Tshwane-ouditverslae beter, ‘maar harde werk wag’

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane tydens sy eerste stadsrede. (Foto: Verskaf)

Die Tshwane-metro se ouditverslag vir die 2022-’23-boekjaar toon verbetering teenoor die vorige jaar, maar politieke partye meen baie harde werk lê nog voor vir die metro om werklik finansieel op dreef te kom.

Die metro kon daarin slaag om die ouditeur-generaal (OG) se ouditmening van 2022 te verbeter van ongunstig tot gekwalifiseerd in 2023.

“Hoewel ʼn gekwalifiseerde ouditmening steeds negatief is, verteenwoordig dit ʼn aansienlike verbetering in bestuur. Dit beteken wat ons tans doen, werk en as ons in hierdie rigting voortgaan, sal ons volgende jaar ʼn ongekwalifiseerde ouditmening kry,” het Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, gesê.

Die VF Plus, wat saam met die DA in ʼn koalisie in Tshwane regeer, stem saam. “Hoewel dit steeds baie ver is van waar die VF Plus die mening wil hê, is dit ʼn stap in die regte rigting.”

Die party sê buiten die oorsigwerk van die burgemeesterskomitee en die oorsigkomitees, het ander faktore ook die verbetering teweeg gebring, onder meer die betekenisvolle verbetering in bestuur en ervaring van senior amptenare, onder andere die stadsbestuurder, Johann Mettler, en die nuwe hoof- finansiële beampte, Gareth Mnisi.

Brink sê die stad het van die begin af geweet hulle sal nie die OG se ongunstige bevinding in ʼn enkele jaar kan omkeer nie.

Hy skryf die sukses wat hulle tot dusver behaal het toe aan ʼn reeks maatreëls wat hulle die afgelope jaar ingestel het om te verseker dat die metro se finansiële situasie verbeter. “Die stadsbestuurder het ook die regte besluit geneem om te versoek dat die metro se finansiële state ietwat later ingedien word. Dit het ons in staat gestel om die nodige gehaltebeheer te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KB ·

Wanneer begin CoT met sy beplande afleggings van swak werkers (dís ʼn vermorsing van belastinggeld!)?
Ag CoT, sit sommer jul straatligte en spreiligte bedags ook af, dán alleenlik bewys julle aan ons dat jul ernstig is.

Delia ·

Doen so voort Brink. KB, gee kans. Rome is nie in 1 dag gebou. Immers is daar n ommekeer.

Michael ·

Dit wys jou net sit ‘n bevoegde persoon aan stuur van sake en jy kan net wen.

honeybee ·

Dankie Cilliers, maar kan ons nie nou maar asblike ook kry nie. Moedeloos het ons maar n blik by Westpack gaan koop, net om te hoor jou mense weier om dit leeg te maak. Ons betaal mos maandliks n bedrag vir die diens wat ons nie kry nie.

Cassie Carstens ·

Kleiner probleempies kan deursypel, maar Rome is nie in een dag gebou nie. Dinge is stadigaan besig om reg te kom. ANC het lank gevat om die munisipaliteit op te mors!

Co ·

Ja wat, as ek Cilliers op tv sien, dan kry ek hoop, hoop net meer mense stem teen die anc, eff en pa met die opkomende verkiesing!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.