Tshwane ‘prioritiseer’ waterprobleem  

(Foto: Verskaf / Charlé Raubenheimer Bester)

Die Tshwane-metro sê hy monitor die Garsfontein-reservoir in die ooste van Pretoria en dat meer water vrygestel sal word soos watervlakke in die reservoir verbeter.

Dié vlakke sal na verwagting deur die loop van die dag en Maandagaand verbeter.

Dit is egter nie duidelik wanneer alle geraakte Pretorianers weer lopende water sal hê nie.

Teen Maandagoggend was die Garsfontein-reservoir maar 29% vol, wat ook beteken dat daar nie voldoende water na die Elarduspark-reservoir gepomp kon word nie. Verskeie ander reservoirs in die stad en omliggende gebiede is ook nog nie vol nie.

Kwaai beurtkrag vererger die probleem.

Die metro sê egter dat die probleem geprioritiseer word en dat hy nou saam met Rand Water werk om die watertoevoer so gou moontlik te herstel.

Maroela Media ʼn vroeër berig dat groot dele van Tshwane, veral die ooste van Pretoria, al dae lank sonder water sit ná ʼn kragonderbreking Vrydag by Rand Water se Mapleton-pompstasie.

Die metro het Maandag aangedui dat ʼn groot lekkasie verlede week by Rand Water se pyplyding tussen die Zuikerbosch-watersuiweringsaanleg en die Mapleton-pompstasie ook tot die huidige watertoevoerprobleme bygedra het.

“Die uitgebreide uitdagings wat oor vier dae gestrek het, het beteken dat Tshwane en Rand Water se reservoirs lae watervlakke gehad of leeggeloop het,” het Themba Fosi, die LUR vir openbare dienste en provinsiale bedrywighede, gesê.

Die lekkasie sowel as kragtoevoer by die pompstasie is intussen herstel, hoewel dit nog sowat vyf dae kan neem voordat daar weer water in alle inwoners se krane is – veral dié in hoogliggende gebiede.

“Water vloei sedert Sondag weer na ons reservoirs, maar met hoë waterverbruik gedurende die dag sal dit eers oornag merkwaardig kan herstel.

“Ons het reeds ʼn herstel in watertoevoer na laagliggende gebiede gesien en werk nou om voldoende hoeveelhede by ons reservoirs te kry sodat water ook aan hoogliggende gebiede voorsien kan word.”

Volgens Fosi het die stad intussen watertenks in geraakte gebiede ontplooi.

“Ons vra om verskoning vir die ongerief wat dit vir inwoners veroorsaak en bedank julle vir jul geduld in dié verband.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pierre ·

Kra pale wat val, krane wat leeg loop, baie hartseer maar dankbaar ek het die geleentheid so paar jaar terug gekry om te verhuis.

Althes ·

Ek bid alle genade en sterkte vir Brink Cilliers en sy span. Dit is leiers soos hul wat Tshwane weer op die regte pad sal kry.

Republikein in die Wes Kaap ·

Én almal wat hul rekenings betyds betaal.

Elma ·

En hou tog op dankie sê vir ons geduld. Die land is LANKAL nie meer geduldig nie, glo my.

marius ·

Die hele hool sit met die gemors. Water meters hardloop waneer lug deurblaas maar jy moet betaal daarvoor . Totale verval.

Papsak ·

Niks kom tot n einde nie water krag wat gaan aan laat hulle so mors met die land neuk ekonomie op maar hulle wil regeer kan hulle self nie eers regeer nie

Neestemmer ·

Die amptenare moet maar liewer nie eers dankie se vir ons geduld nie, dis lankal op met hierdie kriminele ANC spul wat regering speel.

Ongelukkig is daar ook nie veel hoop onder die DA nie want hulle is weer deel van die NWO se “unsustainable development” wat vir ons vertel dis die ryk mense met hulle tuine en swembaddens wat die probleem in die Kaap skep, nerens word die regte probleem eers genoem nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.