Die Tshwane‑metroraad se gewone raadsvergadering geskied Dinsdag aanlyn ná chaos en geweld twee weke gelede by die vorige vergadering uitgebreek het.
Die DA het in aanloop tot die chaotiese vergadering op 31 Augustus vir Mncedi Ndzwanana, die speaker van die raad, versoek om die vergadering eerder aanlyn te hou. Die speaker het dié versoek van die hand gewys.
In die lig hiervan het die VF Plus verlede week in ʼn brief aan die speaker gesê hy het sy plig versuim om die fisieke veiligheid van die raadslede te verseker en opnuut versoek dat vandag se vergadering ter wille van veiligheid aanlyn gehou word.
Ndzwanana het Maandag dié versoek toegestaan.
In die opening van vandag se vergadering het Ndzwanana opgemerk dat “tegnologie [die raad] in staat stel om geweld uit te skakel” en sodoende “vreedsaam te vergader en saam te werk”.
Vrese vir geweld
Raadslede is lankal reeds bekommerd oor hul veiligheid weens opmerkings van die EFF oor die regerende koalisie se hantering van die voortslepende Samwu-staking. Onenigheid broei tussen die ANC en EFF aan die een kant en die koalisie aan die ander kant wat hul voet neergesit het teen die onwettige staking.
Die ANC en EFF het twee weke gelede hul gewelddadige betoog gerig dat afgedankte stakers heraangestel word. Die DA het hierdie versoek beskryf as “ʼn bekragtiging van [die] geweld” wat deur onwettige stakers gepleeg word.

Leier van die VF Plus-koukus in Tshwane, Grandi Theunissen, dien die klagte Maandagoggend in (Foto: Verskaf)
Dubbele kriminele klagte
Die VF Plus het Maandag die twee strafregtelike klagte van aanranding en oortreding van die metroraad se gedragskodes teen 98 ANC- en EFF-raadslede aanhangig gemaak na aanleiding van die vergadering op 31 Augustus.
Volgens die VF Plus het dié raadslede eerstens hul openbare plig versuim om op eerlike en deursigtige wyse in die beste belang van die metro op te tree en met hul openlike steun van die voortslepende onwettige Samwu-staking het die betrokke raadslede ook die gedragskode vir raadslede oortree wat bepaal dat hulle nie by enige arbeidsgeskil of die opsweping van arbeidsgeskille betrokke mag wees nie.
https://x.com/VFplusGP/status/1701190940185051408?s=20
ʼn Oortreding hiervan is ʼn strafregtelike misdaad.
Die DA het op 1 September soortgelyke strafregtelike klagte teen dié raadslede ingedien.
Die ANC en EFF word gedryf deur anargistiese, magspolitiek deur wetteloosheid voor te staan. Vuil en morsige politieke strategie.
Dinge kan enige kant toe swaai, maar ek hou van Cilliers Brink se leierskap. Gee mens hoop dat ons dalk weer eendag wet en orde sal kan beleef. Staan sterk DA, ek is al die pad saam met julle.
Nou hoop ek net die ANC geindoktrineerde hof en strafstelsel hou vy hulle pligte