Tshwane-staking finaal verby

Die staking is deur voorvalle van geweld gekenmerk. (Foto: Tshwane-metro)

Die Tshwane-metro het Vrydag aangekondig dat alle munisipale dienste nou weer volstoom voortgaan.

“Ons is baie bly om te kan aankondig dat die verlammende en onwettige staking, wat net meer as drie maande aangehou het, uiteindelik verby is,” het die metro in ʼn verklaring gesê.

Volgens die metro is alle werknemers weer op hul pos. “Basiese dienslewering is terug na normaal en die meeste agterstande is uit die weg geruim. Dienste soos vullisverwydering en die herstel van elektrisiteit- en watertoevoer het stelselmatig weer na normaal teruggekeer. Hierdie dienste is veral swaar deur die staking geraak.”

Die Tshwane-busdiens, asook klinieke en kliëntedienssentrums werk ook weer ten volle.

Werkers het reeds in Julie begin staak en gevra vir ʼn salarisverhoging, wat die metro meer as R600 miljoen uit die sak sou jaag.

“Ons is baie verlig dat die staking, wat gekenmerk is deur geweld, intimidasie en vernietiging van die metro se eiendom, nou verby is,” het Johann Mettler, die stadsbestuurder, gesê.

Hy sê die metro het ʼn opvangsplan gereed gehad wat “uiters doeltreffend” toegepas is. “Ons gaan voort om ʼn stad te bou wat vir al sy mense werk.”

Tshwane en die werkersvakbonde Imatu en Samwu voer tans samesprekings oor die salarisgeskil wat deur die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) gefasiliteer word. Volgens Mettler vorder die samesprekings goed.

“Die stad wil graag om verskoning vra aan die inwoners en kliënte van die stad vir die ongerief wat deur die gewelddadige staking veroorsaak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Elize ·

Niks is op datum nie. Die verval het gegroei. Die paaie is meer stukkend. In sommige residensiele gebiede in die weste van Pretoria lyk dit soos ‘n ashoop.

Fluisterwind ·

1)”Die stad wil graag om verskoning vra” julle moet eerder ons afslag gee op ons vullis verwydering wat ons vir die duur van die staking uit ons sakke moes betaal.2) “en die meeste agterstande is uit die weg geruim.” Die stad is vuil, ons bly in ‘n ashoop – die agterstand is nie ingehaal voordat al die strate, parkies en velde skoon gemaak is nie!

Kokerboom ·

Kla asb die ANC gespuis aan en hou op om mense met goeie bedoelings wat bloed sweet om die klomp kaders in toom te hou te laat funksioneer. Help liewer asb

Oosieoos ·

Hoop net die wat sabotasie gepleeg het en die wet oortree het gaan strafregtelik vervolg word

Andre ·

Nog ‘n oorwinning vir die A en C!
Shame, die whiteys is so dankbaar .

Marthinus Johannes ·

Julle moet gaan kyk na die vuiles tereine, Berge gemors, plek vir niks. Strast leêrs hang daar round om jou vuiles af te laai teen vergoeding.

Pietertjie ·

Dis verby, maar net tot volgende keer. Niks permanent nie, behalwe die skade.

Kuver ·

Wat n klomp suur knolle , julle kla net, wat moes die munisipaliteit gedoen het…..maar toegegee het aan hierdie klomp se eise. Daar IS al baie die laaste tyd gedoen en ons het die veskil gesien, hierdie mense probeer regtig om alles reg te kry al die klaers moet net n lewe kry….goeie genade!!!

Pietertjie ·

Wat anders moet ons doen? Elke keer juig as ons ‘n paar krummels kry vir die klomp belasting wat ons betaal? Twak, man! Dank die spul stakers af, maak soos Elon Musk en skop die vakbonde by die deur uit, en stel MENSE aan wat na rede kan luister en bereid is om te werk! Maar nee, ons moet mos gewoond raak aan die kommunistiese verval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.