Tshwane-metropolisie gaan oortreders oor Nuwejaar vasvat

(Foto: Tshwane-metropolisie)

Die Tshwane-metropolisie (TMPD) gaan ʼn benadering van geen genade nie volg teenoor veral diegene wat regulasies oor openbare vervoer, verbode byeenkomste, die verkoop en vervoer van alkohol oortree en gaan dronkbestuurders vasvat.

Die metropolisie moet help verseker almal dra maskers in die openbaar en gehoorsaam die aandklokreël. Daar gaan ook daarop gekonsentreer word om alkoholverwante trauma te voorkom en alkoholverwante regulasies af te dwing.

Hy gaan onder meer sogenaamde superverspreider- en ander sosiale byeenkomste teiken, openbare vervoer vir voldoening monitor en verseker dat plekke wat nie mag sake doen nie, se deure gesluit bly.

Stywe boetes sal ook uitgereik word – en in sommige gevalle kan tronkstraf selfs opgelê word – aan diegene wat die afsonderingsregulasies oortree.

“Die TMPD se afdwingingsaanslag gaan veral op Oujaarsaand en Nuwejaarsdag verskerp word en verskeie gesamentlike operasies gaan in samewerking met ander departemente en wetstoepassingsagentskappe van stapel gestuur word,” het Karen Meyer, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en nooddienste in die Tshwane-metroraad, gesê.

Meyer sê die stad beoog om nagenoeg eenduisend beamptes Vrydag en Saterdag te ontplooi en hulle sal gesteun word deur die polisie en nasionale en provinsiale verkeersdepartemente.

“Daar gaan veral gefokus word op gebiede wat bekend is vir groot en spontane Nuwejaarsaamtrekke,” het Meyer gesê.

Permanente padblokkades sal van vandag by alle toegangsroetes na die stad opgestel word en gesondheidswerkers sal siftingstoetse daar doen, terwyl wetstoepassers beslag gaan lê op verbode items.

“Die hooffokus van die plan is om alkoholmisbruik te verhoed en deur dit te doen, alkoholverwante trauma en onnodige hospitaalopnames te verminder.”

Meyer het ʼn beroep op inwoners gedoen om net indien werklik nodig te reis en dit dan verantwoordelik te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.