Tshwane-metro wil slimmeters vervang

Argieffoto.

Die Tshwane-metro wil duisende kragmeters vervang nadat die hooggeregshof in Pretoria verlede maand beslis het die kontrak tussen die Tshwane-metroraad en PEU Capital Partners (PEU) is onreëlmatig.

Cilliers Brink, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe sake, het gesê die metro stel nie belang in die slimmeters wat deur PEU en sy filiaal TUMS verskaf is nie.

“Ons wil die 13 000 slimmeters met ons eie meters vervang om seker te maak inwoners ontvang volhoubare, betroubare en bekostigbare elektrisiteitsvoorsiening en waarde vir geld,” het Brink gesê.

Hy het gesê die hooggeregshof se beslissing was ʼn reuse-oorwinning vir ʼn skoon tenderproses en waarde vir belastingbetalers se geld. Die Tshwane-metro betaal tans omtrent R5 miljoen per dag aan PEU en TUMS om die voorafbetaalde elektrisiteitsmeterstelsel te bestuur.

“Die metro hoop om teen die einde van die finansiële jaar in Junie 2018 ontslae te wees van PEU en hulle meters.”

’n Volbank regters het beslis die kontrak is onreëlmatig en dat die gevolge daarvan nietig is. AfriSake het met sy hofaansoek daarin geslaag om die betaling van R950 miljoen deur die Tshwane-metroraad aan PEU te verhoed.

Die beslissing is met koste ten gunste van AfriSake gedoen, wat aangevoer het dat die kontrak nie voldoen aan die vereiste tender- en verkrygingsprosedures, soos voorgeskryf deur die grondwet en verkrygingswetgewing, nie.

Aanvanklik is die aansoek teen sowel die Tshwane-metroraad as PEU ingedien, maar ná die regimeverandering van die ANC na die DA in Augustus 2016 het die stad sy standpunt verander en AfriSake se aansoek ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WitBlits ·

Dit verstom my dat ‘n volbank regters bevind het die kontrak is onreelmatig en ten spyte daarvan word nog steeds R5miljoen PER DAG oftewel R150miljoen per maand aan skelms betaal!!
James Bond was altyd “licenced to kill” maar vandag is skelms ” licenced ti steal”!!!

Basjan ·

Wil ek ook graag weet. Is daar iemand wat vir ons meer inligting kan gee?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.