Tshwane-werker vermoedelik deur stakers geskiet

(Foto: Twitter)

ʼn Lid van ʼn bystandspan van Tshwane-stadsraad se water- en sanitasie-afdeling is Saterdagaand ná sy skof geskiet, vermoedelik deur stakende werkers van die vakbond Samwu.

Selby Bokaba, woordvoerder van die stadsraad, het gesê die bystandspan het in Montana gewerk toe ʼn groep mans hulle geïntimideer en beveel het om op te hou met werk. “Die span het hulle geïgnoreer en voortgegaan om diens te lewer.”

Ná die skof, toe die leier van die span op pad was huis toe, is hy gekaap en geskiet. Hy is na ʼn hospitaal gehaas.

Stadsbestuurder Johann Mettler het die aanval veroordeel en wetstoepassers gemaan om die oortreders van hierdie misdaad aan te keer.

“Hierdie voorval is betreurenswaardig. Ons pleit by wetstoepassers om die verdagtes op te spoor, hulle toe te sluit en die sleutels weg te gooi. Ons sal nie terugdeins teen intimidasie nie. As die oortreders werknemers is, sal hulle uitgeskop word.”

ʼn Paar lede van Samwu is al sowat drie weke besit met ʼn onwettige en onbeskermde staking. Die arbeidshof het die staking onwettig en onbeskermd verklaar. Die munisipaliteit het tot dusver reeds 93 werknemers afgedank wat aan die staking deelgeneem het.

Die munisipaliteit het Vrydag ʼn finale ultimatum uitgereik aan werkers wat aan die staking deelneem, om terug te keer werk toe. As hulle nie sou terugkeer nie, sal hulle afgedank word.

“Die stadsraad hoop dat die werknemers aan die ultimatum sal voldoen en dadelik sal terugkeer werk toe,” het Bokaba bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Die metro moet net voortgaan om onwettige stakers/ terroriste af te dank en mense aanstel wat wil werk,ek lees in Rapport dat ‘n tuinwerker by die metro verdien R 12000 per maand wat wys dat hulle goed betaal word.

efjy ·

Hoeveel ultimatums gaan daar nog uitgereik word voordat die munisipaliteit besef dit werk nie. Voer die eerste ultimatum uit of weerhou julle daarvan om dit uit te reik. Julle slaan julle naam net met ‘n plank en die stakers lag daaroor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.