Tshwane probeer vure doodslaan oor kragvoorstel

Die Rooiwal-kragstasie soos gesien van die R101 (Foto: By JMK, eie werk via Wikimedia Commons)

Randall Williams, uitvoerende burgemeester van Tshwane, sê hy wil graag duidelikheid gee oor ʼn verslag oor die moontlike verhuring van grond vir die vestiging van ʼn alternatiewe kragbron vir Pretoria.

Maroela Media het vroeër berig die verslag, wat Dinsdag voor die raad gedien het, gee die stadsbestuurder toestemming om ʼn openbaredeelnameproses oor die moontlike verhuring van die grond, gedeeltes van die plaas Rooiwal en gedeeltes van die plaas Pretoria-dorp en Townlands 351-JR (waarop twee bestaande ongebruikte kragsentrales geleë is), van stapel te stuur. Lede van die ANC, EFF en ActionSA het egter ʼn reusebohaai opgeskop. Hulle het onder andere beswaar gemaak teen die feit dat daar ook ʼn verslag is van die konsortium wat deur ʼn ongevraagde bod die voorstel vir die ontwikkeling van die biogas-opwekkingseenheid ingedien het.

Williams sê hy wil graag duidelikheid gee oor misleidende inligting deur “opportunistiese opposisiepartye”.

“Die stad het ʼn beleggingsvoorstel van ʼn konsortium ontvang wat graag die grond wou huur waarop die stad se kragstasies staan om gasturbines te installeer. Die projek het die moontlikheid om ʼn bykomende 800 MW tot die stad se kragnetwerk by te voeg.”

Williams sê in die lig van die huidige toename en voortgesette vlakke van beurtkrag deur Eskom, was die voorstel van waarde vir die stad wat betref energie-onafhanklikheid. “Ek het dit as uiters belangrik geag dat die voorstel onder die aandag van inwoners gebring word, om hul insette hieroor te kry.”

Williams sê die beleggingsvoorstel het ook ʼn yslike ekonomiese voordeel ingehou, omdat dit ʼn inspuiting van ongeveer R26 miljard in die stad oor die langtermyn sou beteken.

“Ek wil dit van die begin af duidelik stel dat daar nie enige voorstel op die tafel was vir ʼn tender vir die stad se kragstasies nie. Die stad het dus nie ʼn tender gesoek nie, en dit sluit hoegenaamd nie ʼn tenderproses in wat die stad se finansies in gevaar kan stel nie. Dit is bloot ʼn beleggingsvoorstel wat die stad ontvang het om die stad se grond uit te verhuur en ons wou die publiek se insette hieroor hê.”

Volgens Williams is die kragstasies al sedert 2014 in onbruik. “Dit is steenkoolkragstasies wat al ouer as 70 jaar is. Hulle het stelselmatig verouder en uiteindelik in onbruik verval. Die stad het nie die vereiste finansiering om dit weer aan die gang te kry nie en ons moet opsies ondersoek wat die stad sal help om vorentoe te beweeg wat kragopwekking betref.”

Williams sê die verslag wat hy Dinsdag aan die raad voorgehou het, maar later onttrek het, het baie eenvoudige aanbevelings bevat. “Die eerste was ʼn versoek om die voorstel vir die verhuring van die grond na ons inwoners te neem vir openbare deelname. Dit is deel van die evalueringsproses wanneer die stad sulke voorstelle ontvang. In plaas daarvan dat hulle oor die inhoud van die verslag gesels het, het opposisiepartye soos die ANC en die EFF en ons koalisielid ActionSA gepoog om die saak te verpolitiseer en die leierskap van die stad en myself aan te val met onbewese bewerings van kwaaddoenery.

“As deel van hul smeerveldtog om my integriteit as die uitvoerende burgemeester aan te val, is ʼn geheime klankopname van ʼn interne Tshwane-vergadering versprei. Dit is buite konteks aangehaal met die doel om ʼn politieke smeerveldtog teen my van stapel te stuur.”

