Tshwane-metrobeamptes vas vir omkopery

Tshwane-metropolisie. (Argieffoto)

Twee polisiebeamptes van die Tshwane-metropolisie verskyn na verwagting vandag (Maandag) in ’n hof op aanklagte van omkopery en korrupsie.

Die polisiebeamptes is Sondag in hegtenis geneem nadat hulle na bewering omkoopgeld van motoriste in Pretoria geëis het.

Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) is nege mense sedert die begin van Desember reeds vir omkopery en korrupsie in hegtenis geneem.

Die eienaar van ’n vragmotor en dié se bestuurder is verlede week in Durban in hegtenis geneem nadat hulle na bewering verkeersbeamptes probeer oortuig het om omkoopgeld te aanvaar. Dit volg nadat die eienaar se vragmotor ’n vals lisensieskyf gehad het.

Nog ’n bestuurder en twee onwettige immigrante is in die Wes-Kaap in hegtenis geneem toe hulle ’n verkeersbeampte na bewering omkoopgeld van R300 aangebied het. ’n Ander oortreder is weer in hegtenis geneem omdat hy omkoopgeld aangebied het om vervolging te verhoed. Dié skuldige het sonder die nodige permitte ’n voertuig vir openbare vervoer bestuur wat boonop oorlaai was.

In ’n ander voorval is ’n bestuurder onder die invloed van drank in hegtenis geneem nadat hy verkeersbeamptes omkoopgeld van R150 aangebied het.

“Omkopery en korrupsie is ’n groot probleem op ons nasionale paaie en dra by tot wetteloosheid wat dodelike ongelukke tot gevolg het,” het die RTMC gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.