Tuisonderrig van albei kante bekyk


tuisonderrig-03

Tuisonderrig het verskeie voordele, maar ouers moet ook die uitdagings van hierdie wyse van leer ondersoek. Foto: Homeschooling.urbankid.ro

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks berigte wat Maroela Media in die volgende paar weke oor tuisonderrig publiseer.

Tuisonderrig is ʼn groot verantwoordelikheid en verg selfdissipline en absolute toewyding van die ouers sowel as die kinders. Dit is ʼn geval van alles of niks.” Só sê prof. Rita Niemann, uitvoerende hoof van akademie by Impak Onderwys.

Tuisonderrig is ʼn veelbesproke onderwerp met baie wat vir of teen hierdie manier van leer is, maar kenners is dit eens dat daar voor- én nadele aan tuisonderrig is.

 Koste

Wanneer koste van hoofstroomskole en tuisonderwys vergelyk word, is daar nie noodwendig ʼn klinkklare wenner nie. Volgens Leendert van Oostrum, bestuurder van die Pestalozzi Trust, ’n regsfonds vir tuisonderwys, verskil hoofstroomskole se koste aansienlik van mekaar wat klaar die vergelyking met tuisonderwys bemoeilik.

“Gestel dus ’n mens neem ’n goeie voormalige Model C-skool met ’n goeie matriekslaagsyfer as die norm om tuisonderwys mee te vergelyk. ’n Tipiese skoolfooi sal so tussen R12 000 en R20 000 per jaar wees,” sê hy. “Dit is bietjie meer as sommige van die duurder tuisonderwys-pakkette, maar daar is tuisonderwys-pakkette wat ’n mens veel meer as dit kan kos. Verreweg die meeste tuisskolers in Suid-Afrika betaal egter minder as R12 000 per jaar.”

Volgens Niemann is die koste om by Impak vir tuisonderwys in te skryf tussen die koste van privaatonderrig en voormalige Model C-skole. “Die koste sluit nie bykomende tutor-kostes in nie, maar wel alle materiaal wat nodig is om die graad suksesvol te voltooi,” sê sy.

 Die ontwikkeling van sosiale vaardighede

Niemann en Van Oostrum is albei van mening dat ʼn tekort aan sosiale vaardighede beslis nie ʼn geldige argument teen tuisonderwys is nie. “Dit is bewese twak [dat kinders nie die nodige sosiale vaardighede aanleer indien hulle tuis onderrig word nie],” sê Van Oostrum. “Die konsensus onder navorsers is dat tuisleerlinge se sosiale vaardighede ten minste net so goed en waarskynlik beter is as dié van hul portuur in geïnstitusionaliseerde onderwys.”

Volgens navorsing gedoen deur dr. Richard G Medlin, ’n professor in sielkunde aan die universiteit van Stetson in Florida, glo tuisonderwys-ouers dat hul kinders se sosiale vaardighede net so goed is as die van ander kinders. Medlin noem ook dat tuisskoolleerlinge dikwels hoër kwaliteit vriendskappe en beter verhoudings met hul ouers en ander volwassenes handhaaf, in vergelyking met leerlinge in hoofstroomskole.

Die nasionale tuisonderwysnavorsingsinstituut (NHERI) in die VSA sê dat navorsing aandui dat tuisskoolleerlinge meestal bogemiddeld vaar ten opsigte van sosiale, emosionele en psigologiese ontwikkeling. Hierdie navorsing meet nie net leerlinge se interaksie met hul portuurgroep nie, maar ook onder ander leierseienskappe, selfbeeld en deelname aan gemeenskapsdiens.

Niemann wys daarop dat kinders nie daagliks ure aaneen saam met ander kinders hoef deur te bring om goed gesosialiseer te wees nie. “Trouens, kinders word die beste deur hulle ouers gesosialiseer, nie deur ander kinders nie,” sê sy. “Om tyd met jou kinders deur te bring en hulle te help om sosiaal te ontwikkel is een van die grootste voordele van tuisonderrig. In ’n groot klas is kinders soms onder geweldige druk om soos ander kinders op te tree of aan te trek, voordat hulle die kans kry om hul eie identiteit te ontwikkel. Hulle kry met vyandigheid, bespotting en wedywering te doen wat hul selfbeeld negatief kan beïnvloed. Daarenteen toon tuisonderrigte kinders selfvertroue, selfrespek en ’n begrip van selfwaarde.”

