Tsitsikamma-brand rig miljoene se skade aan

Die restaurant wat afgebrand het. Foto: SANParke

Die restaurant wat afgebrand het. Foto: SANParke

Die skade wat deur ʼn brand in die Tsitsikamma Nasionale Park wes van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap aangerig is, word op miljoene beraam.

Nandi Mgwadlamba, woordvoerder van SANParke, het gesê versekeraars het die Stormsrivier-ruskamp besoek waar die Cattle Baron-restaurant Vrydagaand tot op die grond afgebrand het. Die kamp se winkel het ook in die slag gebly.

“Die aanvanklike skade word op ongeveer R10 miljoen beraam. ʼn Forensiese span is op die toneel om presies vas te stel wat die brand veroorsaak het. Dit het in die restaurant se kombuis ontstaan en deur hele gebou versprei,” het Mgwadlamba gesê.

Sy het gesê die toneel is afgesper en besoekers word nie daar toegelaat nie. Die park se veldwagters en ereveldwagters hou toesig op die perseel.

“Alledaagse bedrywighede by die Stormsrivier-ruskamp gaan egter voort, insluitend wateraktiwiteite, daguitstappies en besoeke aan die rivierkloof. Mense kan ook nou met ʼn ompaadjie na die gewilde hangbrug stap. Daar is elektrisiteit en watertoevoer.”

SANParke het oor die naweek gesê vakansiegangers wat reeds vir die somervakansie plek daar bespreek het, hoef nie bekommerd te wees dat hul vakansieplanne te veel geraak gaan word nie. SANParke het egter besoekers versoek om genoeg van hul eie voedsel daarheen te neem. Besoekers kan ook benodighede op Stormsrivier verkry, wat skaars tien minute van die ruskamp af is.

Daar is reeds begin met planne om tydelike geriewe vir die restaurant en winkel op te rig.

Mense met navrae kan die park se ontvangs by 042 281 1607 bel.

Maroela Media het vroeër berig niemand is in die brand beseer nie. ʼn Helikopter was op bystand om seker te maak dat die brand nie na die ruskamp of woud versprei nie. Drie brand is tot die gebou beperk. Klik hier om foto’s van die voorval te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.