Tuinier bely besonderhede oor vrou se moord

Argieffoto

ʼn 32-jarige man is Dinsdag gevonnis in verband met die moord op Isabella Kruger.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê Jonathan Claassen is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuld beken het op aanklag dat hy by Kruger (77) se huis ingebreek, haar besittings gesteel en haar toe vermoor het.

Hy is skuldig bevind op aanklag van huisbraak met die doel om te steel, roof met verswarende omstandighede, en moord nadat hy ʼn pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het, het Ntabazila verduidelik. “Hy is tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis op aanklag van die huisbraak met die doel om te steel; tien jaar direkte tronkstraf op aanklag van roof met verswarende omstandighede en 25 jaar direkte tronkstraf op aanklag van moord. Die hooggeregshofsitting in die Knysna-landdroshof het beslis dat die vonnisse op aanklag 1 en 2 gelyklopend uitgedien word met aanklag 3. Die beskuldigde sal dus altesaam 25 jaar tronkstraf uitdien.”

Claassen het in die hofdokumente bely dat hy in Maart 2017 vir ʼn tuindienstemaatskappy, Kraaibosch Country Estate, gewerk het. In die vroeë oggendure van 18 Maart 2017 het hy by Kruger se huis ingebreek nadat hy besluit het om iets te steel. Hy het vroeër gedrink en was onder die invloed van tik toe hy ontdek dat hy nie meer geld beskikbaar het nie. Hy het toe besluit om iets te steel wat hy kon verkoop.

Hy het op die landgoed rondgeloop en ʼn oop venster gesien by die oorledene se huis. Hy het haar geken, omdat hy vroeër daar gewerk het. Hy het deur die venster toegang bekom tot die huis en onder een van die beddens in ʼn slaapkamer gaan lê. “Ek kan nie sê waarom ek dit presies gedoen het nie, maar dit was waarskynlik omdat ek onder die invloed van alkohol en tik was. Ek het later opgestaan en die huis begin deursoek. Ek het ʼn skootrekenaar gesteel.

“Ek het toe by die kamer ingegaan waar die oorledene geslaap het en nog items gesoek om te steel. Ek het ʼn handsak en ʼn boks met goue items in die hangkas gevind. Ek het ook ʼn selfoon op die bedkassie gesien, langs die bed waar sy gelê en slaap het. Sy het wakker geword en regop gesit. Ek het gedink sy gaan skree, so ek het haar gegryp en ons het begin worstel.

“My arm was om haar nek en ons het albei geval en sy het haar kop gestamp – ek dink dalk teen die deur van die hangkas. Ons het op die vloer gelê en ek het vir haar gesê sy moet stilbly, terwyl ek haar om haar nek vasgehou het. Ek dink ek het haar styf vasgehou, want sy het baie stil geword. Ek is daar weg en het die items wat ek gevind het in ʼn swart plastieksak gedruk.

“Ek het teruggegaan en probeer om haar by te bring. Ek het haar beweeg, maar daar was geen reaksie nie. Ek het haar na die badkamer geneem en water op haar gesig gespat, maar dit het ook nie gewerk nie. Ek het haar daarna in die bad gesit en water begin intap. Ek het seker ʼn halfuur lank gesukkel om haar by te bring. Ek het besef sy is waarskynlik dood en dat ek moet wegkom,” het hy bely.

Hy is weg van die landgoed en het na Wilderness Heights gery waar hy die gesteelde items (ʼn HP-skootrekenaar, beursie met bankkaarte, identiteitsdokument, mediesefondskaart, winkelkaarte en rybewys, juwelierswareboks met juwele, ʼn Nokia-selfoon, GPS Garmin, motorhuisafstandbeheer, pers juwelierswareboks en motorsleutels) in ʼn bos weggesteek het. Hy het ʼn ongeluk gehad met die motor. Hy het dit verlate gelaat en is na ʼn informele nedersetting om tik en bier te koop met die geld wat hy vir die gesteelde items kon kry. Hy het later sy neef, Jonathan Kerswart gekontak wat hom opgelaai het, het Ntabazalila verduidelik.

Die twee mans wou toe die gesteelde items gaan haal waar hy dit weggesteek het. “Toe ons daar aankom, was daar polisiebeamptes, en ons het net verbygery. Ons het daarna by ʼn vulstasie gaan wag vir die polisie om die toneel te verlaat. Ek het weer tik gerook toe ek in die kar gesit het. Ek het gesien die polisie verlaat die toneel en ons het die items gaan soek. Ek het gesê my neef moet my los, en dat ek hom sal bel as hy my moet kom oplaai.

“Ek het die gesteelde items gekry en my neef gebel. Toe ons na George terugry, het die polisie ons voorgekeer en in hegtenis geneem.”

Ntabazalila het gesê die NVG verwelkom die vonnis.

Maroela Media het vroeër berig ʼn wenk uit die gemeenskap het daartoe gelei dat die twee mans in hegtenis geneem is.

Kruger se dogter het op haar ma se liggaam afgekom. Haar Honda Jazz is later verlate op die Saasveldpad gevind.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê die ondersoekspan het inligting ontvang van ʼn verdagte wat in Kruger se Honda Jazz opgemerk is en toe later weer in ʼn ander voertuig gesien is. “Die polisie het hierdie voertuig opgespoor en voorgekeer. Die motor is deursoek en goedere wat vermoedelik uit Kruger se huis gesteel is, onder meer ʼn skootrekenaar, is in die motor gevind,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sune van Heerden ·

Dagsê Feite

Ek vra om verskoning vir die flater.
Ons het die berig gewysig.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.