Tuinroete tevrede oor besige feesgety

Argieffoto (Foto: Anja van de r Merwe)

Die Tuinroete het verlede maand ʼn goeie feestyd beleef met vakansiegangers wat na kusdorpe gestroom het. Dit volg nadat Suid-Afrikaners die vorige feestyd met Jan Tuisbly se karretjie moes ry weens die streng Covid-19-regulasies, waaronder die sluiting van strande.

Volgens die George-munisipaliteit het Wildernis se toerismekantoor altesaam 630 navrae ontvang – 41% hiervan het verband gehou met aktiwiteite wat aangebied word, 35% was oor verblyf en 24% was algemene navrae.

“Die besettingsyfers in die laaste kwartaal van verlede jaar het ʼn opwaartse kurwe getoon. Die voorlopige terugvoer oor Desember is dat die private toerismesektor ’n goeie vakansietyd gehad het,” lui ’n verklaring uitgereik deur die munisipaliteit.

“Vooruitbesprekings dui ook daarop dat akkommodasie-ondernemings ʼn langer vakansietyd as dié van 2020 geniet het.”

Noodgevalle, ongelukke en misdrywe

Volgens die munisipaliteit het lewensredders tydens die vakansietyd altesaam 20 mense gered en 40 mense is uit die see gehelp. Altesaam 70 noodhulpgevalle is aangemeld, waarvan vier per ambulans hospitaal toe vervoer moes word.

Nooddienste is ook besig gehou met nege brande wat in formele strukture en 13 in informele strukture uitgebreek het. Een persoon is dood weens ’n brand wat in ’n informele struktuur uitgebreek het.

Altesaam 38 motorongelukke is aangemeld en 51 beseerdes is behandel. Die ergste ongeluk is aan die begin van Desember aangemeld toe drie jong mense die lewe gelaat het op die N2. Maroela Media het vroeër berig die drie slagoffers was JG Greyling, Stiaan Grobler en Conrad Meiring, drie matriekleerders aan Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal, Limpopo.

Reddingwerkers het op Oujaarsdag agt ure lank gespook om ʼn motor by die Dolphin’s Point-uitkykpunt in Wildernis van ʼn treinspoor te verwyder nadat die bestuurder oor ʼn versperring gejaag en die motor op die spoor beland het. Die bestuurder was egter ongedeerd.

Wetstoepassingsbeamptes het alkohol ter waarde van R20 156 gedurende die vakansietyd van besoekers aan strande gekonfiskeer. ’n Verdere R52 000 se alkohol is verder deur besoekers aan strande self verwyder.

Daar is ook op vuurwerk ter waarde van R25 400 beslag gelê en 25 boetes ter waarde van R59 000 is uitgereik.

Die munisipaliteit se verkeersdienste het aktief alle munisipale gebiede gepatrolleer in samewerking met Wes-Kaapse provinsiale verkeersdienste, onder meer ten opsigte van deelname aan gereelde padblokkades. Verkeersvloei is so goed moontlik bestuur, veral by besige kruisings soos dié by  Garden Route Mall, die afrit na Mosselbaai op Knysnaweg en die lughawe-kruising.

Tydelike padtekens en verkeerskegels is aangebring om voldoende parkering te verseker, om onwettige parkering te voorkom en voertuie na parkeerareas te lei. Aflaai-en-ry-sones is suksesvol in Victoriabaai, Heroldsbaai en Wildernis geïmplementeer.

ʼn Bykomende 30 puntdiens-beamptes het gehelp by besige verkeerskruisings en winkelsentrums, by strande om paaie af te sper, en by aflaai-en-ry-sones. Saam met verkeersopsigters het hulle parkering by die strande bestuur om opeenhoping te vermy, op die N2 gehelp om veilige toegang vir besoekers aan strande te verseker, en oor die algemeen opeenhoping op die Tuinroete te beperk.

Die munisipaliteit sê oorstromings en swaar reënval wat die Tuinroete vroeg in Desember getref het, het tonne rommel in die riviere afgespoel wat die strande bevuil het.

“Ons skoonmaakspanne saam met Working on Fire-spanne het dae lank onophoudelik gewerk om Heroldsbaai, Victoriabaai, Ballotsbaai, Wildernisstrand van Leentjiesklip tot Salina se strand, Gwaingstrand en Kaaimansmond skoon te maak. Meer as 1 300 swart sakke vullis en rommel is in ʼn kort tydjie versamel en in ʼn stadium is ʼn skraper ingebring om te help met die volume rommel wat verwyder moes word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Busy Body ·

Suidkaap is werklik n toerisme mekka. Nie oor wat hul alles bied aan besoekers, maar oor dit wat hulle alles doen om besoekers welkom te laat voel en dinge glad te laat verloop vir besoekers. Besondere dank vir die skoonmaak van die strand.

Marcello ·

Wonder maar net wat het van die R20 156.00 se drank geword wat van besoekers gekonfiskeer is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.