Tshwane oorweeg regstappe teen Rand Water oor treurige watersituasie

Foto: Pieter Cloete/Maroela Media

“Om sonder krag te sit is een ding, maar om sonder water te sit is ondraaglik.”

Só sê Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, oor die voortgesette wateronderbrekings oor groot dele van die stad die afgelope week.

Brink sê die probleem het die afgelope naweek ontstaan toe Rand Water – volgens hom op kort kennisgewing – die metroraad in kennis gestel het dat kragonderbrekings sy watervoorsieningsvermoë negatief raak.

“Ons munisipaliteit is afhanklik van Rand Water vir meer as 70% van die water wat ons aan ons verbruikers verskaf. Wanneer Rand Water nie water na ons reservoirs toe pomp nie, of as hulle waterdruk beperk is, sit ons met waterprobleme in Pretoria,” sê Brink.

Net enkele maande gelede het talle buurte in die ooste van Pretoria ook dae lank sonder water gesit en sedert Desember is verskeie soortgelyke gevalle – waar Rand Water se watervoorsiening aan Tshwane en ander munisipaliteite sonder waarskuwing onderbreek is – ondervind.

“Verlede week is water na Soshanguve beperk. Ons het daaroor gekla waarna watertoevoer, sonder enige verduideliking van die situasie, herstel is,” sê Brink.

“Toe ons in April met die bestuur van Rand Water vergader het, is daar aan ons verduidelik dat hoë vlakke van beurtkrag, sowel as kabeldiefstal, die hoofoorsaak is.

“Hiervoor het ons natuurlik begrip, maar Rand Water het ook ʼn verpligting om bystandplanne in plek te stel; dit kan nie wees dat die watertoevoer na duisende en selfs honderdduisende huishoudings vir dae aaneen geraak kan word deur ʼn enkele gebeurtenis nie.”

Volgens Brink het die stadsraad Rand Water spesifiek oor twee kwessies gevra om Tshwane meer weerbaar teen wateronderbrekings te maak: eerstens dat Rand Water die telemetrie op sy reservoirs (dus hoe vol dit op enige gegewe tydstip is) met die metro te deel en tweedens dat Rand Water die munisipaliteit vroegtydig sal inlig oor enige probleme wat opduik sodat gebeurlikheidsplanne ingestel kan word.

“Ten spyte van hierdie pleidooie vind ons onsself nog steeds aan die ontvangkant van Rand Water se laat kennisgewings. Rand Water se brief oor kragonderbrekings is ontvang toe die reservoirs aan ons kant reeds begin leegloop het,” sê Brink.

Alhoewel die stadsraad voortdurend in gesprek met Rand Water oor die watervoorsieningskwessies is, sê Themba Fosi, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste, dat geen akkurate of bygewerkte inligting van die grootmaat-watervoorsiener ontvang word nie.

“Senzo Mchunu, die minister van water en sanitasie, het ʼn noodvergadering oor die watervoorsieningskwessies in die provinsie met die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) vir Dinsdagmiddag belê.”

Volgens Fosi sal die uitdagings met Rand Water ook dan bespreek word.

Brink sê hy het Dinsdagoggend ʼn boodskap aan Rand Water se uitvoerende hoof gestuur om dit duidelik te stel dat as die watertoevoer na Tshwane nie herstel word nie, dit ʼn krisis in die hoofstad kan veroorsaak. Hy het ook gevra dat die stad nie langer in die donker gehou word oor die ware stand van sake by Rand Water nie.

“Ek sal Dinsdag ook regsadviseurs en waterkenners raadpleeg om vas te stel wat Tshwane kan doen om meer weerbaar teen die probleme by Rand Water te wees.

“Ten spyte van die openbare verpligting op Rand Water om voortdurend die reservoirvlakke met die stad te deel, gebeur dit nie. Dit maak dit vir ons onmoontlik om die tekorte te hanteer.

“Ons kan net tot die gevolgtrekking kom dat Rand Water interne voorsieningsprobleme het en nie die toevoer na die stad kan balanseer nie. Die gevolg is namate een reservoir voldoende herstel, ʼn ander reservoir se toevoerkapasiteit verlaag,” sê Fosi.

Die volgende reservoirs veroorsaak tans groot uitdagings vir die stad:

  • Klapperkop-Noord en -Suid
  • Lotus Gardens
  • Heuweloord
  • Mnandi-Suid
  • Bakenkop-Oos en -Wes en Bakenkop-toring
  • Mooikloof
  • Sunderland Ridge
  • Salvokop
  • Rooihuiskraal

Volgens Fosi het die munisipaliteit toetse op inkomende Rand Water-toevoerlyne gedoen en ʼn druklesing van 0% op baie van bogenoemde reservoirs gekry.

Die stad het reeds watertenkwaens na die geraakte gebiede gestuur.

“Die stad vra om verskoning vir die ongerief wat die watervoorsieningskwessies veroorsaak.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om hierdie uitdagings so gou moontlik te pak. Intussen doen ons ’n beroep op inwoners wat wel water het, om dit asseblief spaarsaam te verbruik,” sê Brink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

domheks ·

Nou hoe verstaan ek nou? daar is dan baie minder beurtkrag? Iemand lieg.

Hendrik ·

Die rede is Metro Randwater staan omder die beheer van die anc eff en doelvewus word hd chaos veroorsaak om Tshwane onder beheer van die DAin n swak lig te stel.

Harley Davidson ·

Die cilliers brink lyk na n skerp en goeie leier te wees het vandag op die radio gehoor dat hy terugvoering gee oor die water sitsuasie.

Johann ·

Raak maar gewoond daaraan om aan die absurde ontvang kant van onbevoegde moedswilkigheid te wees.

Casper ·

Dit is nie net Tshwane nie maar ander dorpe ook.’n dorp soos Bethal sit gereeld sonder water.

Marthinus Johannes ·

Maar net NOG korruptes aan die werk, Dan is daar nie geld vir herstel werk nie en Verder maar net te sleg om te werk.

My siening ·

Selfs die reg gaan hulle nie van hulle korupte stoele kry nie want die vis se kop is vrot en selfs hy Cyrel steur hom nie aan wette nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.