Tugproses teen Ramaphosa-woordvoerder

Pres. Cyril Ramaphosa en Khusela Diko. (Foto: GCIS)

Die presidensie het besluit om ʼn interne tugproses teen Khusela Diko, woordvoerder van die president, van stapel te stuur nadat sy glo versuim het om haar finansiële belange bekend te maak.

Diko is sedert Julie verlede jaar met spesiale verlof nadat sy en haar man, Thandisizwe Diko, hulself midde in ʼn storm oor die toekenning van ʼn Covid-19-tender bevind het.

Die omstredenheid hou verband met ʼn tender wat die Gautengse gesondheidsdepartement vir persoonlike beskermingstoerusting aan Royal Bhaca Projects toegeken en toe gekanselleer het.

Tyrone Seale, waarnemende woordvoerder van Ramaphosa, het Sondag in ’n verklaring gesê die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het tot dusver geen bewyse gekry wat daarop dui dat Khusela betrokke was by die omstrede tender nie.

“Die SOE het wel tydens die ondersoek sy kommer uitgespreek oor Diko se plig om al haar finansiële belange bekend te maak. Op grond van ʼn verwysing van die SOE oor haar versuim om haar finansiële belange bekend te maak, het die presidensie besluit om ʼn interne tugproses teen Diko van stapel te stuur,” het Seale gesê.

Volgens Seale sal die waarnemende direkteur-generaal van die presidensie, Lusanda Mxenge, die tugproses hanteer. Daar sal in die tugproses besluit moet word of Diko se spesiale verlof moet voortduur en of sy formeel geskors moet word hangende die uitkoms van die tugproses.

Seale bly tot verdere kennisgewing aan as die waarnemende woordvoerder van die president.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peetjie ·

Dit vat maar lànk om n tug proses aan die gang te kry….?

Jaco ·

Hoe kry Seale dié lekker job? Wat dan nou van regstellende aksie en BEE?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.