Tuinier weer rowers af

Sers. Enock Khambule en die drie verdagtes. Foto: Verskaf

Sers. Enock Khambule en die drie verdagtes. Foto: Verskaf

Drie “berugte” gewapende rowers het hul rieme styf geloop danksy die flinke optrede van ʼn tuinier.

Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie verdagtes het vroeg Woensdagoggend op ‘n huis in Langenhoven Park, buite Bloemfontein, toegeslaan. Volgens Marope is die rowers eers na ‘n buitegebou waar die 35-jarige tuinier en sy vrou geslaap het. Die rowers het aan die deur geklop en die woonplek binnegestorm toe die tuinier oopmaak. “Die tuinier en sy vrou is met skoenveters vasgebind en met ʼn vuurwapen aangehou.”

Volgens Marope het die verdagtes drie selfone, skoene en ‘n televisie gebuit tydens die rooftog. “Twee van die rowers het hierna na die hoofhuis gegaan, terwyl een rower by die tuinier en sy vrou agtergebly het. Die tuinier kon intussen daarin slaag om homself te bevry waarna ‘n struweling tussen hom en die rower uitgebreek het. Die verdagtes het later gevlug sonder dat hulle daarin kon slaag om toegang tot die hoofhuis te kry.”

Die polisie is onmiddellik ontbied en die verdagtes is kort daarna in Universitasrif in hegtenis geneem waar hulle glo ook besig was om die wet te oortree. “Al die gesteelde goedere is in die verdagtes se besit gevind.”

Die verdagtes, tussen 25 en 36 jaar oud, sal binnekort in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklag van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bly ·

Wonderlik om te hoor daar is betroubare werkers. Hy behoort n belonging te kry.

jp engelbrecht ·

Wens daar kan meer sulke werkers wees wat die hand wat hom voed beskerm

Anne ·

Stem saam maar kom ons kyk ook na hulle en beveilig hulle plekke ook, hier het diemense ingekom nadat hy die deur oopgemaak het. Ons verwag hulle moet na ons kyk, wel in my opinie kom ons kyk ook na hulle deur hulle huisies ook te beveilig soos ons onself beveilig! Daar is juis so min wat deesdae betroubaar is en die man het nog die aanvaller aangevat sonder ‘n wapen ek dink hy verdien dit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.