Tshwane oorweeg regstappe teen vakbond vir staking

Werkers staak al vir dae. (Foto: Mohlaloga the Les/Twitter)

Die Tshwane-metroraad oorweeg nou regstappe teen die vakbond Samwu nadat ʼn onwettige staking die afgelope paar dae dele van die stad lamlê.

Die metro beweer dat lede van dié vakbond, wat ook werknemers van Tshwane is, die onwettige staking dryf en doelbewus dienslewering in die stad ontwrig.

“Die stad kan nie langer vir ʼn losprys gehou word nie,” sê Randall Williams, burgemeester van die Tshwane-metro.

Samwu voer aan dat sy lede egter nie die staking dryf nie.

Die ongelukkige werknemers het vandeesweek dienste grootskaals ontwrig met die stad se busdienste wat sy bedrywighede moes opskort en kragonderbrekings wat inwoners in donkerte hul.

Tshwane spook steeds om talle kragonderbrekings in die stad aan te pak nadat sommige inwoners dae lank sonder krag was.

“Sommige dele van die metro het af en toe kragonderbrekings ervaar, maar dit is sedertdien aangepak. Daar word nou baie vordering gemaak om gebiede wat sonder krag is heeltemal te herstel.”

Samwu skiet steeds die bewerings dat hy by die staking betrokke is af “ondanks foto’s wat die ronde doen dat Tshwane-werkers Samwu-baniere dra,” sê Williams.

“Dít dui op een van twee dinge – óf Samwu ondersteun die onwettige optrede van hul lede, óf die vakbond het in werklikheid beheer van sy organisasie en lede verloor.”

Die stad oorweeg nou regstappe teen Samwu vir minagting van die hof.

Volgens Williams is die werknemers wat nie aan die staking deelgeneem het nie ook deur hul kollegas geïntimideer, gedreig en in sommige gevalle met geweld uit hul kantore verwyder.

“Ons moedig ook werknemers aan wat gedreig of fisiek aangerand is om die arbeidsverhoudinge-eenheid te nader sodat strafregtelike klagte teen die skuldiges aanhangig gemaak kan word en ons kan toesien dat die nodige tugstappe ingestel word.”

Die metro het reeds ʼn aantal mense geïdentifiseer teen wie optrede sal volg.

“Ek wil wel erkenning gee aan alle Tshwane-werknemers wat steeds hul pligte verrig het ondanks die stresvolle omstandighede waaronder hulle geplaas is,” sê Williams.

“Ek wil boonop inwoners van die metro om verskoning vra vir al die ontwrigting die afgelope tyd. Die oorgrote meerderheid van die Tshwane-amptenare doen hul bes om te verseker dat alle bedrywighede voortgesit kan word.”

Die stad was Woensdag genoop om die burgerregteorganisasie AfriForum se hulp te ontbied om die Tshwane-metropolisie by te staan. Die EFF wil egter nou ʼn strafregtelike klag teen Grandi Theunissen, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane, aanhangig maak omdat hy hierdie organisasie se ondersteuning ingespan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.