Tshwane se burgemeester bedank

Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane, gee terugvoer oor planne om die sukkelende Wonderboom-lughawe reg te ruk. (Foto: Christel Cornelissen)

Stevens Mokgalapa, burgemeester van die beleërde Tshwane-metroraad, het bedank.

“Dit was ʼn moeilike besluit, maar die grootste oorweging was om die inwoners van Tshwane eerste te stel,” het Mokgalapa Sondag gesê.

“My bedanking gaan die weg baan vir verdere voortuitgang wat tot dusver in my termyn gemaak is. Aan die ander kant is ek bewus van die feit dat my teenwoordigheid in die amp ʼn voetbal vir diegene met politieke kwaadwilligheid is wat hulle net nie kan weerstaan om rond te skop nie.

“Diegene wat politiek eerste stel, loop die risiko dat hulle die administrasie saam met hulle gaan aftrek en ongelukkig gee hulle nie oor die mense om nie. Ek [gee] wel [om].”

Die DA en sy koalisievennote, onder wie die VF Plus, klou tans net-net aan die mag in die raad, maar dit lyk na ʼn kwessie van tyd voordat hulle dit verloor. Die ANC in Tshwane is self in die moeilikheid nadat die DA onthul het hy gaan met regsoptrede teen die party begin. Dit omdat soveel ANC-stadsraadslede se handtekeninge vervals is op die aansoek om ʼn stemmery oor ʼn mosie van wantroue in Mokgalapa, die speaker, Katlego Mathebe, en die voorsitter van komitees, Gert Pretorius, in te stel.

Die DA het Mokgalapa vroeër op verpligte verlof geplaas weens bewerings dat hy kollegas ondermyn het en ʼn verhouding met een van die lede van sy burgemeesterskomitee gehad het.

In Desember het die hof beslis die gebeure tydens ʼn raadsvergadering, toe ʼn mosie van wantroue teen Mokgalapa en Mathebe toegestaan is, was onwettig. Die hof het gevolglik besluit dat die twee voorlopig in hul poste moet aanbly.

Nóú is dit die einde van die pad vir Mokgalapa.

Stevens Mokgalapa. Foto: ANA

“Ek wil dit duidelik stel dat ek geen wet oortree het nie en ek is vol vertroue dat ek positief van enige assessering van my optrede sal wegstap. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dit die beste vir die stad is as ek bedank en ek gaan dit dus doen,” het hy gesê.

Mokgalapa het gesê hy sal voor die volgende raadsvergadering, wat aan die einde van Februarie plaasvind, bedank.

John Moodey, die DA se Gautengse leier, het gesê die DA sal nou begin met die proses om ʼn nuwe burgemeester vir Tshwane te benoem. Volgens hom sal die DA ook sy koalisievennote hierin ken.

“Die DA sal ʼn persoon kies wat die grootste vooruitsig op suksesvolle dienslewering vir die res van die termyn kan bied.

“Ons bedank burgemeester Mokgalapa vir sy diens. Ons is bewus van sy talle suksesse, maar aanvaar sy bedanking,” het Moodey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Ek is nie bewus van enige suksesse wat hy behaal het nie. Klagtes per e-pos na sy kantoor was nooit beantwoord nie. Dis tyd vir nuwe bloed in daardie posisie.

charmaine ·

Ek is ook nie bewus van enige suksesse nie, sy mense kan eers regte meterlesings afneem nie of n foon beantwoord nie, did taamlik ONSUKSESVOL! Daai knope span ook maar lekker oor daai magie dik geeet aan beleasting geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.