinsie en die Gautengse kantoor van die speaker oor sy besluit om die stad onder administrasie te plaas. Dit moet binne 14 dae gegee word. Dit sal die provinsie toelaat om ʼn administrateur aan te stel om die stad se sake oor te neem.

Dié administrateur neem dan die daaglikse bestuur van die stad oor en berei ʼn plan voor sodat tussenverkiesings gehou kan word.

Maile het gesê die Gautengse regering bly verbind daartoe om die munisipaliteit te help om sy grondwetlike pligte na te kom en basiese dienste te lewer.

Makhura gaan na verwagting Woensdag inwoners van die hoofstad ontmoet en met hulle gesels oor die provinsie se besluit om die stad onder administrasie te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.