Tshwane terug onder DA-beheer

(Foto: DA/Twitter)

Die Tshwane-metroraad is terug onder die beheer van die DA nadat die hooggeregshof in Pretoria Woensdag die Gautengse LUR se besluit om die raad onder administrasie te plaas, omgekeer het.

Die DA het vroeër dié maand ʼn dringende aansoek gebring om Lebogang Maile, LUR, se besluit om die raad onder administrasie te plaas, ongeldig te laat verklaar. Voordat die saak aangehoor kon word, het Maile boonop die omstrede voormalige ANC-burgemeester Mpho Nawa as administrateur aangestel.

Benewens die tersydestelling van die besluit om die stad onder administrasie te plaas het ʼn volbank regters ook beveel dat alle ANC- en EFF-lede toekomstige raadsvergaderings móét bywoon, tensy hulle ʼn regmatige rede vir hul afwesigheid het.

Die bevel tree in werking vyf dae nadat vlak 5 van die landwye staat van afsondering opgehef is. ʼn Raadsvergadering moet dan gehou word. Suid-Afrika skakel na verwagting Vrydag oor na vlak 4, wanneer verskeie inperkingsmaatreëls verslap word.

Die DA-leier, John Steenhuisen het die hofbeslissing verwelkom.

“In ʼn priemende uitspraak het regter Dunstan Mlambo die skuld vir die wanfunksionele Tshwane-raad vierkant voor die deur van die ANC- en EFF-raadslede geplaas. Omdat hulle aanhoudend uit vergaderings gestap het, was dit vir die raad onmoontlik om sy werk te doen. [Die regter] beklemtoon dat die raadslede hul eie partypolitieke agenda gestel het bo diens aan mense,” het Steenhuisen gesê.

Mlambo was net so krities oor die LUR se optrede – en by verstek die Gautengse uitvoerende raad en premier David Makhura – om dié raadslede voor stok te kry. Die regter het gesê dit sou ʼn meer gepaste roete gewees het om raadslede wat stokkies draai te dwing om hul werk te doen, eerder as om die raad te ontbind.

Steenhuisen sê dis nou tyd dat Maile die trekpas kry.

Die DA oorweeg ook regstappe teen die nasionale raad van provinsies met wie se goedkeuring die besluit geneem is.

“Die uitspraak bevestig wat die DA sê sedert die ontwrigting van die Tshwane-raad begin het: Die besluit om Tshwane onder administrasie te plaas is niks anders nie as ʼn kwalik bedekte poging om ondemokraties te vat wat die ANC by die stembus verloor het.

“Vandag se uitspraak is ʼn groot oorwinning vir demokrasie en ʼn groot terugslag vir diegene wat dit wil ondermyn,” het Steenhuisen gesê.

Hy het gesê die uitspraak gaan alle Suid-Afrikaners voortaan beskerm teen die “ondemokratiese inmenging van ANC-geleide provinsiale regerings”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alida ·

Mooi so dankie tog. Sommige partye wil mos net doen wat hulle wil. Geluk DA.

Fedup ·

So the power struggle for thswane was ended for a while with a little stick? Now the anc and eff is going to have temper tantrums. This is going to be fun.

Rodger17 ·

Weereens n bewys van anc en eff se onbevoegdheid om hul werk te doen.Hul is konstant besig met politiekery en ander duistere agendas buiten om hul werk te doen!Ek is bly dat n volbank regters kon insien hoe anc en eff alles ontwrig vir hul eie politieke gewin!Bloedneus vir anc en malema narre

Jaco ·

Regter word betaal deur dept justisie. Dept justisie word beheer deur die ANC-regering. So eintlik gee die ANC uitspraak ten gunste van die DA en teen die ANC.
Iets maak regtig nie sin nie.

koos10 ·

Mooi, kan julle asb nou die waterlek, wat vir 6 maande al lek, voor my huis kom regmaak? Ek is al moeg om dit te rapporteer.

Tewis ·

Baie geluk DA! Wonderlike nuus ons jubbel saam met julle. DA ????????????

Hennie J ·

Dankie Vader vir n Regbank! Maar ag shame, wat nou van die fat cat kader administrateurs wat moet waai? Hulle base sal seker n ander munisipaliteit teiken sodat daar vir hulle n job is

Sonneblomkind ·

ek is dankbaar vir die DA. ons hooo net daar gaan geen probleem met ander partye wees nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.