Tshwane moet hoes vir oudamptenare se medies

Die amptenare het finansieel swaar getrek nadat Tshwane onvoorsiens hul mediesefondsbydraes ná aftrede opgeskort het. (Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

ʼn Groep afgetrede munisipale amptenare – vantevore verbonde aan die Kungwini-munisipaliteit – het die Tshwane-metroraad suksesvol arbeidshof toe gesleep nadat hul mediesefonds-subsidies ná hul aftrede summier opgeskort is.

Die arbeidshof het in Augustus beslis dat die Tshwane-metroraad die 70%-subsidie vir verskeie oudamptenare wat jare lank hiersonder moes klaarkom, moet betaal. Die hof het selfs verder gegaan en ook gelas dat die metro 70% van die premies wat die amptenare reeds aan hul mediese fondse betaal het, moet terugbetaal. Tshwane skuld dié amptenare gesamentlik amper R1 miljoen.

Applikante moes hulle egter die afgelope maand wéér tot die hof wend, nadat die metro versuim het om die hofbevel na te kom.

Die Kungwini-munisipaliteit op Bronkhorstspruit is in 2010 by die Tshwane-metroraad ingelyf en munisipale amptenare is destyds beloof dat geen van hul voordele ná die samesmelting verminder sou word nie. Van dié belofte het egter dadels gekom.

Finansiële terugslag vir oudamptenare

Hanlie Anderson, ʼn amptenaar met 26 jaar diens agter die blad, het met haar aftrede in 2016 met ʼn skok besef Tshwane weier om voortaan die 70%-subsidie van haar mediesefondsbydrae – waarop sy geregtig is – te betaal.

Anderson sê sy is destyds meegedeel dat Tshwane geen ooreenkoms met die voormalige Kungwini aangegaan het om die subsidies voort te sit nie. “Hulle het ons beloof ons sal nie ná die inlywing slegter daaraan toe wees nie. Vantevore is 70% van ons mediese fonds deur die stadsraad betaal en nou moes ek skielik 100% opdok.

“Volgens my ís dit ‘slegter daaraan toe’. Jy kon my eerder met ʼn vyfpondhamer teen die voorkop geslaan het,” sê Anderson.

“Ek het gesit en huil in hul kantore. Ek het vertel van my man se hartaanval, van my gestremde kind … Niemand wou enigiets van my saak weet nie.”

Anderson moes in Julie 2018 noodgedwonge haar mediese fonds heeltemal kanselleer, nadat sy dit drie jaar lank ten volle self betaal het. Dit was ʼn enorme terugslag, veral omdat haar man, Ronnie (69), reeds ʼn hartaanval gehad het en hul jongste seun, Ronald, wat Down se sindroom het, deurlopend medikasie benodig.

“Dit het broekskeur gegaan wat finansies betref. Dank die Here dat my man en seun gesond gebly het. Ongelukkig het ek verlede jaar verskriklik siek geword. Ek was ʼn paar maande bedlêend en was heeltemal verlam.

“Ek het nie meer ʼn mediese fonds gehad nie. Verdomde Tshwane.

“Vandag is ek gesond, maar my arme man moes my maande lank versorg en my kind is aan die genade oorgelaat.”

Anderson het haar tot die vakbond Imatu, waarvan sy ʼn lid is, gewend en het ook die hulp van Carenesta de Jager, ʼn voormalige raadslid met ondervinding van meer as vier dekades, ingeroep.

De Jager, met haar uitgebreide kennis van wetgewing, kon vasstel dat Ordonnansie 17 van 1939 op die betaling van die subsidies van toepassing is. Ingevolge daarvan is die metroraad verplig om alle amptenare wat voor Maart 1998 aan ʼn goedgekeurde mediese fonds behoort het, met 70% van die premie te subsidieer. Die metro doen dit boonop met amptenare wat vroeër aan die Akasia- en Centurion-rade verbonde was, maar het geweier om dieselfde met amptenare van die voormalige Kungwini-raad te doen.

“Die art. 12-kennisgewing ingevolge waarvan Kungwini ontbind en deel van Tshwane gevorm het, lui uitdruklik dat alle ooreenkomste, personeel, verordeninge, kontrakte en dies meer van krag bly,” sê De Jager.

“Daar is net een woord vir wat hier gebeur het: moedswilligheid.”

