Tshwane-metro wil interdik kry teen grondgrypers

Foto: Daniëlla van Heerden/eNuus

Foto: Daniëlla van Heerden/eNuus

Die Tshwane-metropolisie gaan ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria bring om die onwettige grondbesettings in Nellmapius, oos van Pretoria, te probeer keer.

“Ons gaan vandag [Donderdag] hof toe, maar ek weet nie hoe laat nie,” het Blessing Manale, woordvoerder van die metroraad, gesê. Manale het gesê die metro sal spesifiek aansoek doen om ʼn interdik teen die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) te bekom nadat daar Woensdag geweld uitgebreek het tussen die grondgrypers en die metropolisie.

Manale het gesê daar is in April vanjaar ʼn hofbevel bekom rakende die besetting van munisipale grond, maar dat ʼn nuwe bevel benodig word. Die oorspronklike hofbevel verbied enige persoon om onwettiglik vakante munisipale grond te beset.

Die Tshwane-metropolisie het Woensdag met rubberkoeëls op die inwoners van Nellmapius losgebrand nadat hulle plakkershutte in ʼn oop stuk veld wou oprig.

Die skare het metropolisielede met klippe bestook waarna die metropolisielede met rubberkoeëls op hulle losgebrand het. Die klipgooiers het na die nabygeleë informele nedersetting gehardloop en die metropolisie het hulle in ʼn Njala-pantservoertuig agternagesit. Die Ou Bronkhorstspruit-pad is vroeër met klippe en takke versper en daar is ook motorbande aan die brand gesteek.

Vusi Msiza, woordvoerder van die EFF se Nellmapius-tak, het vroeër gesê die grondbesetting het Sondag begin. “Ons het mense hier op die stuk grond aangetref waar hulle besig was om plakkershutte te bou. Ons het besluit om hulle te ondersteun, aangesien ons almal hierdeur geraak word.” Hy het gesê mense is moeg daarvoor om vir HOP-huise te wag en dat hulle grond soek waar hulle hul eie huise kan bou.

Dumisa Ntuli, woordvoerder van die ANC in Gauteng, het gesê die spesifieke stuk grond is geoormerk vir laekostebehuising. Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se nasionale woordvoerder, het vroeër gesê die party ondersteun grondonteiening maar wou nie spesifiek kommentaar lewer die gebeure in Nellmapius nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Hierdie slapgat Regering moet rigting kry of ons is voor die einde vd jaar n 2de Zimbabwe.Kan hulle nie sien waarna toe is hierdie land oppad, Maar nee hulle baklei oor toilette geld wat ingesamel moet word om Zuma se skuld te betaal intussen wrek hulle mense van HIV as val plat tipies n rugraadloose Regering

VerVanRyn ·

So as dit munisipale grond is brand die polisie los, maar sodra ‘n boer se plaas onwettig gegryp word doen hulle niks. Dit is reg dat die polisie optree teen die grypers, maar hulle moet konsekwent wees en die wit mense wat grond verloor ook help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.