ʼn Tuinier is in hegtenis geneem nadat hy Donderdag glo ʼn vrou en haar motor in Alberton, Gauteng, aan die brand gesteek het.
“Die man (57) is Vrydagaand omstreeks 17:00 in South Crest in hegtenis geneem,” het ao Andre de Jager, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê. “Die man sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.”
Die tuinier was glo kwaad omdat die eienaar hom gevra het om, weens ʼn beweerde drankprobleem, die kamer te ontruim waar hy gebly het. Die vrou, ʼn huurder in dieselfde gebou, was in haar motor toe die tuinier glo petrol oor haar motor gegooi en dit aan die brand gesteek het. Hy het te voet gevlug.
Die vrou is na Unie-hospitaal geneem vir brandwonde aan haar gesig en hande.
Lees ook:
Tuinier steek glo voertuig aan die brand met vrou binne-in