Navorsing deur David W Johnson, verbonde aan die universiteit van Minnesota, toon wel dat konstruktiewe leerling-tot-leerling interaksie ’n noodsaaklikheid vir optimale prestasie, sosialisering en gesonde ontwikkeling is. “Portuurgroep-verhoudings dra by tot die sosialisering van waardes, houdings en die manier waarop die wêreld waargeneem word. Daar is baie bewyse dat portuurgroep-verhoudings van kernbelang is in die sosialisering van die kind en voorsien verwagtinge, modelle en versterkings wat ’n wye verskeidenheid van sosiale gedrag, houdings en perspektiewe vorm.”

Hy noem ook dat leerling-tot-leerling interaksie selfs akademiese resultate kan beïnvloed. Veral wanneer jong leerlinge met swak leervaardighede interaktief met akademies gemotiveerde leerlinge verkeer, kan dit hul akademiese prestasie aansienlik verbeter.

Johnson waarsku egter dat om leerlinge bloot in dieselfde omgewing te plaas en interaksie te laat plaasvind, nie noodwendig positiewe gevolge sal hê nie. Die aard en kwaliteit van die interaksie is belangrik.

tuisonderrig-01

Ouers moet ook die akademiese voor- en nadele van tuisonderrig en hoofstroomonderwys ondersoek voor hulle ‘n besluit oor tuisonderrig maak. Foto: Christianperspective.net

Akademiese voor- en nadele

Volgens Niemann kan tuisonderwys akademiese voordele vir ʼn kind inhou, juis as gevolg van die buigsaamheid ten opsigte van die onderrigtempo en onderrigbenadering vir individuele leerlinge. Begaafde kinders kan vinniger werk, terwyl swakker leerlinge meer tyd aan spesifieke werk kan afstaan totdat hulle dit bemeester. Hul vordering word nie aan bande gelê deur groot klasse en die druk om by die gemiddelde pas van die klas te hou nie.

Is ʼn ouer wat nie ʼn onderwyskwalifikasie het nie egter in staat om ʼn kind tuis te onderrig? Beslis, meen Van Oostrum. “Die persepsie [dat gewone ouers nie behoorlik hul eie kinders kan onderrig nie] is een wat in ’n groot aantal wetenskaplike ondersoeke oor drie dekades getoets is. Tot dusver is daar geen waarheid in dié persepsie gevind nie.”

Hettie Brittz, hoof van Immergroen Ouerskap en self ook ’n tuisskoolouer, sê dat akademie ook nie noodwendig aan punte gemeet hoef te word nie. Volgens Brittz gaan akademiese prestasie nie net oor die memorisering van inligting nie, maar oor inligtingsvaardighede en daarom is ’n blote vergelyking van ’n tuisleerling se punte met dié van ’n hoofstroomleerling nie ’n goeie maatstaf nie.

“Dit help nie ’n kind kan ’n groot klomp inligting memoriseer, maar hy kan nie inligting versamel, verifieer of assimileer nie,” sê sy. “’n Mens moet ook kyk na die kind se verbale en geskrewe vaardighede. Kan hy inligting wat hy versamel het op ’n sinvolle manier aanbied of weergee? Uiteindelik is dit die kinders wat hierdie inligtingsvaardighede het wat op universiteit, wanneer akademiese sukses regtig saak maak, presteer.”

Tuisonderwys is nie noodwendig die ideale oplossing vir alle gesinne nie. “ʼn Ouer wat besluit om ʼn kind te tuisonderrig, moet besef wat die impak van die besluit op die hele huishouding gaan wees, byvoorbeeld die hoeveelheid tyd wat bestee word aan leer en hoe verhoudinge tussen die ouer en kind gaan verander,” sê Niemann. “Soms moet bykomende uitgawes ook aangegaan word, soos vir internettoegang.”

