Tshwane onder administrasie geplaas

David Makhura, Gautengse premier. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Die beleërde Tshwane-metroraad is onder administrasie geplaas. Dit is ʼn ingrypende stap om die metro, wat nou reeds ʼn geruime tyd sonder ʼn burgemeester óf munisipale bestuurder sit, reg te ruk.

Die Gautengse premier, David Makhura, het Donderdag aangekondig die raad word ontbind en onder administrasie geplaas tot ʼn nuwe raad binne 90 dae verkies word.

Makhura het gesê die drastiese stap is in die beste belang van die hoofstad se inwoners. “Die huidige onsekerheid, onbestendigheid, gebrek aan optrede en ineenstorting van dienste moet vreesloos gestuit word,” het hy gesê.

Makhura het gesê die provinsiale regering neem kennis van die kwalik bedekte dreigemente van regstappe deur leiers van ʼn “sekere politieke party”, maar dat die provinsiale regering nie afgepers gaan word om niks te doen nie.

“Ons wil politieke partye waarsku om nie politieke speletjies met inwoners se lewens te speel nie.”

Die premier sê die metroraad kan in dié stadium nie sy grondwetlike pligte nakom nie.

Die stad het volgens Makhura sedert 2016 ook versuim om wykskomitees te kies en burgers toe te laat om betrokke te raak in die regering van Pretoria.

Die Tshwane-metroraad se kantoor in die Pretoriase middestad. (Foto: Christel Cornelissen)

Makhura sê die voorsiening van skoon drinkwater bly deesdae toenemend in die slag en vullisverwyderingsdienste is die swakste nóg.

“Daar is versuim om maatskaplike toelae te bestee wat beteken die geld is terugbetaal aan die tesourie. Wat sy finansiële posisie betref, het die stad groot uitdagings weens sy onvermoë om al sy krediteure te betaal, asook die probleme wat hy het om skuld in te vorder.

“Die Gautengse uitvoerende raad het tot die slotsom gekom dat die huidige situasie by die munisipaliteit neerkom op buitengewone omstandighede, wat die ontbinding van die raad en die aanstelling van ʼn administrateur regverdig,” het Makhura gesê.

Volgens die premier doen die provinsiale regering dié stap in die beste belang van die inwoners van Tshwane en dat dit aan grondwetlike bepalings sal voldoen.

Maroela Media het vroeër berig die probleem in die nou ontbinde raad was grootliks gewortel in die ontrafeling van die samewerkende ooreenkoms tussen die EFF en die sogenaamde kapitalistiese groepering (DA, VF Plus, Cope en die ACDP). Die raad funksioneer sedert 2016 sonder dat enige party ʼn volstrekte meerderheid het.

Omdat die raad deurlopend misluk het om ʼn burgemeester te kies (of selfs ʼn begroting te aanvaar), het dit aan die provinsiale regering ʼn gulde geleentheid gegee om in te gryp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

henndrik ·

Hopelik sal die slaggate en foutiewe verkeersligte nou aandag kry. Dit sal ook help as die inwoners wat oor die weg moet kom met stukkende vullus dromme, nuwe dromme kan kry

koos10 ·

Hendrik, wees net baie versigtig as hulle vir jou ‘n nuwe drom bring. Die ou drom word nie gevat nie en jy word vertel dat ‘n ander span dit moet kom haal, wat geen probleem is nie. Maar kry jou volgende rekening dat sien jy daar word gehef vir 2 dromme en teen R320.00 per drom en dit is nie oulik nie!

Annakapat ·

Henndrik, daar is ‘n oplossing vir stukkende vullisdromme.
Gaan google plastiese sweiswerk in die Moot of besoek Saterdagoggend die boeremark in Silverton waar ons ‘n stalletjie het.
Ek wil nie hier gratis bemarking doen deur ons mpy se naam te gee nie.

Michael ·

Niks maar niks werk of funksioneer soos dit moet nie daarom moet ons n onafhanklike tuisland kry waar bevoegde mense in beheer geplaas word vir ons om vooruitgang te hê.

koos10 ·

En nou die drie soentjies aan die einde van die berig? Groet ons ons geliefde Pretoria so?

Megan Swart ·

Dagsê Koos10
Dit is inderdaad ‘n fout. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Toktokkie ·

Die probleem is dat geen van die politieke partye wat die probleme veroorsaak belangstel om dinge vir inwoners beter te maak nie. Hulle volg hul eie politieke agenda. Die DA het ten minste probeer dinge regmaak en aandag te gee aan inwoners se behoeftes. Maar omdat die ander nie in beheer kon bly of beheer kon kry nie, is dit nou waar ons sit. Die skrif is teen die muur en die laaste werkende metro het ook nou geval. Hulle sal nie stop voor hulle alles verwoes het om in hul sosialistiese selfverrykende agendas te pas nie. Ek wonder net wie vir al die ander mense gaan betaal as hulle alles opgemors het. Mens kan nie betaal vir niks nie. Of is hulle plan dat jy verwoede belastings en heffings moet betaal net om in jou huis op jou erf te kan bly? Hier is ‘n defniteiwe versteekte plan. Maar ons sal seker gouer as later uitvind wat dit nou weer is. Hartseer dag in ons lewens……..

Ou Baardbek ·

Dit is waarskynlik waarom aansoeke vir wateraansluitings eenvoudig vir maande nie aandag geniet nie?

Gato ·

Iewers in die Bybel staan daar dat die Goddelose hou nie van orde nie. Laat mens wonder

Ronéll ·

Toktokkie ek stem heeltemal met jou saam.
Almal weet dat daar nou slegs ANC of EFF lede aangestel gaan word om kwansuis dinge reg te ruk.
Wat n lagwekkende vooruitsig.
Sedert die DA oorgeneem het, het ons nog nooit enige vullisverwydering probleme gehad nie, gras langs die paaie word gesny, daar is selfs bushaltes opgerig. Munisipale rekeninge word betyds ontvang.
Ek’s egter bevrees wanneer die sogenaamde raad saamgestel gaan word, gaan die skoon oudits weer terugsak na probleem gevalle.
Nepotisme en boeties vir baantjies gaan weer aan die orde van die dag wees.

Michiel ·

Die enige, strukturele oplossing: ons eie tuisland. So klein soos Swaziland is al genoeg. Ons eie bevoegde mense, oor onsself besluit. Geen ANC-terreur, geen rassisme, ééntalig Afrikaans.

Die tuisland kom nie vanself. Die ANC gaan dit nie aan ons persent gee.

J ·

Soos in Gauteng met Tshwane …. kan die Kaapse provinsiale regering ook die ANC dorpe “onder administrasie” plaas?

Indien wel dan moet die DA dit DADELIK doen !

Leon ·

Die elektriese afdeling het gesterf, Hy is dood en ons moet hom begrawe.

marius ·

Waarom word hy nie afgedank nie ? Dis onder sy beheer wat die gemors plaasgevingd het !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.