Tshwane onder administrasie geplaas

Stevens Mokgalapa. (Foto: DA)

Die Tshwane-metro is onder administrasie geplaas nadat die ANC en EFF Donderdag daarin geslaag het om ʼn mosie van wantroue in die burgemeester en speaker deur te voer.

Lebogang Maile, Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het Vrydag tydens ’n mediakonferensie gesê die Gautengse regering is genoop om by die metro in te gryp.

Dít volg kort nadat Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane wat tans op spesiale verlof is, en speaker Katlego Mathebe deur mosies van wantroue uit hul ampte onthef is.

Dit beteken dat dié metro voortaan weer deur die ANC beheer word. Die ANC het ook vandeesweek beheer van die Johannesburgse metro teruggeneem nadat Geoff Makhubo verkies is tot nuwe burgemeester.

“Die kern van die uitdagings wat die twee metro’s in die gesig staar, is die vraag na leierskap. Daar moet verstaan word dat geen enkele politieke party ʼn volstrekte meerderheid in vier van die 11 munisipaliteite in Gauteng behaal het ná die 2016-verkiesing nie. Dit het daartoe gelei dat politieke partye hul wetlike reg en voorreg uitoefen om koalisies binne die vier munisipaliteite aan te gaan,” het Maile gesê.

Die DA glo egter dat dié reg Donderdag onregmatig uitgeoefen is met die verwydering van Mokgalapa en Mathebe. Die party gaan dit in die hof betwis, sê John Moodey, DA-leier in Gauteng.

Moodey sê in ’n verklaring raadslede van die ANC en die EFF is met die hulp van ander partye in ’n onwettige magsgreep geplaas wat tot chaos tydens gister se raadsvergadering gelei het.

Moodey het gesê dat die speaker by die aanvang van die vergadering self teruggestaan het van haar amp om plek te maak vir haar verkose adjunk, Zweli Khumalo. Dit was nodig aangesien die eerste punt op die agenda die mosie van wantroue in die speaker was.

Moodey het bygevoeg dat die ANC vooraf gereël het dat Willy Bhila, onwettige adjunkdirekteur-generaal van COGTA, as voorsitter van die vergadering optree.

“Toe die DA beswaar maak teen Bhila se teenwoordigheid aangesien dit onwettig was, het die ANC- en EFF-raadslede egter met die verkiesing van die EFF-raadslid Obakeng Ramabudo voortgegaan om ʼn mosie te lei wat gelei het tot die verwydering van Mathebe,” sê Moodey.

Hy het gesê dat die ANC en EFF oomblikke later voortgegaan het met ʼn mosie om burgemeester Mokgalapa te verwyder.

“Toeskouers [van die vergadering] moes gedink het hulle is nie meer in Suid-Afrika nie, maar in ʼn piesangrepubliek,” het Moodey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hendrik ferreira ·

Moody is reg as hy sê dit is n piesang republiek,ons moet n onafhanklike tuistaat kry hoe gouer hoe beter.

Eddie ·

Onafhanlike Staat sal nooit moontlik kan slaag nie , maar wel sterk federale konsentrasie punte in al die provinsies waar selfbeskikking spontaan ingestel en beheer kan word ! Kyk na die Switserse regeringstelsel !

André-Chris ·

Dan kan hulle die piesangrepubliek se naam na Bonzi toe verander.

Buffel ·

Dis die nar wat sy staf in sy kantoor vermaak met biologie lesse?

Feite ·

Moodley is reg, SA is n piesangrepubliek, maar n ongeneeslike siek “failed state” piesangrepubliek danksy ANC/EFF ideologiee van magshebsug, BEE selfverryking ten koste van dienslewering, onverdraagsaamheid en onversoenende optredes van geweld, intimidasie, diskriminasie en onderdrukking!

Het-DAT-gestem ·

Die DA het die kiesers in die steek gelaat en nou gaan ONS die prys daarvoor betaal. Wie weet waarmee hierdie klomp narre vorendag gaan kom???!!!

SeMaarNet ·

Niemand het ‘n meerderheid gekry nie – dis waar die eintlike probleem le… so hoe het hulle in die steek gelaat? Te min mense het vir hul gestem, dan sou hierdie nie sommer gebeur het nie…

Cherokee ·

Of jy vir dat gestem het om vir dit gestem het…
totale gebrek aan selfrespek om dit selfs in ‘n openbare domein te erken.

skurweberg ·

Wat se die ampseed van die President oor sy verantwoordelikheid oor gister se gebeure by die raadsvergadering van Tshwane? veral as die gebeure as ‘n “magsgreep” getipeer word, wat ‘n nuwe woord is. Woorde soos “magswellus, magsvertoon en magspolitiek kom wel voor, maar “magsgreep” kom nie eers in die woordeboek voor nie. Die enigste plek waar ek dit in sinsverband kon opspoor is in Psalm 10:15 (84 vertaling)

Cherokee ·

skurweberg, jou kennis van die Boek van alle boeke, klink alles behalwe skurf..!

Swartwolf ·

Herdoop die “Republiek van Suid Afrika” na Mzanzi of Azania. Die naam en politieke bestuur styl pas by mekaar. Net nog ‘n Afrika piesangrepubliek. Beste regering in Afrika deur Afrikane ooit was Botswana onder Seretsi Khama.

Nel ·

Magsgreep hou verband met tirannie. “In klassieke politiek, is ‘n tiran iemand wat ‘n magsgreep uitgevoer het en mag behou uit eie middele, in teenstelling met oorerflike of konstitusionele prosesse. Hierdie soort bewind word na verwys as tirannie”. (Wikipedia)

Nel ·

Die woord ‘magsgreep’ word baie in verband met tirannie gebruik. “In klassieke politiek, is ‘n tiran iemand wat ‘n magsgreep uitgevoer het en mag behou uit eie middele, in teenstelling met oorerflike of konstitusionele prosesse. Hierdie soort bewind word na verwys as tirannie”.(WIKIPEDIA)

Alexz ·

Dobald Trump het situasie vroër vanjaar korrek opgesom met die woord “sh*thole country” Gaan kyk op Wikipedia na die definisie daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.