Sy noem verder dat die ouer tuisonderwys met ʼn strategie moet aanpak en in staat moet wees om die nodige leiding en riglyne te stel om vir die kind struktuur te gee. “Daarsonder is optimale akademiese resultate nie moontlik nie.”

Brittz noem dat daar baie hulpmiddels is om tuisskoolouers of ouers wat tuisonderwys oorweeg, by te staan. “Die plek waar ek begin het en waarheen en steeds teruggaan met my vrae is Dynamis Learning. Martie du Plessis, hoof van Dynamis Learning, het jare se kennis van tuisonderwys en was werklik ’n pionier in die veld. Sy verstaan gesinsdinamika, hoe ’n kind se breinprofiel die keuse van kurrikulum kan beïnvloed en sien ʼn groter prentjie as bloot net akademie. Ek sal tuisskoolouers beslis aanbeveel om hier aan te klop vir hulp.”

Bykomende bronne

Besoek www.dynamislearning.co.za.

http://www.nheri.org/research/research-facts-on-homeschooling.html

http://peabody.vanderbilt.edu/faculty/pje/pje_volume_88_issue_3_2013/medlin.php

http://www.jstor.org/discover/10.2307/1175627?sid=21105823013351&uid=70&uid=2&uid=3&uid=2491999473&uid=2491999483&uid=60&uid=2134

  • Hierdie is die eerste artikel in ‘n reeks berigte wat Maroela Media oor tuisonderrig in die volgende paar weke publiseer. Hou Maroela Media dop vir die volgende berig wat handel oor die verskillende leerstyle van kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lizelle ·

Baie dankie vir ‘n goed nagevorsde artikel. Ek wonder net of die raad nie aan alle ouers gegee moet word en dalk eerder so moet lui nie: “‘n Ouer wat besluit oor ‘n kind se onderrig metode (tuis of in ‘n skool) moet besef wat die impak van die besluit op die hele huishouding gaan wees, byvoorbeeld die hoeveelheid tyd wat bestee word aan leer en hoe verhoudinge tussen die ouer en kind gaan verander.”

Leendert van Oostrum ·

Soos ek vir Me Mariné Jacobs verwittig het in my e-pos aan haar op 18 Maart, versoek ek hiermee dat Prof Niemann bewyse verskaf vir haar bewering dat “optimale akademiese resultate” nie moontlik is sonder dat die ouer “struktuur” aan die onderwys gee nie.

Ek versoek dan ook dat Prof Nieman duidelik maak wat sy bedoel met “optimale akademiese resultate” en ook wat sy bedoel met “struktuur”.

Die inligting wat ek WEL op 18 Maart aan Me Jacobs ge-epos het (nadat sy kommentaar gevra het op wat in daardie stadium die “finale” weergawe van die artikel was), is soos volg:

Baie dankie vir jou werk hieraan. Enkele opmerkings:

1. Koste van tuisonderwys

Ek het intussen die resultate opgespoor van die opname wat die Cape Home Educators landwyd gemaak het oor die besteding per kind aan tuisonderwys.

Hulle het gevind dat die gemiddelde besteding R8245 per kind per jaar bedra. Meer as die helfte van die gesinne bestee egter tussen 0 en R6000 per kind per jaar.

2. “Struktuur” in tuisonderwys

Dit is jammer dat jy my nie gevra het oor die kwessie van “struktuur” in tuisonderwys nie. Ek het hierdie aspek reeds amper twintig jaar gelede ondersoek toe ek die eerste M.Ed -graad in Suid-Afrika oor tuisonderwys gedoen het.

Daar is geen wetenskaplike bewyse dat “struktuur” enige wesenlike effek op die akademiese resultate van kinders in tuisonderwys het nie. Dr Brain Ray het hierdie ou bevindinge weer 2010 bevestig in sy navorsing op meer as elfduisend tuisleerders: Tuisleerders wat aan die hand van gestruktureerde onderwysprogramme onderrig word, presteer hoogstend een halwe present beter as tuisleerders wat nooit aangesê word wat of hoe om te leer nie, en dus opgevoed word sonder dat enige “struktuur” op hulle afgedwing word.

