Tuinier red man uit brandende motor

John Manda het Carel van Biljon uit sy brandende motor gered (Foto: Ashraf Hendricks, GroundUp)

Deur Ashraf Hendricks en Thomas Kachere, GroundUp

Tuinier John Manda word as ʼn held geloof nadat hy ʼn man uit ʼn brandende motor in Rooi-els in die Wes-Kaap gered het.

Carel van Biljon, wat die gebruik van sy bene verloor het ná ʼn beroerte, was in die passasiersitplek van sy motor vasgekeer toe die uitlaatpyp aan die brand geslaan het.

Sy vrou Mitzi het hulp gaan soek.

Manda het daar naby gewerk en die donker rookwolk opgemerk. Hy het hom na die toneel gehaas en Van Biljon uit die motor gered.

Carel en Mitzi het die 1997 Mercedes-Benz sowat agt jaar gelede gekoop. Hulle wou “tot die einde van hul lewe” met dié motor ry.

Die egpaar, albei in hul 80’s, was baie lief vir die motor.

Toe Carel egter ongeveer ses maande gelede ʼn beroerte gehad het, kon hy nie meer die motor bestuur nie. Hy moes van ʼn loopring gebruik maak om rond te beweeg.

Die egpaar het verlede week Donderdag besluit om met die motor te gaan ry ná hulle maande lank vasgekluister was weens Carel se toestand. Mitzi het bestuur en hulle het van Somerset-Wes met die skouspelagtige R44 al langs die kus gery na Rooi-els.

Die enjin het skielik onklaar geraak, die motor het gaan staan en rook het uit die kattebak begin borrel. Mitzi het uitgeklim en die kattebak oopgemaak. Sy het gesien vlamme op die uitlaatpyp gesien. Sy het om hulp geskree – Carel was in die motor vasgekeer.

Manda, ʼn immigrant van Malawi, het daar naby in ʼn tuin van een van die huise by Rooi-els gewerk.

Die as wat oor is ná die motor uitgebrand het (Foto: Ashraf Hendricks, GroundUp)

Hy sê hy het ʼn donker rookwolk gesien, sowat 200 meter van waar hy besig was om te werk. Hy het na die toneel toe gehardloop en gesien die motor staan in ligte laaie.

“Ek het ʼn vrou buite die motor gesien. Sy het hulpeloos gelyk. Ek wou weet of alles reg is, maar sy het gesê ‘nee’. Die motor se vensters was toegedraai en slegs die bestuurder se deur was oop. Ek het ingekyk en gesien ʼn man is op die voorste passasiersitplek vasgekeer. Ek glo hy het van die rook ingeasem. God het my die krag gegee. Ek het die deur oopgemaak en hom na buite gedra. Binne ʼn paar minute het nog iemand opgedaag en ons kon hom verder weg skuif.”

Manda sê dit was nie maklik om Carel op te tel nie en hy het self ook van die rook ingeasem.

Brandbestryders is ontbied. Hulle het vinnig opgedaag en die brand geblus.

Manda, oorspronklik van Nkhata Bay aan die oewer van die Malawimeer, is al agt jaar lank in Suid-Afrika. Tragedie het verlede jaar getref toe sy dogter oorlede is. ʼn Deel van sy huis, waar sy vrou woon, is vanjaar deur sikloon Freddy verwoes.

Hy het nie die Van Biljons geken nie. “Ons het almal mekaar nodig. Of jy ryk, arm, opgevoed is of nie, ons moet almal help waar ons kan.”

Carel sê dit het alles baie vinnig gebeur. “Ek is uit die motor gehelp en op die grond neergelê.”

ʼn Inwoner van Rooi-els het die Van Biljons bygestaan, vir hulle tee gegee en ʼn rygeleentheid terug Somerset-Wes toe gereël. Die geliefde Mercedes is afgeskryf, maar Carel leef.

Toe GroundUp Saterdag met Mitzi gesels het, het sy ʼn wonderlike verwikkeling gedeel. Haar man kon op sy eie staan sonder sy loopring. Met oefening, glo sy sy toestand sal verbeter.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Miskruier ·

Dis n ware christen, bereid om sy lewe te gee vir n ander.

WILLEM ·

Ons het mekaar nodig maak nie saak van watter agtergrond nie. Die Here is ons Herder.

Sonblom ·

John Manda, ek het baie respek vir jou. Baie baie dankie vir jou heldedaad. Mag die Here jou ryklik seën.

Amelia ·

Hy sy kind verloor sy vrou n huis en die man wat gered is kan weer staan dink die Here se hand was hier as mens so baie in lewe verloor het kyk mens met ander oe na alles in die lewe dankie dat jy die man gehelp het

Yvonne ·

Lig oorwin die duister…dankie vir die onbaatsugtige daad John

Sandra ·

Ja nee die man is baie braaf en is definitief ‘n Godskind. Dit sit nie in almal se broek om iemand uit ‘n brandende motor te red nie. Ek hoop dit gaan baie beter met hom van nou af in sy lewe vorentoe.

Santie Gildenhuys ·

Op ‘n ligte noot: partykeer kan ‘n bietjie vuur onder die gat jou dwing om daardie volgende stap te neem… Baie lekker goedvoelstorie. In meer as een opsig was hierdie lieflike roete se uitsig asemrowend. .. Vertrou dat ‘n weldoener julle gaan seën met ‘n ander ryding en dat julle die uitstappie weer gaan aanpak!

Lillian ·

Dankie Manda, as jy nie gehelp het nie, was die oom dood.

james ·

pragtig wel gedaan, mag hy iets goeds ontvang uit die hand van Jesus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.