Williams sê enigiemand is welkom om na die klank te luister. “Ek het niks om weg te steek nie. Daar was nie enige onwettige opdragte nie. Dit was bloot ʼn vergadering waar daar hewige gesprekke plaasgevind het in ʼn breinstorm-proses om te bepaal watter stappe die stad moet doen wanneer hy beleggingsvoorstelle ontvang. Die ironie van hierdie politieke aanval is dat dit wys hoe deeglik ons was in die gesprekke oor dié beleggingsvoorstel. Die vergadering het verlede jaar in Augustus plaasgevind en was 90 minute lank. Ek en beamptes van verskillende departemente het aan die breinstorm-proses en werkswinkel deelgeneem.”

Williams sê dit het meer as ʼn jaar lank geduur voor dié verslag oor die openbaredeelnameproses aan die raad voorgelê is omdat hy en beamptes breedvoerig die geïdentifiseerde prosesse ondersoek het en wou by die politieke partye ook hul mening kry.

“Dit is baie teleurstellend dat die openbaredeelnameproses oor die verslag nie gister voor die raad kon dien nie en eerder aangeval is deur sommige politieke partye. Veral wanneer die verslag bloot die publiek se insette wil bekom oor die verhuring van die grond.”

Williams sê die verslag is nie ter tafel gelê vir goedkeuring van die verhuring nie en het nie enige wettige of finansiële risiko op die stad geplaas nie.

“As uitvoerende burgemeester bly ek egter ten volle toegewyd om enige oplossing te ondersoek wat ekonomiese groei in ons stad sal bevorder en ons sal help om meer energie-onafhanklik te word om seker te maak beurtkrag kom tot ʼn einde in Tshwane.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

domheks ·

So kan die een nie die son sien skyn oor ‘n ander! More word hy ‘uitgehaal’

Koos 100 ·

Hond eet hond en die inwoners kry die maagpyn. Wys jou net hoe sterk die koalisie is in Pretoria? Lojaliteit is net so lank soos die dikte van ‘n R100 noot!

Martin ·

Die eff en actionsa voer net opdragte van ramaphosa uit hoe anders sal hy en sy swaar duur krag kan verkoop as pretoria dit self opwek herman mashaba is ook in anc kamp

Jack ·

Randall die partye soek jou agter die korrupsie deur. As jou prosesse deursigtig is moet julle voortgaan met die proses. Onthou ook dat die anc en eff slegs voordeel trek as daar geen vooruitgang en deursigtigheid is nie. Staan vas en kry die gemeenskap agter jou. Die volk regeer nie die anc en sy meelopers nie.

Hoekom ·

So sal die ANC en EFF aanhou om alternatiewe krag opwekking in die wiele te ry. Hulle is nie gepla oor die oorsake van krag onderbreukings op die publiek se doen en late nie…Al wat hulle soek en najaag is mag en beheer. Hulle is niks anders as wat oorlopend rondlê in Suid Afrika, gemors, en moet uit mag en beheers posisies uitgehaal word. Die publiek regeer!, nie faksie politiek nie…

Kirst ·

Hier is vandag reeds meer inligting as in gister se berig, waar daar net na ‘n ongevraagde bod/voorstel (unsolicited bid) verwys is. Nasionale Tesourie het streng voorskrifte waaraan voldoen moet word voordat ‘n munisipaliteit ‘n ongevraagde bod mag oorweeg. In gister se berig het dit geklink asof die opposisiepartye nie wou gehad het die metro moet die ongevraagde bod oorweeg nie, omdat dit nie aan NT se voorskrifte voldoen nie.
Volgens die burgemeester in vandag se artikel was dit bloot ‘n aansoek om grond te huur by die metro. Watter regdenkende besigheid sal R26 miljard in gehuurde eiendom stoot? Die ou 99-jaar huurpag bestaan nie meer nie, en daar is nou regulasies waaraan voldoen moet word voor munisipale grond vir langer as 3 jaar verhuur mag word. Selfs na ‘n tenderproses mag dit net vir 9 jaar en 11 maande verhuur word. Dit vat gewoonlik 20 jaar om kapitaal te delg en wins te toon vir kragopwekking. Iets maak nie sin hier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.