Nadat hulle die nodige dokumente kon versamel, het die groep hulle met behulp van die vakbond tot die hof gewend.

Mikey Rademan (67), ʼn voormalige senior amptenaar wat byna 35 jaar vir die verskillende rade gewerk het, moes ook, nes Anderson, skielik 100% van sy mediesefondspremie betaal en vorm deel van die hofgeding.

Rademan moes noodgedwonge na ʼn goedkoper plan afgradeer. “Ek kon nie die hoë premie bekostig nie; dit sou omtrent die helfte van my pensioen gewees het.”

In Rademan se geval het die Tshwane-metroraad boonop aangevoer hy het vroeër van mediese fonds verander en dat hy dus nie meer geregtig op die subsidie is nie. Die mediese fonds waaraan Rademan sedert 1984 behoort, is egter bloot oorgeneem deur ʼn ander maatskappy en hy sê hy het tot vandag dieselfde mediesefondsnommer.

“Ek moes later in my spaargeld indelf en het agteruit bly boer. As ek die oorspronklike premie moes volhou, sou ek eindelik niks van my pensioen oorgehou het nie.”

Hof gryp in

Anderson en Rademan sê hulle het verlede maand, ná die hofuitspraak, die eerste subsidie ontvang, maar van die terugwerkende bedrag het hulle nog nie ʼn sent gesien nie. Luidens hofstukke beloop die bedrag in Anderson se geval meer as R82 000 en in Rademan se geval byna R190 000.

In nog ʼn geval is ʼn amptenaar wie se subsidie ook opgeskort is, intussen – sonder ʼn mediese fonds – weens kanker dood. Die betaling en subsidie wat Piet Bezuidenhout toegekom het, moet nou aan sy weduwee betaal word. Dit beloop meer as R250 000.

Die aansoekers het intussen ook ʼn hofbevel bekom ingevolge waarvan daar op die bates of bankrekening van die Tshwane-metroraad beslag gelê mag word, sodat die uitstaande geld, wat gesamentlik byna R950 000 beloop, betaal kan word. Rente word boonop vanaf 17 Augustus, die dag waarop uitspraak in die saak aanvanklik gelewer is, gehef.

Anderson sê sy is dankbaar dat die gesin nou ten minste weer gesondheidsversekering kan bekostig. Omdat hulle egter so lank nié deel van ʼn mediese fonds was nie, word enige chroniese toestande vir ʼn jaar lank glad nie gedek nie. Dit skep groot onsekerheid in dié tyd, maar die toekoms lyk darem beter.

“Dit is ʼn dankbaarheid op sy beste,” stem Rademan saam. “By Tshwane is jy net ʼn nommer, maar by Bronkhorstspruit was ons ʼn familie en ʼn gemeenskap. As iemand swaargekry het, het ons ingespring en gehelp.”

Die metroraad het nog nie op ʼn versoek om kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

As hulle so lelik met staatsamptenare is, hoe lelik is hulle nie met ander pensioenarisse nie?

Eugene ·

Dit moet darem lekker wees om vir die munisipaliteit te werk. Ek moes maar na aftrede my eie medies betaal. My maatskappy dra nie n sent by nie.

anniekiewiet ·

Dankie vir die hof wat regverdig uitspraak gee. Ook aan almal wat gehelp het. Dis ongelooflik wreed om vandag sonder n medies fonds te probeer lewe. As jy dit wettig kan bekostig, probeer mense als om dit te behou.

Papsak ·

Ja ons is almal maar net n nommer in hierdie land van korruptheid

JohanR ·

Moet ek en jy, die man en vrou in die straat, of miskien op die straat nie vir ons eie privaat medies betaal nie. Myne kos my oor die R2600 ‘n maand en rising, want ek wil nie by Steve Biko op eindig nie. En dan vlieg ou David Mabuza Rusland toe vir behandeling, en hier in SA het ons van die beste chirurge in die wereld. Wonder hoeveel daai trippie die Suid Afrika belasting betalers uit die sak gejaag het. Ek se altyd hy is Rusland toe sodat daar vir ‘n brein, of tekens van ‘n brein kan gesoek word!

Mieke ·

Vir die pensioen- ouderdom groep raak dit al hoe moeiliker om kop bo water te hou. Baie van hulle maandelikse geld paaiement kan niemeer tredhou met inflasie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.