Tuinwerker moet 30 jaar sit vir moord op werkgewer

(Argieffoto: Unsplash)

’n Tuinwerker wat skuld op die moord en roof van sy werkgewer beken het, is deur die hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, tot 30 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis.

Douglas Mataula (35), ’n Zimbabwiese burger, het drie jaar lank as ʼn tuinwerker vir Sharon-Lee Deetlefs (62) gewerk voordat hy haar in Desember verlede jaar in die Prestbury-omgewing in Pietermaritzburg doodgemaak het. Sy het ten tyde van die voorval alleen gewoon.

Mataula het ook op twee aanklagte van huisbraak en diefstal skuldig gepleit.

Natasha Ramkisson-Kara, woorvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, sê Mataula het in sy pleitooreenkoms erken wat op die dag van die moord, asook die voorafgaande dae ontvou het.

“Op 5 Desember het hy geld nodig gehad om aan sy ouma en kind in Zimbabwe te stuur. Hy het gevolglik besluit om by Deetlefs se huis in te breek en televisiestel te steel wat hy vir R500 verkoop het.

“Op 12 Desember het hy besef dat hy geld nodig het om gedurende die feesseisoen te spandeer en wéér na Deetlefs se huis teruggekeer. Deetlefs was nie tuis nie en hy het ingebreek en handdoeke en beddegoed gesteel aangesien hy net toegang tot een vertrek kon verkry. Hy het dit vir R600 verkoop.”

Volgens Ramkisson-Kara het die tuinwerker op 30 Desember vir ’n derde keer na Deetlefs se huis gegaan om taxi-geld te vra. Hy het vir haar gewag, maar besluit om weer in te breek toe sy nie kom nie.

“Hy was in haar huis toe sy daar aankom. Hy het probeer wegkruip, maar toe sy hom sien het sy begin gil. Hy het haar probeer stilmaak deur haar nek te druk, maar haar verwurg toe sy steeds nie haar bewussyn verloor het nie.

“Hy het geld uit haar handsak gesteel, asook ’n DVD-speler, luidsprekers, ’n selfoon, ’n paar skoene en ander waardevolle items voordat hy van die toneel gevlug het.”

Mataula is vier dae later in die Hilton-omgewing in hegtenis geneem waar hy gewerk het. Hy het ook in sy pleitooreenkoms aangedui dat hy skuld op die moord beken en sy volle samewerking aan polisie gegee het.

Adv. Mbongeni Mthembu, senior staatsaanklaer, het ’n slagofferverslag deur Deetlefs se dogter by die hof ingedien. In dié verslag sê die dogter, wie se naam nie genoem word nie, dat sy nie die beelde van die misdaadtoneel uit haar kop kan kry nie. Sy het ook gesê dat sy en haar familielede berading ná die verlies van haar ma moet ontvang.

Luidens die verslag was sy en haar ma baie geheg aanmekaar en het haar ma na baie mense omgesien – insluitend haar [die dogter se] kleuter en bejaarde ouma en oupa.

“Die familie rou steeds aangesien hulle ’n enorme verlies ervaar het.”

Mataula is tot vyf jaar tronkstraf vir elke klagte van huisrbraak en diefstal gevonnis, 25 jaar vir die moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Sommige vonnisse sal samelopend uitgedien word.

“Die NVG verwelkom die vinnige afhandeling van die saak en hoop dat die vonnis berusting aan die families al bring.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Sal mens ooit berusting kry wanneer jou geliefde wreedaardig vermoor is?

Pietertjie

En die tronke word net voller en voller.

Estelle

En as hy haar dalk net een keer gevra het om geld by haar te leen, was dit nie nodig om haar so wreed te vermoor nie.

Dries

Alweer n buitelander.