Trouens, Ray het ook gevind dat tuisleerders wat met behulp van aangekoopte “voldiens”-programme (soos Impak se produk) onderrig word, geensins beter presteer as leerders wat nie sulke programme gebruik nie.

Esther de Waal ·

Tuisonderwys is inderdaad ʼn groot verantwoordelikheid. Dis net so ʼn groot verantwoordelikheid vir ʼn ouer om te besluit om hulle kind/ers in ʼn skool te plaas. Trouens onderwys in alle vorme, hoofstroomonderwys ingesluit, is ʼn groot verantwoordelikheid. Ek sou egter hoop dat ook openbare onderwys as so ʼn groot verantwoordelikheid gesoen word! As alle rolspelers dit so insien sal ons openbare onderwysstelsel dalk ook beter daaruit sien.
Die koste van tuisonderwys hang werklik af van voorkeure en deeglike vooraf leeswerk aan die kant van die ouer. Moet asseblief nie die aanname maak dat tuisonderwys slegs moontlik – of beter – is met ʼn aangekoopte “pakket” nie!
Ek is dankbaar dat die artikel die wanpersepsie ten opsigte van sosialisering van tuisleerders reg stel. Daar is meer as voldoende navorsing wat bewys dat tuisleerders se sosiale vaardighede, met soos hulle akademiese vordering, ten minste net so goed – en dikwels beter – is as dié van hul portuurgroep in skole. So terloops, daar is net soveel navorsing gedoen wat bevind het dat ouers se kwalifikasies inderdaad nie ʼn bepaler of voorwaarde is vir leerder se akademiese vordering nie.
Ek sou graag meer inligting wou hê oor studies wat bepaal dat slegs gestruktureerde tuisonderwys optimale resultate verseker. Toe ek my navorsing in 2000 gedoen het, was daar wel talle navorsingsverslae wat juis die teendeel bewys het! Ons eie tuisonderwyservaring, wat ook nie gestruktureerd was nie, het ook uitstekende resultate opgelewer.

Ebert Terblanche ·

Goeie dag Esther,

Kan jy dalk vir ons wat uit eie ervaring niks anders as gestruktureerde model-C onderwys ken nie, kortliks uiteensit hoe nie-gestruktureerde tuisonderwys lyk?

Waaruit bestaan ‘n gemiddelde onderrig-dag in hierdie geval vanuit die kind en die ouer se perspektief? Hoe bepaal die ouer of die kind genoegsaam vorder en die nodige vaardighede aanleer ten einde suksesvol te wees in die eindeksamen?

Esther de Waal ·

Hallo Ebert,

Ek gaan my bes probeer om my antwoord bondig te hou – maar moeilik! Ek meen jou benadering sal afhang van wat jou doel is met jou kind se onderwys. Vir ons was die doel om so veel as moontlik te leer. Ons het dus gelees, gelees en nog gelees. Ons het Afrikaans en Engels as tale effe meer gestruktureerd gedoen in die begin. Ons het seker gemaak dat die grondbeginsels van Wiskunde vroeg reeds goed gevestig is. As sy sekere konsepte nie bemeester het nie, het ons die herhaal totdat sy dit deeglik onder die knie gehad het. Dit was vir ons meer sinvol as om te redeneer dat sy 70% vir ‘n toets kry en by implikasie ten minste 30% van die inhoud nie begryp nie, maar steeds aanbeweeg – veral in Wiskunde waar konsepte bou om die aanname dat vorige konsepte reeds goed gevestig is.

Daar was geen vasgestelde “skool-lokaal” of streng rooster nie. Ons het geleer deur te leef. Sommige dae sou ons byvoorbeeld die heeldag aan Wiskunde of Wetenskap bestee eerder as om ons te laat lei deur ‘n horlosie wat bepaal wanneer ons nou na iets anders moet aanbeweeg.

Ons het ook saam huiswerk gedoen (bedoelende huis skoonmaak, kook, ens.), gereis en gemeenskapsdiens gelewer. Ek is ‘n enkelouer en my kind was deel van my werkslewe. Sy het maar saam gegaan as Mamma iewers ‘n referaat lewer of ‘n werkswinkel aanbied. Sy het selfs gehelp met sekere take. So is sy blootgestel aan talle ervaringe – uitstekende leerervarings.

