Tuinier kry lewenslank vir moord op hoewe

Ralton Koetaan is lewenslange tronkstraf opgelê. (Foto: NVG)

ʼn 34-jarige man is lewenslange tronkstraf opgelê ná die moord op Jean Lombaard (67) op sy kleinhoewe in Rocklands in 2019. Ralton Koetaan, Lombaard se voormalige tuinier, is Dinsdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis.

Maroela Media het vroeër berig dat Koetaan skuldig bevind is aan moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Dít nadat hy beweer het dat Lombaard hom van einde 2018 vir seksuele gunsies betaal het.

Koetaan het Lombaard glo doodgeslaan omdat hy nie betaling ontvang het nadat hy die betrokke dag seksuele gunsies vir Lombaard gedoen het nie.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het ʼn ander tuinier die oggend van 29 April 2019 op Lombaard se liggaam afgekom. Nadat die tuinier opgemerk het dat sy fiets weg is en hy talle kere na Lombaard geroep het, het hy onraad vermoed en die huis binnegegaan.

Hy het Lombaard in die sitkamer aangetref. Sy hande en voete was vasgebind en hy het ʼn kopwond gehad. Lombaard se huis is geplunder en die kluis het oopgestaan.

“ʼn 6.35-kaliber pistool, sowel as die slagoffer se selfoon en ander items is uit die kluis verwyder,” het Naidu gesê.

Die tuinier se fiets is kort daarna by ʼn sakeperseel naby Lombaard se kleinhoewe gevind. Koetaan is later by sy huis in die Tiryville- informele nedersetting in Uitenhage in hegtenis geneem nadat items wat tydens die moord gesteel is, in sy besit gevind is.

Koetaan is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Lombaard, asook 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en 15 jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Hy is verder tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis vir die onwettige besit van ammunisie en drie jaar vir diefstal.

Die vonnisse word uiteenlopend uitgedien, het Naidu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SomeOne ·

‘n goeie vonnis, MAAR, hoe lank is lewenslange vonnis in die geval en dan van die staat

Roedolf Johannes ·

Mooi so ANC 5 Ster verblyf vir nog n misdadiger.Goeie manier om die belasting betaler se geld te mors.Gee hom die regte straf wat hy verdien

jzjz05 ·

Die regte straf vir moodenaars is die doodstraf en nie vry huis,vry kos en klere vry tv en nog baie meer ander voordelle nie.plus geen verantwoordelikhede nie.

Blikkies ·

Ek wil ook weet. Hoe lank is nou Lewenslank in die geval, en sal hy in aanmerking kan kom vir parool as hy n derde van sy vonnis uitgedien het?, so hoe lank gaan hy dan nou binne in die trok wees?

Adri ·

Skrik tronkstraf nog sommige mense af? Is dit nie vir sommige mense die ideale lewe om elke dag, heeldag niks te doen nie en drie maaltye en huisvesting te ontvang nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.