Tuinier wil glo skuld beken ná moord op bejaarde

Destiny Newberry

Die tuinier wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Destiny Newberry (73) het Maandag weer in die landdroshof in Oberholzer aan die Wes-Rand verskyn.

AO Peter Masooa, woordvoerder van die polisie, het gesê Gibson Zwelakhe Lion (46) het ook Vrydag in die hof verskyn waarna die saak tot gister uitgestel is. Volgens Masooa wil Lion skuld beken. Die saak is tot 11 Junie uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Newberry (73) se liggaam is op 22 Mei naby die Johannesburgse valskermspringklub gevind. Dit is sowat 4 km van die Senatus-aftreeoord in Carletonville waar Newberry gewoon het.

Newberry se liggaam is deur ʼn verbyganger in ʼn oop stuk veld gevind en die polisie is ontbied. Sy is met ʼn stomp voorwerp aangerand en met ʼn mes doodgesteek. Die moordenaar het met Newberry se Chevrolet Spark en handsak gevlug.

Newberry se gesteelde motor is die volgende dag deur die polisie by ʼn huis in Khutsong gevind. Lion het aan die polisie gesê Newberry het die motor vir hom gegee.

Rhonel Barnard, Newberry se dogter, het aan Maroela Media gesê haar ma is vermoedelik in ʼn lokval gelei. Sy het glo die dag van haar moord ʼn oproep gekry van haar tuinier om te vra of sy die man se vrou dorp toe sal neem en is nie weer daarna gesien nie.

Newberry se een dogter is ongeveer vyf jaar gelede oorlede. Haar man is ook oorlede en sy laat Barnard, twee seuns en 10 kleinkinders agter. “Sy het ʼn hart van goud gehad en sou nie eens ʼn vlieg seergemaak het nie. Dit is onmenslik. Wie doen so iets en dan nog aan iemand wat jou gehelp het?” het Barnard vroeër gesê.

Lion het as tuinier vir verskeie inwoners van die Senatus-aftreeoord gewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alma ·

Mens kan niks en niemand meer vertrou nie. En jy moet niemand ook eers meer help nie!

Theresa ·

Moord.
Diefstal en moord met voorbedagte rade as mens vat sy het nog gedink sy gaan hom help.
Lang straf – weereens iemand wat ‘n hulpverlener op grusame manier bedank. Volop in hierdie land van sonskyn…

Kannaland ·

Doen werk self, moet liewer nie meer werk skep nie want dit stel jou bloot.

Lou ·

Ek het my vrou het lank terug reeds besluit om niemand in diens te neem nie. My vrou sien om na die huiswerk en saterdae is dit ek en die tuin. Dit hou my aktief en boonop spaar ons baie geld.

Stokkies ·

Ek stem saam met jou.. maar ongelukkig hier n paar wat gaan se hulle is of te besig om dit self te doen of te oorwerk, maar meeste is net lui. Kan ure voor tv le maar n strykyster of pik sal hulle beslis nie optel, hoekom iets self doen as jy 5-figuur salaris kry en iemand kan betaal om dit te doen

Albaster ·

Ons moet almal julle voorbeeld volg. Ek het ook. Ek doen huiswerk en tuinwerk self en was nog nooit so fiks en gesond soos nou nie.

Annie ·

Dis ‘n aftree – oord waarin sy gebly het. Voor daar klippe gegooi word omdat sy iemand gehad het wat in die tuin gewerk het, is die realiteit dat sy miskien nie meer fisies instaat was om dit self te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.