Dis vir my baie belangriker dat my kind eendag haar plek in die samelewing moes volstaan, onafhanklik kan funksioneer en ‘n positiewe bydra in haar omgewing kan maak, as om af te rig vir resultate in ‘n bepaalde eksamen. My kind het wel self op ‘n stadium – redelik vroeg in ons tuisonderwysreis – gevoel sy wil haarself meet teen hoofstroomstandaarde. Sy het ‘n paar toetse afgelê en sonder spesiale voorbereiding besonder goed gevaar. Dit was ook die einde van haar behoefte om haarself in daardie opsig te meet.

Ek hoop dit beantwoord jou vrae. Indien nie, is daar baie waardevolle leesmateriaal oor die onderwerp waarna jy gerus kan kyk.

Leendert van Oostrum ·

Wat Dr De Waal hierbo sê aangaande die verantwoordelikheid van ouers vir die onderwys van hul kinders is inderdaad waar.

Die wetgewer beskou dit so ernstig dat hy in die Kinderwet (Art 18, saamgelees met Art 1) die plig op ouers plaas om te verseker dat die kinders die onderwys kry wat in die beste belang van die kinders is.

En, om die belang hiervan te onderstreep bepaal die Kinderwet verder dat ouers wat versuim om, binne hul vermoë, hul kinders te voorsien van die onderwys wat in die beste belang van die kinders is, skuldig kan wees aan verwaarlosing, waarvoor straf van hoogstens tien jaar en ‘n boete opgelê kan word. Vir die eerste oortreding.

Dus: ouers wat ‘n kind willens en wetens na ‘n skool stuur as tuisonderwys in die beste belang van die kind en binne die vermoë van die ouers is, kan in beginsel bitter swaar gestraf word. So ook ouers wat ‘n kind tuisonderwys gee volgens ‘n bepaalde onderwyspakket, as ‘n ander benadering beduidend beter is vir die kind se behoeftes.

Herman Smith ·

Die opskrif van die artikel is misleidend. Hoe kan daar beweer word dat die saak van al twee kante bekyk word as slegs persone wat by tuisskool betrokke is se menings gelig word?

Hoe lyk tuisskolers se graad 12 resultatevir 2015? Hoe lank moes die leerders wag voordat hulle uitslae bekendgemaak is? Hoe vorder tuisskolers op universiteit?

Esther de Waal ·

Herman, die wat kies om die tradisionele Graad 12 te doen vaar uitstekend. Hulle skryf dikwels ook die NSS en wag dus net so lank soos ander leerders. Sommiges kies om ander eksamens af te lê – vaar gewoonlik ook uitstekend en die wagperiode vir uitslae hang natuurlik af van watter keuses hulle gemaak het. Hulle vorder ook uitstekend op universiteit – lees gerus na daaroor. Sommiges kies om nie hierdie roete te volg nie en vaar ook besonder goed in hulle gekose beroepe.

Deirdré Myburgh ·

Ek het my seun tot Gr. 7 getuisskool m.b.v. Impak se studiemateriaal. Ons het gemiddeld 12 ure per week aan skoolwerk spandeer. Verder het ek alledaagse gebeure en doenigheid as leergeleenthede gebruik. Ek was soms onseker of my kind se standaard reg is omdat ek nie ander kinders het om hom mee te vergelyk nie. Hy is aan die begin van 2015 na Curro Heuwelkruin vir sy Gr. 8 jaar. Sy gemiddeld vir die eerste kwartaal was 89 persent en 95 persent vir wiskunde. Hy het geen probleem met sosialisering nie. Het gou vriende gemaak en word gereeld na partytjies genooi wat vir my wys dat hy deur die groep aanvaar word. Soms wonder ek of dit die regte besluit was om hom na n gewone skool terug te stuur want ons het die tuisskool geweldig geniet. Ek verlang eintlik nou na my kind. Ons het net gedink dat hy makliker toelating sal kry by die universiteit van sy keuse as hy uit n goeie skool kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.